Die universiteitswese en moedertaalonderrig: regverdige grondwetlik-gefundeerde aansprake

  • 6

Toespraak deur dr JC Heunis, president van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch en stigterslid van Gelyke Kanse, by geleentheid van die FAK-konferensie te Pretoria aangaande die universiteitswese, transformasie en dekolonialisering: Wat kan ons verwag?

 

Geagte dames en here,

Dit is wat dit vir my beteken om Afrikaans te wees: om deel te wees van 'n unieke vermenging en saam-andersword van mense uit allerhande stande en agtergronde en oorde, met 'n taal wat dien as kosbare draad in die weefsel van ons gesamentlike Suid-Afrikaanse jas teen die koue van menswees. (Breyten Breytenbach, 2016)

Indien die feit dat vier Suid-Afrikaanse universiteite binne die bestek van 'n jaar Afrikaans se status as primêre taal van onderrig saam met Engels beëindig het en dat nie een van die vier 'n betekenisvolle verbintenis aangegaan het tot die daadwerklike bevordering van 'n ander inheemse taal as wetenskap- en akademiese taal nie, gelate deur die publiek, en veral Afrikaanssprekendes, aanvaar gaan word, dan is die land in 'n grondwetlike krisis.

Dan is hy in 'n grondwetlike krisis omdat die nasie, soos die regering, daarmee dan ook sê dat die Grondwet nie die papier werd is waarop dit geskryf staan nie.

Dié besluite het implikasies, nie net vir Afrikaans nie, maar vir al die ander inheemse tale en vir die status van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en besonderlik die Handves van Fundamentele Regte.

Woorde het betekenis.

Die woorde van die Grondwet wat daarop ingestel is om 'n vreedsame oorgang te verseker van 'n politieke bedeling wat die mense van hierdie land verdeel, verneder en beskaam het, na een waar die soewereiniteit van die reg en fundamentele regte die boustene van 'n ten volle demokratiese bestel is, het betekenis.

Die woorde van artikel 6(2) van die Grondwet wat bepaal dat in die lig van die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, die staat praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van dié tale te verhoog en hulle gebruik te bevorder, het betekenis. 

Die gebiedende woorde van artikel 6(4) dat alle amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word, het betekenis.

As ons nou, twintig jaar na die inwerkingtreding van hierdie Grondwet, na die Suid-Afrikaanse landskap kyk dan dring die vraag homself op: Wat het geword van hierdie ondernemings?

Wat het geword van hierdie ondernemings wat volledig in pas is met die gevolgtrekkings oor byvoorbeeld die pedagogiese, kulturele en sosio-ekonomiese waarde van moedertaalonderrig soos wat dit aan die orde gestel word in Unesco se 2010-studie:  "Why and how Africa should invest in African languages and multi-lingual education"?

Was hierdie ondernemings ernstig bejeën deur die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings; deur burgerlike organisasies en die burgerlike samelewing; deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad; deur die mense?

Was daar gevolg aan gegee?  Het mense erns gemaak daarmee?

Op die veronderstelling dat hierdie woorde in 1996 betekenis gehad het, het hulle dit steeds?

Beteken die realiteit van die Suid-Afrikaanse landskap, wat hierdie edele voorneme grootliks tot leuen maak, onteenseglik en onomwonde dat hierdie woorde dalk veronderstel was om betekenis te hê toe hulle verorden is, maar omdat niks gedoen is gedurende twee dekades om dit te implementeer nie, dit kwalik nou nog enige betekenis het?

Moet ons sê dat omdat die regering, staatsorgane soos universiteite, instellings van die burgerlike samelewing, die nasie, nie gevolg gegee het aan hierdie gebiedende bepalings nie, hulle nou onherroeplik betekenisloos geword het?

Meer nog, gaan ons toekyk dat selfs 'n taal wat volwaardige akademiese en wetenskapstatus het, dit ontneem word soos wat toegelaat is dat hierdie grondwetlike bepalings feitlik betekenisloos geword het.  Goddank dat dit regtens nie 'n opsie is nie.  Dat dit nie 'n weg is wat die howe kan volg nie.

Die woorde van artikel 9, dat elkeen gelyk is voor die reg en die reg het op gelyke beskerming en voordeel daarvan, het betekenis.  Die woorde van artikel 10, dat elkeen ingebore waardigheid het en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word, het betekenis.

