Die afgelope naweek het ek ’n reuse-reünie bygewoon. Dit was ’n reünie met ’n groep besonderse vriende wat ek lanklaas gesien het. Dit was ook ’n reünie met ’n Kaapse liefde wat destyds vir egbreuk en opskudding in ’n jare lange verhouding gesorg het. Die herontmoeting het by en met Up the Creek (UTC) plaasgevind, en dinge het min of meer soos volg verloop ...
Donderdag
Ek en my medefeesgangers het uit die verlede geleer dat hoe vroeër mense by die soete waters van die Breederivier kom, hoe beter. Daar word links en regs verlof ingesit en die middag net na vyfuur kom die voorste linie van ons feeskommando daar aan. Met inagname van die feit dat die hekke eers drie-uur oopgemaak het, is die kampgronde verbasend vol, met die helfte van die feesterrein wat reeds met tente en jolige Creekers gepak is. Daar word spoedig laer getrek, en dis nie lank voor ons ook met ’n bier in die hand by die verrigtinge inval nie.
Dis UTC se 25ste verjaarsdag, en dit is duidelik dat die organiseerders reg is vir ’n moerse party. My persoonlike hoogtepunt van die aand is Red Huxley, wat soos gewoonlik gat skop met hulle lekker rock ’n roll. Die ouens geniet dit oënskynlik altyd so baie om musiek te maak, en dis bitter aansteeklik. Hulle kondig ’n cover van Black Sabbath se “War Pigs” (saam Laudo Liebenberg) aan: ek is verbaas én effens bekommerd dat hulle nie die pyp gaan kan rook nie. Weet ek veel, want ons word weggeblaas met iets wat die heavy metal-legendes goedkeurend sou laat knik het.
aKING is volgende op die lys. Hulle is crowd pleasers, maar die klankingenieur het hulle miskien plek-plek in die steek gelaat.
Die verjaarsdagpartytjie is behoorlik aan die gang, en dis lekker om te sien dat UTC nie ’n premie plaas op early adopters nie; daar word beslis nie teruggehou totdat die fees volle kapasiteit bereik nie.
Vrydag
Die lekkerste deel van UTC is sonder enige twyfel die Breederivier (ek reken ons herdoop dit na die Blyderivier) en Vrydag kan ons nie vinnig genoeg by die water uitkom nie. Daar word luilekker gekuier, maar die musiek bly meestal in die agtergrond totdat Piet Botha en kie die Creekers in blues kom doop. Die Lyzard Kyngs word opgevolg deur Gerald Clark, wat die lekkerte goed op dreef hou.
UTC se waterverhoog is ’n seën en ’n vloek, want dis bleddie moeilik om daar uit te kom. Ek blameer dít vir die feit dat ek Basson Laubscher misgeloop het. Kyk, ek sal bieg dat ek nie al die shows gesien het wat ek wou nie. Ek het baie goeie musiek gemis, meestal omdat ek te lekker in die water gekuier het. Die musiekfanatikus in my voel skuldig daaroor (calvinisme speel ook dalk ’n rol), maar die res van my is heeltemal cool daarmee, want die “Blyderivier” is die een ding waarop nét UTC aanspraak kan maak – en dit tel vir baie.
Beatenberg lewer ’n besonder lekker vertoning – hulle laat my dink aan Vampire Weekend, maar meer samehangend, en meer oortuigend, aangesien die Afrika-invloed in hulle musiek nie ingedink hoef te word nie. Zebra & Giraffe volg hulle op met ’n noukeurige, byna kliniese vertoning, sonder om emosieloos te wees. Taxi Violence, UTC-veterane, vat die feesgangers middernag toe met een van hulle beste shows wat ek al gesien het.
Saterdag
Die volgende oggend gebeur die slegste ding wat ek my by hierdie fees kan indink: dit reën, en dis allesbehalwe swemweer. Die meeste Creekers hang maar doelloos in die Sedgewicks-tent rond. ’n Ou met ’n bekfluitjie en kitaar betree die verhoog. Dit is Riaan Smit,1 die man wat my Saterdag gered en my fees gemaak het. Rian probéér nie kitaar speel nie, en sy growwe blues-stem beweeg moeiteloos van melodieuse crooning na ’n oorverdowende, maar ewe harmonieuse, brul. Nie lank nie of Chris van der Walt van Black Cat Bones sluit met baskitaar by hom aan. Hierdie impromptu samesweerdery is toe op die einde van die naweek vir my miskien die beste shows wat ek gesien het, en herinner my daaraan dat UTC benewens die utopiese ligging ook met van die beste (en mees aangename) musikante in Suid-Afrika spog. Die volgepakte tent bars uit sy nate, en daar is geen twyfel dat elke teenwoordige later by Crimson House Blues, Riaan se band, se verhoog sal wees nie.
Daar is nie gevaar van herhaling nie, want Crimson House is ’n perd van ’n ganse ander kleur. Met alles van banjo’s, ’n saksofoon en tuba tot ’n gasoptrede deur Ann Jangle, word die vuur wat vroeër die oggend aangesteek is, behoorlik verder aangeblaas. Die gees is so groot dat die weer skoon ooptrek en dis weer af water toe.
Vroegaand word Crimson House se goue draad deur Nomadic Orchestra se blaasbende verder gevat. Hulle stel nooit teleur nie, maar soos met al die ander bands is dit asof daar hier iets in die water is wat almal tot ekstra hoogtes aanspoor. Later lyk die KwaZulu-Natalse maskhandagroep Qadasi ten minste aanvanklik effens ongemaklik op die verhoog, maar die skare dans ’n kishou en sorg vir nog ’n eg Suid-Afrikaanse hoogtepunt.
December Streets, die immergewilde Shortstraw en Hot Water sorg dat niemand momentum verloor nie. Teen hierdie tyd het die UTC-viering ’n frenetiese punt bereik, en ’n hoër piek kan daar sekerlik nie wees nie. Die feesorganiseerders het egter nog ’n laaste kaart te speel. ’n Moerse vuurwerkvertoning en die aardskuddende blues rock van die Black Cat Bones laat die damwalle uiteindelik bars.
Nabetragting
Met die volgende dag se bestekopname spreek ons almal die verbasing uit dat mens ná so ’n helse gefuifery uitgerus kan voel; en tog is dit presies die geval. Ek wil my verstout om te sê dat die kwaliteitproduksie, begaafde en begeesterde musikante en onverbeterlike gees UTC die lekkerste fees in die land maak; die feit dat dit net die regte grootte is – en met integriteit so gehou word – en daai rivier het waarskynlik ook iets daarmee te doen ...
1 As dit nie juis UTC was nie, sou ek miskien ’n resensie oor hom eerder as die fees geskryf het. Hy het op die dag ten minste drie keer die wit waks uit ’n verhoog gejam.





