US Woordfees 2015: Kyk God rugby?

  • 0

Met die vinger na bo gee die rugbyheld erkenning vir die pragdrie wat hy so pas gedruk het. Ons dank God vir die Bok-oorwinning, sê die afrigter. Maar intussen raak die skare veel meer opgewonde oor hul span se doen en late as wat hulle ooit oor God of die kerk is. Wat gaan hier aan? Het sport ’n soort afgod geraak?

Wat verraai ons interpretasie van sport oor ons werklike siening van God en geloof? Dit was een van die vrae wat ’n paneel sprekers probeer uitpluis het tydens die “Geloof op die markplein”-gespreksreeks by die US Woordfees.

Dit was een van vier geloofsdiskoerse wat deur die Moederkerk op Stellenbosch aangebied is. Die paneel het bestaan uit twee dominees, Richard van Wyk en Jacques Steenkamp, en ’n oud-Springbokrugbyspeler, Dawie Snyman.

Van Wyk van die NG Moedergemeente op Stellenbosch wou weet wat is die minimum aanvaarbare gebruik hoe iemand sy geloof in die openbaar kan uitdruk. Vir hom is dit nie ’n probleem as ’n sportman een of ander gebaar maak om sy geloof in die openbaar uit te druk nie.

Vir Steenkamp, wat tot onlangs NG predikant van Stellenbosch-Wes-gemeente was, is dit egter ietwat van ’n probleem. “Ek verstaan nie die vingertjie wat boontoe wys nie,” het Steenkamp gesê. Hy voel mens moet baie sensitief wees as jy oor God getuig, wat jy oor hom sê en hoe jy dit sê.

“Wat dink mense wanneer ek ’n vinger na boontoe wys? Hoekom is God so ver?” Hy sê kinders volg dit wat hulle sien na, en volwassenes en sporthelde moet goed nadink wat hulle doen. En wat van die teendeel? Gaan jy ook jou vinger in die lug steek as jy verloor? Steenkamp meen dit is beter om die Here hier uit te hou.

Dawie Snyman se sport- en geloofslewe is duidelik onafskeidbaar inmekaar gevleg. “Ek leef nie in ’n wêreld waar daar debat gevoer word oor die goed nie,” het hy gesê. Vir hom is sy geloofslewe deel van die spel rugby. “As jy die spel reg speel, is daar bepaalde resultate.”

Die gehoor wou weet wat dan as jou span verloor en beteken dit hulle het nie die spel reg gespeel as hulle verloor nie.

“As hulle verloor, moet hulle dit maar self met God uitklaar,” het Snyman gesê. “My rol is om ’n getuie vir die Here te wees ongeag wie wat sê.”

Van Wyk sê diegene wat sê die kerk is besig met beuselagtighede wanneer hulle hieroor praat, mis die punt. Daar is ’n veel dieper vraag agter die vraag of God rugby kyk, het hy gesê. Hy het gesê hy beleef ’n aggressiewe gevoel teen die Christendom. Hy wil niks in ander se kele afdwing nie, maar verwag dat sy standpunte ook gerespekteer word.

Van die deelnemers uit die gehoor het gevoel die manier waarop sekere sportlui hulle geloof uitleef, aanstootlik kan raak. Die tragedie is dat ons maklik sê dáár is God as ons wen, maar die vraag is waar is God as ons verloor? het een van die vraestellers gesê.

Die digter Lina Spies het verklaar dat sy hartstogtelik lief is vir rugby. Sy sê sy is ook ’n gelowige, maar wou weet waarom dit nodig is om God in die domein van rugby in te dra. Sy sê sy ervaar ook ’n ongelooflike ongemak as sy in ’n restaurant sit en mense bid hard om haar voordat hulle eet. “Kan hulle maar nie net hulle koppe laat sak nie?”

Mens kan nie vir rugby bid nie, het sy verklaar. “As God nie ingegryp het tydens die Tweede Wêreldoorlog toe miljoene Jode deur die Duitsers in gaskamers vergas is nie, sal God ook nie by ’n rugbywedstryd ingryp nie. Is dit regtig nodig dat julle getuig op rugbyvelde?” wou sy van Snyman weet.

Van die ander mense wat die diskoers bygewoon het, het gesê hulle het ’n broertjie dood aan iemand soos Bakkies Botha wat die een oomblik op sy knieë val en bid en die volgende oomblik een van sy opponente met die vuis bydam.

Die gesprekleier, Johan van der Merwe, het gesê die vraag is nie of die debat relevant is nie, want die feit dat mense daaroor praat en na die gesprek kom luister, het bewys dat dit wel relevant is.

Hoewel daar meningsverskille was oor die manier waarop gelowiges hulle geloof uitleef, was die sprekers dit eens dat daar respek moet wees vir mekaar se standpunte en dat mense van ander gelowe as die Christengeloof en ongelowiges dieselfde respek verdien as gelowiges.

Johan van der Merwe, Richard van Wyk, Dawie Snyman en Jacques Steenkamp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top