Die woorde van artikel 30, dat elkeen die reg het om die taal van sy keuse te gebruik, het betekenis.

Die woorde van artikel 31, dat mense wat aan taalgemeenskappe behoort, nie die reg ontsê mag word om, saam met ander lede van daardie taalgemeenskap, hulle taal te gebruik nie, het betekenis.

Die woorde van artikel 29(2) van die Grondwet het ook betekenis.  Dit is 'n bepaling in twee sinne en in twee dele.

Die eerste gee uitdrukking aan 'n fundamentele mensereg dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.

Hierdie reg het net een interne kwalifikasie: dat dit redelikerwys doenlik moet wees.  Dit is al.  Dit kan kwalik geloofwaardig geargumenteer word dat dit nie redelikerwys doenlik is om onderrig aan die Universiteit Stellenbosch in Afrikaans aan te bied op gelyke grondslag met Engels nie.

Die tweede sin, wat die tweede deel in sy geheel verwoord, kwalifiseer nie hierdie reg nie. Dit maak voorsiening, in nie-uitputtende terminologie, vir wat die staat in ag moet neem om doeltreffende toegang tot, en verwesenliking van, hierdie reg te verseker.

Die woorde van artikel 29(2) het betekenis ongeag byvoorbeeld die feit dat Engels beskou word as 'n internasionale taal, 'n paspoort tot meer en beter geleenthede, tot groter rykdom, tot groter reserwes van kennis en inligting, tot 'n groter internasionale gemeenskap en meer gemeenskappe.

Dit verwoord 'n reg wat ingegee word deur fundamentele waarhede, deur feite waaroor daar geen ruimte vir twis is nie:

  • Akademiese uitnemendheid word hoofsaaklik deur moedertaal-onderrig op alle vlakke van onderrig bereik .
  • Moedertaalonderrig in 'n taal anders as Engels, of enige ander sogenaamde internasionale taal, is nie 'n beletsel tot deelname aan die internasionale verkeer nie, of dit nou die akademiese verkeer is, ekonomiese verkeer, politieke verkeer of sosiale verkeer. Dit maak dit juis moontlik en beter want dit bevorder uitnemendheid.
  • 'n Mens se vermoë om betekenisvol deel te wees van en deel te neem aan byvoorbeeld jou gekose beroepsveld, of dit nou betrekking het op die versameling of deel van kennis of inligting of al twee, word grootliks bepaal deur hoe goed jy dit beheers, wat op sy beurt bepaal word deur die taal waarin jy gestudeer het.

Die woorde van artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys wat universiteite gebied om hul taalbeleide te bepaal behoudens die beleid wat die Minister van Onderwys vasgestel het, het betekenis.

Dit beteken dat die taalbeleid van 'n universiteit in pas moet wees met die ministeriële beleid wat die status van 'n wet het.

As 'n mens kyk na wat vanjaar gebeur het sal jy dit nie sê nie, maar die volgende bepalings van die ministeriële beleid vind dus toepassing op 'n universiteit wanneer hy sy taalbeleid formuleer:

  • Met betrekking tot tale van onderrig: "The Ministry acknowledges the current position of English and Afrikaans as the dominant languages of instruction in higher education and believes that in the light of practical and other considerations it will be necessary to work within the confines of the status quo until such time as other South African languages have been developed to a level where they may be used in higher education functions."
  • Waar dit sê: "The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource. It, therefore, fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded."
  • Waar dit sê: "The Ministry agrees with the Rectors of the Historically Afrikaans Universities that the sustained development of Afrikaans should not be the responsibility of only some of the universities."
  • Waar dit sê: "The Ministry is of the view that the sustainability of Afrikaans as a medium of academic expression and communication could be ensured to arrange a strategy, including the adoption of parallel and dual medium options, which would on the one hand cater for the needs of Afrikaans language speakers and, on the other, ensure that language of instruction is not a barrier to access and success.  In this regard, the Ministry will, in consultation with the Historically Afrikaans medium institutions, examine the feasibility of different strategies, including the use of Afrikaans as a primary but not a sole medium of instruction."
  • En waar dit sê: "All higher education institutions are required to develop their own language policy subject to the above policy framework, which should be submitted to the Minister by 31 March 2003.  The Ministry will continue to monitor the impact of language policy in higher education."

