US-bestuur, hou tog op grawe

  • 1

Die werk van aktiviste, dokters en prokureurs kom in ’n belangrike opsig ooreen: Hulle druk en voel tot dit seer is, dan weet hulle waar die probleem sit.

Lank reeds is ’n groeiende breë koalisie van Afrikaanssprekers besig om aan die US se bestuur se kil, digte mondering te voel en te karring wat taalsake daar betref, met die hoop dat ’n heftige reaksie sal wys waar die presiese moeilikheid sit.

So is dit toe ook dat die US-bestuur, aldus ’n onbekende maar moedige fluitjieblaser, op Sondag 16 Mei in Rapport bokspring met ’n giftige gekap in die rigting van die breë Afrikaanse koalisie, veral na bruin Afrikaanssprekende leiers en hul organisasies wat ’n leidende rol in die taalstryd ingeneem het. Die US-bestuur blaf glo ook selfvoldaan dat daar ’n komitee aangestel gaan word om die openbare diskoers oor taal aan die universiteit in die bestuur se guns te swaai en sodoende die “fundamentaliste” en “sinistere magte” agter die breë Afrikaanse koalisie teen te werk.

Natuurlik gee die US-bestuur ’n vanieljegegeurde reaksie op Rapport se navrae na afloop van die fluitjieblaser se beweringe. Die bestuur “hanteer in die loop van ’n akademiese jaar verskeie kwessies van openbare en strategiese belang, en [...] elkeen van hierdie kwessies [moet] aan die hand van goeie bestuursprosesse, wat effektiewe kommunikasie insluit, gekoördineer [...] word”.

“Wat betref kommunikasie oor taal, het die raad versoek dat die US sy kommunikasie met alle gemeenskappe van belang – intern en ekstern – moet uitbrei,” spin die bestuur per woordvoerder vroom. “Die doel is om duidelike en sinvolle kommunikasie oor die taalbeleid te verseker. Die universiteit het immers die plig om toe te sien dat sy standpunt oor onder meer meertaligheid, die posisie van Afrikaans, die taalbeleid en die hersiening daarvan gekommunikeer word.”

’n Mens moet hulle seker krediet gee vir dié vlak van tegnokratiese prulspraak. Beide Franz Kafka en George Orwell sou ingenome wees met maskertaal van hierdie kaliber.

Die US-bestuur se verdagmakery van die breë koalisie vir Afrikaans is so voorspelbaar as wat dit ontstellend is.

Ten eerste ruik ’n mens die nare paternalisme in hulle houding oor bruin Afrikaanse organisasies se opstand teen nie-inklusiewe taalpraktyk aan die universiteit. Wat die bestuur noodwendig sê deur te vra “wie agter” onder andere die DAK Netwerk en uitvloeisels van die 9 April-protesoptog sit, is dat hulle nie bereid is om dit eens te oorweeg dat Afrikaanse bruines in staat is om self standpunt in te neem oor iets soos institusionele taalpraktyk nie. Nee, daar moet ’n “sinistere (verregse wit?) mag” agter hierdie spul pandoers en askari’s wees. Die bruines is tog stil-tevrede, al sedert die goeie ou Cape colonial days of yore, of hoe menere? Waaroor sal húlle nou gekwel wees? Húlle is tog só stigtelik in die wit Engelsheid van die voormalige Kaapkolonie in verweef, dan nie? Hierdie meerderwaardige houding, met sy diep wortels in die geskiedenis van Stellenbosch, ontken bruin Afrikaanssprekers se agentskap. Dit is ’n siek verskynsel onder wit “progressiewes” wat uitgewys en op die naam genoem moet word.

Tweedens klink die US-bestuur se knieskopreaksie baie soos ’n narratief uit daardie Groot Vername Demokrasie oorkant die Atlantiese Oseaan, waarvolgens ooglopende dinge soos ’n gevaarlike pandemie, immigrasie of die teenwoordigheid van verbeterde datanetwerke aan die werkinge van ’n skaduagtige poppemeester toegeskryf word. Een wat uit is op James Bond-tipe-wêreldoorheersing of iets dergeliks.

