
Watter invloed het fantasie en die magiese op ons samelewing?
Dit is die vraag wat Nadia Marais, fasiliteerder van die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch se diskoersprogram, aan Fanie Viljoen, Nanette van Rooyen en Christof Odendal gestel het.
Fanie en Nanette was, as bekende en bekroonde kinderboekskrywers, ooglopende keuses vir hierdie gesprek, maar die verrassing was Christof, ’n derdejaarstudent wat BSc molekulêre biologie en biotegnologie studeer. Dis baie ver van enige vorm van fantasie of die magiese, maar Christof is ’n veelsydige man; hy is ook voorsitter van Adam Tas, ’n studentevereniging wat Afrikaans as onderrigmedium en ’n kultuur bevorder. En ooglopend is hy ’n man wat baie lees.
![]() |
|
Nanette van Rooyen
|
Fantasie is die maklikste van die twee terme om te verstaan. Dit verwys bloot na die gebruik van ’n goed aktiewe verbeelding om droomwêrelde, die bonatuurlike en onmoontlikhede te skep. Vroeg in die gesprek het die term magiese verbreed na magiese realisme. En dit is ‘n belangrike klemverskuiwing om die vraag van die diskoers reg te verstaan. Om dit te verduidelik is daar verwys na ’n vampier wat uit en uit ’n magiese skepping is met spesifieke karaktereienskappe en maniere van dinge doen. Die HAT noem hom ’n “bloedsuiende nagspook”. Dis die magiese, maar as jy kyk na sy manier van optree en sy skugterheid en sy donker kant, is dit realistiese menslike eienskappe. Siedaar magiese realisme. ’n Verdere voorbeeld is die storie van ’n weerwolf wat verlief raak op ’n mooie meisie.
![]() |
|
Fanie Viljoen
|
Tog was die vraag of dit ’n invloed het op ons samelewing en indien wel, wat is daardie invloed? Baie beslis ja. Dit gaan alles oor ontvlugting. Om te ontsnap van die werklikheid. Om jou van jou eie realiteit los te maak deur vir ’n tydperk in die wêreld van magiese realiteit te verdwyn. Nanette en Fanie het albei na Life of Pi as ’n voorbeeld verwys.
Later het die diskoers sy eie koers geneem en meer op kinderboeke gefokus. Dis nie ’n verrassing met dié twee skrywers nie. En ook nie as jy daaraan dink dat veral kinders vatbaar is vir fantasie en magiese realisme nie. Hulle gaan makliker in daardie wêrelde in.
Die gesprek het geëindig met die vraag of kinders ooit nog lees. Die antwoord is oorweldigend ja, maar net as hulle daarop attent gemaak word. Dit doen die skrywers met gereelde skoolbesoeke wat uiters suksesvol is. Soos Nanette sê: “Jy moet konsert hou daar voor in die saal en hulle vasvang met jou storie se magiese realisme of fantasie. Dan kry hulle jou boek.”
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.