Volgens die opsomming van die ministeriële beleid is die raamwerk waaraan hierdie beginsels ontleen word ontwerp om veeltaligheid, billikheid en toegang in hoër onderrig te bevorder, onder meer deur:

  • die ontwikkeling, op medium tot lang termyn, van al Suid-Afrika se tale as tale van hoër onderrig, langs Afrikaans en Engels
  • die behoud en uitbouing van Afrikaans as 'n taal van geleerdheid en wetenskap.

As u in gedagte hou dat daar ses-en-twintig universiteite in Suid-Afrika is; dat Zoeloe die moedertaal van die meeste Suid-Afrikaners is; dat Xhosa die moedertaal van die tweede meeste Suid-Afrikaners is; dat Afrikaans die moedertaal van die derde meeste Suid-Afrikaners is en dat die meeste van hulle voorheen agtergesteldes is; dat daar geen universiteit is waar Zoeloe 'n primêre taal van onderrig is nie; dat daar geen universiteit is waar Xhosa 'n primêre taal van onderrig is nie; dat vier universiteite binne die bestek van een jaar Afrikaans se status as primêre taal van onderrig beëindig het, dan sê ek dat as ons hieraan niks gaan doen nie, dan is ons in 'n grondwetlike krisis.

Aan die een kant word die grondwetlike opdrag om inheemse tale, anders as Afrikaans, tot wetenskapstale te ontwikkel, roekeloos verontagsaam.

Aan die ander kant word die opdrag om Afrikaans se status as akademiese taal uit te bou, eweneens verontagsaam. Dit gaan, in die woorde van die Konstitusionele Hof, lei tot die "equality of the graveyard, not of the vineyard".

Dit het implikasies vir meer as die tale; dit het implikasies vir gemeenskapsontwikkeling; dit het implikasies vir die kwaliteit van onderrig; dit het implikasies vir die ekonomie; dit het implikasies vir ons geloof in die waardes wat onderliggend is aan ons Grondwet, en omdat dit so is, het dit implikasies vir ons politieke stelsel.

Die taal wat mens praat het op aarde niks te doen met of mense, individueel of kollektief, inherent goed of boos is nie; of mense hul lewens inrig op so 'n wyse dat dit in pas is met die norme en standaarde wat die beskawing van vandag behoort te onderskei van die donker eeue van gister nie. 

Dit het niks te doen met die politieke keuses wat hulle vir hulself maak en wat hulle dalk by magte is om aan ander op te dring nie.

Verslawing en onderdrukking, soos bevryding en opheffing, is nie die funksies van 'n taal nie – dit is die funksies van mense – goed en sleg, ongeag die taal wat hulle praat.

Vir sover dit nog steeds dien as motivering vir wat by ons universiteite aangaan, is dit gek om wat histories skeefgeloop het, voor die deur van 'n taal te lê en dit daarom nie te praat nie; of ander sprekers daarvan te verbied om dit te praat; of andere die geleentheid te ontneem om daarin onderrig te ontvang.

Kom ons werk met die hipotese dat Afrikaans die taal van onderdrukking was.

  • Was Engels dit nie?
  • Was Duits dit nie?
  • Was Portugees dit nie?
  • Was Spaans dit nie?

Maar dit was ook die taal van verset en opstand, van boetedoening en van bevryding.

'n Mens kan nie wraak neem op 'n taal nie; jy kan wraak neem op mense; en jy sou kon wraak neem op mense deur hulle die geleentheid te ontneem om onderrig in hul moedertaal te ontvang.

Maar of jy nou die regering van die dag is, of professionele moeilikheidmakers met min vooruitsigte op, of belangstelling in, akademiese sukses, of lede van 'n universiteitsbestuur, of senaat, of raad, wat die weg van die minste weerstand verkies, hoe kom jy verby die bepalings van die Grondwet en van die ministeriële beleid waarna ek verwys het; hoe kom jy verby die versoeningsgebod waarin ons Grondwet gebed is?

Jy kan nie.  Jy kan dit nie doen sonder om 'n bespotting te maak van die hoë waardes waaraan die Grondwet uiting gee nie.  Jy kan nie sonder om dit alles op risiko te plaas nie.

Waar sal dit eindig as Afrikaans as onderrigtaal aan tersiêre onderwysinstellings afgeskaf word as 'n reaksie op 'n dreigement van geweld?