Daar ís nie sinistere boewe nie; daar is bloot ’n voor die hand liggende openbare woede onder die Afrikaanssprekende gemeenskap, en selfs sommige nie-Afrikaanse Wes-Kapenaars, oor wat rondom taal aan die US gebeur. Die breë koalisie vir Afrikaans aan die US word befonds en gerugsteun deur die geld en ondersteuning van hierdie gewone Afrikaanssprekers. Dit is mense wat glo dat hul taaltoekoms afhanklik is van volhoubare toegang tot ’n hoëronderwys- en navorsingsinstelling, een wat Afrikaans vir baie lank as kleinood geag het. Indien die US-bestuur nie die taalkwessie oor die laaste ses jaar as iets onbenulligs afgeskryf het nie, sou die kwessie dalk ’n blote kwessie gebly het. Oor ’n tydperk van ses jaar het die onaangespreekte spanning hieroor egter sodanig opgelaai dat die openbare woede besig is om via die media in hul gesigte te ontplof. Die Kwessie word toe ’n Stryd. Die US-bestuur hoef net meer sensitief vir die taalgemeenskap rondom hul te gewees het, dan sou hulle duidelik die openbare diskoers oor hul agterlike taalhouding kon peil.

Helaas, nee. Die Engels-verslaafde landhere, diknekke en akademiese aristokrate in die US-bestuur kies om halsstarrig vanuit ’n ivoortoring die duiwel agter die brandende Afrikaanse bos te besweer. ’n Beweerde komitee sal nou moet propagandeer en praat namens die terugvegbende in Admin B se raadsale. Ek het ’n paar medetaalstryders Sondagoggend al gevra wat hulle dink die naam van die terugvegkommissariaat sal wees. Iemand stel so ewe Oos-Duitslands voor dat dit Stasi moet heet (vir Stellenbosse Teen-Afrikaansstryders-Inkwisisie), of dalk BSB (Bruinagentskaploosheidsbrigade). Ek hou nogal van Gestapo (Gemeente vir Engelstaligheid teen Afrikaanse Protesorganisasies).

Dit is laastens uiters teleurstellend dat die senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, Leslie van Rooi, blykbaar deel sal vorm van die Admin B-terugvegbende se propagandakomitee. Indien dit die geval is, bewys dit onteenseglik dat die US-bestuur se oggend- en aandpraatjies nie dieselfde is nie. Dr Van Rooi het tydens die rektor en US-bestuur se Menseregtekommissieverhoor op Maandag 10 Mei aan Die Burger vertel hoe hy die betogers en waarnemers van die Beweging 9 April verwelkom. Hy het ook op RSG die Vrydag daarop mooi broodjies teenoor die DAK Netwerk-leier, Danie van Wyk, gebak oor hoe welkom deelnemers aan die taalgesprek is, alles in ’n poging om die US-bestuur as ’n tegemoetkomende luisteraar te laat lyk. Nou vorm hy deel van ’n skaduagtige terugvegspan wat die breë koalisie vir Afrikaans as ’n vyand beskou; een wat “oorlog” maak op die US se reputasie en deur “sinistere magte” befonds word. Dit is vir my sleg om te moet oorweeg dat dr Van Rooi, mits hy nie iets drasties doen om hierdie teenstrydige optrede reg te stel nie, die blywende indruk gewek het dat hy ’n verdagte dubbelspel speel, en dat hy nie deur die breë koalisie vir Afrikaans vertrou kan word nie.

Die US-bestuur probeer hulself regverdig deur te argumenteer dat die universiteit se “institusionele reputasie” op die spel is weens die opstand oor taal. Dit is tyd dat hierdie weerligafleiernarratief afgeskiet word. Niemand betwyfel dit dat die US ’n uitstekende akademiese instelling is nie. Indien nie, sou die breë koalisie vir Afrikaans nie hul tyd gemors het nie. Al wat ons verwag, is dat taaldiskriminasie in leefomgewings soos Minerva Dameskoshuis uitgewis word, dat veeltaligheid in die US-konteks proaktief aangemoedig word en dat die institusionele verknogtheid aan Engelstaligheid end kry. Engelsheid is nie die enigste weg na akademiese uitnemendheid en ’n skitterkampus nie.

Die bestuur van hierdie instelling kies egter om weerligafleiers en strooimanne op te rig. Die nuutste verdagmakery dui wel aan dat die breë koalisie op die regte kwelpunte druk. Ons sal so aanhou, onder die protesvaandel van die Beweging 9 April en al die ander samelopende opstandiges, totdat ’n volhoubare taalbedeling sonder bevoorregting van en oorheersing deur Engels geskep is.

Intussen is ons raad aan die US-bestuur: Sit neer daardie graaf, netnou raak die gat te diep.

Frederik R van Dyk
Sameroeper by die Beweging 9 April / 9 April Movement

  • 1

Kommentaar

  • Theo van der Merwe

    Baie dankie dat jy die valsheid van die US-bestuur so mooi aan die kaak stel, Frederik. Mag geregtigheid seëvier!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top