US Woordfees 2013: Feesdirekteur Dorothea van Zyl se indrukke

  • 2

Die veertiende US Woordfees was nogmaals ’n enorme sukse, met ’n stewige groei net in Computicket-verkope van 13.13% en in geldwaarde meer as 20%. Finale bywoningsyfers word nog bereken, maar daar kan met redelike sekerheid genoem word dat die aantal feesbesoeke (besoekers per venue per keer) 100 000 sal oorskry vanjaar.

Opvallend was hoeveel mense van ver gekom het: van Koeweit, Dubai, Australië (mense wat al vir ’n vierde keer gekom het), Duitsland, Brittanje, Nederland en Vlaandere. Mense het uit die uithoeke van Suid-Afrika en Namibië gekom, met baie uit Pretoria en Johannesburg, die Vrystaat, Noord-, Oos- en natuurlik veral Wes-Kaap.

Daar was ongeveer 1 150 kunstenaars op die Woordfeesprogram betrokke by die meer as 400 opvoerings (die herhalings van die 275 produksies bybereken), saam met ongeveer 100 skrywers en en meer as 100 sprekers by die diskoerse (konserewatief geskat). Altesaam dus meer as 1 350.

Soos genoem, was dit verblydend dat soveel mense uit alle gemeenskappe (ook heelwat studente) – 12 750 mense – die WOW karnaval bygewoon het. Dit was ’n ware gesinsfees. Daar was ook ongeveer 4 000 skoliere, onderwysers en ouers by die WOW Fees wat die hele week aangebied is.

Daar was ook meer as 100 assistente betrokke by die WOW projek en sowat 40 by die Woordfees, altesaam 140 aan wie werk verskaf is tydens die fees. Daarby kom natuurlik nog die mense by die kunsmuseum en ander kunsateljees op die Kunsroete, die assistente by De Vette Mossel, Plataankafee en ander eetplekke op die roete, die 13 restaurante wat deelgeneem het aan die gereg-geveg, mense van die US en die media wat addisioneel betrek is (daar was bv. ook twee joernaliste van Beeld wat verslag kom doen het naas al die mense van Die Burger, die kykNET-, SABC-asook die groot aantal mense wat die Munisipaliteit addisioneel ingespan het om sake glad te laat verloop. Baie gastehuise en ander verblyfplekke het ook uitstekend saamgewerk, soos ook Spier, Neethlingshof en ’n verskeidenheid ander wynplase. Daar was ook drie spanne van verskillende instansies (twee gekoppel aan die US en een van Northlink) wat terugvoering afgeneem het van feesgangers. Die Woordfees het uitgegroei tot ’n enorme goed-geoliede feesmasjien wat die hele dorp betrek.

Ons sal wel voor die volgende fees in gesprek tree met die verkeersdepartement, wat die feesgangers ongelukkig as teenstanders beskou het wat beboet moes word en vertraag moes word in padblokkades, in plaas daarvan om hulle te sien as ’n enorme ekonomiese aanwins vir die dorp en die fees self as een enorme uitstalvenster vir beide die dorp en die Universiteit.

Feesgangers was baie beïndruk met die gladde verloop, asook met die manier waarop die teaters, Boektent, boekverkooptent, Plataankafee e.a. venues ingerig is met die ‘raking’ (trapstellasies), lugverkoeling, ens. Die gevreesde het gebeur deurdat ons Vrydag vir die eerste keer in 14 jaar reën gekry het ’n volle feesdag lank, maar ook dit kon nie die organisasie versteur nie. Die plekke het stampvol gebly. Dit het net ongelukkig ’n groot uitwerking gehad op die getalle vir Vrydag by die WOW K6arnaval, wat 2 uur later eers kon begin weens die vog op die klanktoestelle. Gelukkig was dit ’n pragtige aand by ’n goed-gevulde Spier en ander buitelug-venues.

Sondagaand het die feesdirekteur, Dorothea van Zyl, feesgangers oudergewoonte bedank vir hulle entoesiastiese deelname aan Woordfees 2013 by ’n volgepakte Oude Libertas, asook by ’n stampvol Spier wat daar was  by Theuns Jordaan se eerste Woordfees-optrede.

Die tema vir Woordfees 2014 – die 15de Woordfees – is ook aangekondig. Na aanleiding van die kulkunstenaar Martino se bekende spreuk: ‘Kul jou hier, kul jou daar en siedaar! Is die feestema ‘Siedaar, 15 jaar! Daarby kom ‘kuns hier, kultuur daar’. Feesgangers is uitgenooi om te kom kyk wat die organiseerders volgende jaar uit hulle hoed gaan tower by ’n ware bont kermis van kuns en kultuur.

 

Fotoblad: US Woordfees 2013

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 2

Kommentaar

  • As ek so na die foto's en berigte in die media kyk en luiser, was die sommer 'n reuse sukses. Lank lewe Afrikaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top