Waar sal dit eindig as mense hul sin kan kry deur af te dreig; nie deur die aanwending van hulle talente en harde werk nie, maar deur die dreigement van misdadige optrede? Nie deur hul optrede te rig ooreenkomstig norme wat oor eeue heen die krag van wet verkry het omdat dit in ooreenstemming was met mense se sin vir reg en geregtigheid en hulle behoefte aan veiligheid nie, maar deur hulle te wend tot selfhelp?

Dit kan net daarop uitloop dat "life will be nasty, brutish and short" en dat net die sterkstes en die skelmstes en die mees gewetenlose mense sal oorleef.

Wat was tot nou die reaksie hierop?

Afrikaanssprekendes in universiteitsbesture en dosentekorpse en senate en rade het, enersyds, die weg van die minste weerstand gekies in die aangesig van die mees opportunistiese en onverdienstelike aansprake van agitators en anargiste en, andersyds, vir hulself die maklikste uitweg gekies sonder om te vra of die vooruitsig van veeltaligheid nie 'n geleentheid is eerder as 'n las nie.

Sonder om te vra of daar nie die middele gevind moet word om, eerder as om Afrikaans as 'n primêre taal van onderrig af te skaf, die verantwoordelikheid behoort te aanvaar om 'n inheemse taal, anders as Afrikaans, ook tot volwaardige akademiese taal te ontwikkel nie. Om meer te doen, nie minder nie.

"Die bitter ironie is dat ons hierdie besluite te danke het aan mense wat behoort te weet dat moedertaalonderrig die beste onderrig is.  Die groter ironie, die tragedie, is dat hulle Afrikaanssprekendes is."

Mense wat ontken dat hulle universiteite 'n ereskuld teenoor Afrikaans en Afrikaanssprekendes het.

Hulle wat weet dat die enigste mense wat baat by wat besig is om aan Suid-Afrikaanse universiteite te gebeur, wit Engelssprekende studente is – die mees bevoorregte klas in Suid-Afrika.

Afrikaanssprekendes het daarin geslaag om binne 'n baie kort tydsbestek van Afrikaans 'n volwaardige wetenskap- en akademiese taal te maak.  Hulle weet hoe om dit te doen.  Hulle is dit aan hulself en aan die mense van hierdie land verskuldig om:

  • te verseker dat die besluite om Afrikaans as onderrigtaal aan tersiêre onderriginstellings af te skaf, omgekeer word;
  • te verseker dat die universiteite van hierdie land die verantwoordelikheid opneem om universiteit vir universiteit 'n inheemse taal tot volwaardige akademiese en wetenskapstaal te help ontwikkel.

Zoeloe word die meeste gepraat, maar Zoeloesprekendes kan nêrens in Zoeloe studeer nie.

Xhosa word die tweede meeste gepraat, maar nêrens kan Xhosasprekendes in Xhosa studeer nie.

Afrikaans word die derde meeste gepraat en binnekort sal ook baie Afrikaanssprekendes nie die geleentheid hê om in Afrikaans te studeer nie.

Wat is dan die uitdaging?  Die uitdaging is om te besef dat die aansprake om in mens se moedertaal onderrig te word regverdige grondwetlik-gefundeerde aansprake is.

Dat dit verdien om voor gestry te word.

Dat dit 'n stryd is wat Afrikaanssprekendes saam met ander bevolkingsgroepe kan stry.

Dat dit nie net 'n aandrang verg op Afrikaans as taal van onderrig nie, maar ook op die ontwikkeling van ander inheemse tale as akademiese en wetenskapstale.

Dit verg geloof daarin dat daar nog 'n toekoms in hierdie land is of weer een sal wees.

Dit verg van studente om meer te doen as om net so gou as moontlik in enige taal hulle kwalifikasie te verwerf sodat hulle 'n loopbaan, hier of elders, kan volg.

Dit verg van sakemanne om meer te doen as om net te oes.

Dit verg van akademici, met inagneming van hulle billike aansprake op genoeg navorsingstyd, om saam te besin oor hoe die grondwetlike regte waarna ek verwys het, aan akademiese instellings in vervulling kan gaan.

Dit verg dat Afrikaanssprekendes sal besef dat hulle mekaar nodig het.

Dat hulle sal besef dat ander bevolkingsgroepe hulle nodig het.

