In 2005 het ek ’n ernstige verhouding begin. Sy was heelwat ouer en meer ervare as ek. Aards en wild, sou party mense sê. Ek was hiperentoesiasties, byna oorgretig. Smoorverlief. Sewe jaar later staan ons nog sterk. Sy was al so goed vir my, het soveel van haar oorvloed met my gedeel. Ek het baie dinge by haar geleer, die raarste, malste, mooiste dinge by haar gesien. Sy het my horisonne verbreed, my aan verrykende mense en klanke bekendgestel wat my andersins nooit sou bereik het nie. Haar naam was Oppikoppi en ons het gedans dat die stof staan ...
Vandag moet ek ’n erkentenis maak – een waaroor ek net hálf skuldig voel. Daar is iemand anders. Iemand jonger, mooier, beslis sagter. Iemand wat oorvloedig met haar liefde is en my so gemaklik en gelukkig as moontlik wil maak. Iemand wat my weer saam met ou-ou, bitter geliefde vriende uit my jongdae laat kuier het. Haar naam is Up the Creek, en sy is wonderlik.
Ek ontmoet haar Vrydag-laatmiddag by haar huis op die Breederivier. Hier is heelwat mense wat hier kom kuier, maar dit lyk darem nie asof dit ’n vertrapping sal wees nie. (Iets wat tog een of twee keer by my eks se plek gebeur het.) Op pad hierheen het ek onbeskaamd by my vriende gespog met my ervaring, die sewe jare wat ek al saam my (toe) geliefde spandeer het.
Terwyl ons die blyplek vir die naweek regkry, besef ek met ’n ontnugterende skok dat ek my opblaasmatras by die huis vergeet het. Vanaand slaap ek op Up the Creek se grond. Ek lag dit af – ek het dit ook die jaar gedoen toe ek Oppi ontmoet het, en al is dit nie ideaal nie, sal ek dit op die ken vat. ’n Paar biere later is alle probleme vergete en stap ek met berekende opgewondenheid om met van my ou skoolmaats herenig te word.

Kyk my mooi meisie se mooi blyplek.
Foto: Lupa Photography
Ek en die Springbok Nude Girls was goed bevriend gewees op hoërskool. Hulle was beslis dié cool kids gewees en ek het dae aaneen na hulle geluister, verbaas daardeur dat plaaslike, Suid-Afrikaanse outjies sulke rock kon maak. Nou, soveel jaar later, wonder ek of hulle nog dieselfde gaan wees, of ek nie dalk so verleë gaan wees dat hulle al my herinneringe ongedaan maak nie. Alles behalwe. Ons herontmoeting is ’n ontploffing van nostalgiese energie. Ek dans my gedaan aan musiek wat met ervare soomloosheid en met dieselfde oortuiging as van ’n dekade gelede uitgedreun word – dankbaar dat hierdie ou hande by hulle prehiaat-repertoire bly.
Na my hereniging met die Nudies brand daar ’n vuur van genoegdoening in my. ’n Baie aangename kennismaking met Red Huxley blaas dié witwarm aan. Ek weet nie of voorsanger Dylan Jones om dieselfde redes van musikale bevrediging so eufories soos ek is nie, maar sy gatswaai-entoesiasme is aansteeklik. Die volgende oggend weet ek niks daarvan dat ek op die grond geslaap het nie; dit kon net sowel wolke gewees het.
Eers Saterdagmôre kry ek werklik geleentheid om Up the Creek se skoonheid in te neem. ’n Mens moet natuurlik nooit slegs op voorkoms oordeel nie, en my vinnig verdwynende eerste liefde het beslis ’n estetiese bekoring van haar eie, maar hier is ’n fris, vietse skoonheid wat baie aanloklik is.
Die oomblik wat ek en my kampmaats met ons koelboks bier en opblaasmatrasse in die Breederivier sak, besef ek hoe ernstig die verleiding is. Die verhoog op die water met honderde Up the Creatures wat op ’n verskeidenheid flotillas van elke kleur en geur in die water kuier en dans (bands soos Grassy Sparks, Beach Party, Al Bairre en ander sorg vir uiters gepaste begeleiding) is ’n onbeskryflike lekkerte.1

Kyk net daar! #creeking
Foto: Lupa Photography
Daglig word op die water geslyt; ek mis ’n paar kunstenaars wat ek wou sien (oa Matthew Mole en Runaway Train Cult – volgens vriend Henry kan ek veral spyt wees dat ek laasgenoemde misgeloop het), maar die rivier se omhelsing sorg dat ek nie eers kan sleg voel daaroor nie.
Laatmiddag begin die water tog stadigaan stiller word. Dosyne mense voel duidelik geen lojaliteit teenoor hulle vaartuie nie en los dié net so om ouerloos rond te dobber. Die liewe Up the Creek se kruik loop oor; vanaand hou ’n geërfde lilo my van die grond af.
ShortStraw sorg dat ek uiteindelik met ’n vaart uit die water kom. Daarna maak Hot Water en Desmond & the Tutus seker dat niemand momentum verloor nie. Die groot gunstelinge Black Cat Bones blaas die gehoor – vir seker vir my – oudergewoonte met hulle mal-harde blues rock uit die water. Kyk, hulle het nie verniet ’n MK Award vir Best Live Act gewen nie. Trouens, as hulle só aanhou, wonder ek wie dit ooit by hulle sal kan wegvat.
In een opsig is Taxi Violence hierdie naweek die headlining band. Hulle vier hulle tiende bestaansjaar en hulle sewende jaar by Up the Creek. Enigiemand sou sy/haar hoed hiervoor moet afhaal, veral binne die konteks van die plaaslike musiekbedryf. Soos mens sou verwag, gee hulle ook ’n noemenswaardige vertoning (George van der Spuy prewel/skree so ‘n paar keer iets van “Sattan”, maar all in all is dit ’n lekker, koherente show).

Groot meesters – Black Cat Bones en Taxi Violence, onderskeidelik.
Foto: Lupa Photography
Sondag bederf Up the Creek my weer met haar stroom. Ek besef weer eens hoe gemaklik en vergewensgesind haar boesem in vergelyking met my ou Bosveldliefde s’n is en dryf gou-gou die naweek se ooreising af. Waar ek eens na so ‘n naweek sou swaargekry het, droog, dor en vuil uit die stryd sou getree het, is hier waters van rus wat my verfris terug huis toe stuur. Stoom behoorlik afgeblaas. (Ek kan nie onthou wanneer laas ek so lekker of baie gedans het nie.)
Ek sal in Augustus vir Oppi gaan verduidelik waarom ek nou my liefde vir ’n ander verklaar. Intussen kan Up the Creek maar weet dat ek die dae tel totdat ek haar weer kan sien.
1 Full disclosure: Ek skryf hierdie resensie geheel en al teen my wil. As dit van my afgehang het, het ek die ongelooflike plesier wat Up the Creek is, vir myself, en die res wat reeds weet, gehou. Sodat sy so perfek kan bly soos wat sy is en nooit hoef te voel sy moet “groter en beter” raak of meer kuiergaste akkommodeer nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

