US Percussion Duo aangewys as algehele wenner van ATKV-Muziq

  • 0

Tydens ’n glansgeleentheid in Stellenbosch op Saterdagaand, 8 September is die US Percussion Duo aangewys as die algehele wenner van die nasionale  instrumentale klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq. 

ATKV-Muziq, een van Suider Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisies wat onder andere  internasionale  pianis, Ben Schoeman as  algehele wenner opgelewer het, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassiekemusiek in Suid-Afrika.   Dit is ’n nasionale klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15-27 jaar. ’n Totale prysgeld van R106 000 is uitgeloof.

Cherilee Adams (23) en Dylan Tabisher (23) het met perkussie in 2002 onder leiding van Suzette Brits  aan die Hugo Lambrechts Musieksentrum  begin. Tans is beide Meestersgraad (Uitvoerend)- studente aan die Universiteit Stellenbosch met Suzette Brits steeds as hulle leermeester.

Jong volwasse musici vanoor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding in verskeie kategorieë, naamlik  orrel, klavier, strykinstrumente, blaasinstrumente (hout en koperblaas), kamermusiek-ensembles en ander instrumente.

Uit hierdie groep deelnemers is daar 37 musici gekies waarvan 35  musici aan die tweede en derde rondes in Stellenbosch die afgelope paar dae deelgeneem het. Ongelukkig moes 2 kandidate weens persoonlike redes onttrek.

 Die kategoriewenners  wat aan die einde van die tweede ronde aangewys is, was:
  
Klavier:   Richard Rheeder
Orrel:  Hentus van Rooyen
Strykers:  Anna van der Merwe (viool)
Koperblasers:  Ryan Kierman (tromboon)
Houtblasers:  Louisa Theart (fluit)
Ander instrumente:   Cherilee Adams (perkussie)
Kamermusiek-ensembles:  US Percussion Duo

Elke kategoriewenner het R 8 000 ontvang.

’n Bonusprys van R5 000 is toegeken vir die beste vertolking van ’n Suid-Afrikaanse werk tydens die  tweede  ronde van hierdie kompetisie.  Vanjaar is hierdie prys toegeken aan US Percussion Duo vir hulle vertolking van  Papilio  van  P.L. van Dijk. ’n  Bonusprys van R5 000 is ook toegeken vir die beste interpretasie van  ’n  Barok- of ’n Klassieke werk tydens die derde ronde.  Orrelis, Hentus van Rooyen  ontvang hierdie prys  sy vertolking van J.S. Bach se Trio Sonate in G Majeur, I - Vivace.            

Die beoordelaarspaneel het gestaan onder leiding van Arisa Voges, UNISA se Direkteur van die Direktoraat Musiek. Die res van die paneel  het bestaan uit Catherine Foxcroft (Rhodes Universiteit), Liezl-Maret Jacobs (Universiteit van KwaZulu-Natal), Louis van der Watt (Universiteit Stellenbosch) en Brandon Phillips (hooffagotspeler van die Kaapse Filharmoniese Orkes).

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.

Lees ’n onderhoud met die wenners van ATKV-Musiq 2012.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top