Dat hulle sal besef dat die land hulle nodig het.

Wat vanjaar gebeur het op die gebied van tersiêre onderrig konfronteer ons – ons van wie so baie meen dat ons as gevolg van die sondes van die verlede nie meer 'n rol te speel het in hierdie land nie – met die volgende vrae:

Is daar nog Afrikaanse leiers wat dit goed bedoel met Suid-Afrika?  Het Afrikaanse mense nog ideale wat in hierdie land in vervulling moet gaan?  Het hulle nog drome?  Het hulle nog veggees?  Is daar nog Afrikaanse baanbrekers?

Sien hulle nog vir hulle 'n toekoms in hierdie land?  Glo hulle in basiese menseregte – nie net hul eie nie, maar almal s'n?

Is daar nog Afrikaanse helde of sal daar weer wees?

Mag die tyd leer dat die antwoord op hierdie vrae "Ja" was.

Ek sluit af met 'n nuwe, ongepubliseerde gedig van die man met wie se woorde ek begin het:

wanneer jy die moedertong
in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder 'n eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan
wat ek nie meer fatsoeneer nie
wat ek nog net interpreteer
en nie penetreer nie

wanneer jy die taal
van my wegneem
ruk jy die hart uit my drome
om dit te vervang
met die mondmaniere
van 'n tong wat nog net
die blinde werk van miere kan doen

wanneer jy van my 'n massasyfer maak
om soos 'n gefuikte papegaai
te pik-pik na sy nabootsing
maak jy dat ek 'n weesmens is
in die leë huis van my vaders
sonder taal om my afwesigheid te beween.

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 6

Kommentaar

  • Afrikaans het mense meegesleur, agtergronde ingeslurp sodat ons gemeenskaplike grond kon hê. Daarin is ons nie verdeeld nie, daarin lê ons krag. In daardie krag is redding vir ál ons inheemse tale.

  • Jan -
    Baie dankie vir hierdie hartstogtelike, stapsgewys geformuleerde en regsgefundeerde pleidooi, nie net vir die handhawing van die grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes nie maar natuurlik ook vir respek vir alle landsburgers se moedertaalregte. Dit gaan in die finale instansie ook oor die beskerming van alle ander regte wat in ons Grondwet verwoord is en oor begrip vir die versoenende filosofie waarbinne die Grondwet geformuleer is. As die mens ons Grondwet lees, soos sommige deesdae Die Bybel lees - net om hulself te pas en polities korrek te wees - en sekere verse of artikels gerieflikheidshalwe geïgnoreer word - dan gaan ons Grondwet soos Die Bybel ook sy geloofwaardigheid vir baie mense verloor. Die Grondwet kan nie gelyktydig letterlik en vry geïnterpreteer word, sonder om konsekwentheid en dus regsekerheid op te offer nie. Besluite wat deur maghebbers op 'n polities korrekte basis gedoen word, in stede van 'n Grondwetlike basis, skep die persepsie dat ons 'n diskresionêre grondwetlike staat is, waar die Grondwet na willekeur en goedsmoeds deur polities gemotiveerde besluitnemers geplooi kan word. Soos Jan baie duidelik en stapsgewys hier aandui, is daar baie meer as net taalregte op die spel. 'n Grondwet moet werk soos 'n goeie grensdraad - dit beskerm jou nie net teen die ongediertes van die buurplaas nie - dit beskerm ook die buurplaas teen die ongediertes op jou plaas. 'n Grensdraad wat net tot voordeel van een van die plase is, gaan beslis tot sonde met die bure lei. Jan ek voeg met trots my stem by joune wat soos dit vir FC Boot lyk, roepende is in "die taalwoestyn". Gelukkig gaan die dieper dors na ons moedertaal ons juis laat oorleef in hierdie bloeddorstige taalverskeidenheidsonvriendelike woestyn as hul dit vir ons onmoontlik maak om uit "hulle" oase ons regmatige slukkie te neem.

  • Avatar
    Johannes Froneman

    In die kol, Jan. Ek hoop net nie jy tel NWU in by diegene wat Afrikaans uitskakel nie. Op een van ons drie kampusse bly dit die taal van onderrig in bykans alle modules. Wel het ons ook plek gemaak vir Engels, sonder benadeling van ons Afrikaanse studente.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top