
Daar was ’n tyd dat universiteite in Suid-Afrika baie bekend was aan sy burgers. Tipies van die tydsgees in die vorige bedeling het almal geweet dat universiteite hoofsaaklik eksklusief moes omsien na eie sake soos in die bestel gedefinieer. Die algemeen-geldende idee was toe dat universiteite aparte belange dien.
![]() |
|
Foto: capetowndailyphoto.com
|
Hierdie idee het verander met die politieke veranderings in die land. Regeringsbeleid het die landskap en organisasie van hoër onderwys begin omskep in inklusiewe en geïntegreerde inrigtings wat moet omsien na die ontwikkelingbehoeftes van almal om van Suid-Afrika ’n groeiende demokrasie te maak. Dit was deel van die Nuwe Suid-Afrika-reënboogdroom wat hopelik nog besig is om verwerklik te word.
Beleidsdokumente het sedert 1994 die ideale met universiteite sekerlik goed verwoord en die regering het bronne toegewys wat implementering moontlik moes maak. Daarom is dit gepas om te vra: Hoe staan sake? Wat is aan die gebeur? En daarmee saam: Wat is die algemeen-geldende idee wat mense deesdae van universiteite het?
Dit is vrae wat ook in ander lande gevra word: Wat is die sienings wat die burgers van ’n land het van universiteite, en hoe word hierdie sienings gevorm? Dit is aktuele vrae, omdat dat universiteite soveel druk ervaar in die tye van globalisering, waar politiese invloede en sosio-ekonomiese veranderings mense oor landsgrense heen raak.
![]() |
|
Carlos Torres
|
Gesprekke oor veranderings in universiteite is ook in Suid-Afrika aan die gang. By verskeie universiteite, ook die Universiteit van Johannesburg, het die Latyns-Amerikaanse akademikus Carlos Torres verlede jaar gepraat oor die "common sense"-idee wat mense van universiteite het.
Volgens hom is daar ’n wegbeweeg van progressiewe gemeenskapsgebaseerde idees van hoër onderwys vir doeleindes van menslike ontwikkeling, ten gunste van mark-oriëntering en kommodifisering van alle werk van universiteite. Torres is bekend vir sy kritiese perspektiewe op universiteite. Hy is ook die amptelike outobiograaf van Paulo Freire, die Brasiliaanse opvoedkundige wat bekend is vir sy idees dat onderwys en opvoeding bemagtigend moet wees en nie gereduseer kan word tot “bankdeposito’s” van kennis nie.
Hierdie wegbeweeg is volgens Torres duidelik in Amerikaanse universiteite: mededinging om die beste “branding” te doen, om die beste in die mark te wees; werwing van die beste elite-studente; verabsolutering van bestuur deur “managerialism”; uitbreiding van kampusse, geboue en geriewe om ’n groter deel van die mark te bekom; onderdanigheid aan die eise van funksionarisse (die regeringsamptenary wat subsidies beheer); afwesigheid van debatte oor sosiale geregtigheid; eenrigting-gemeenskapsdiens; beheerde toegang tot navorsingsfondse; oorregulering van navorsing deur beloning van kwantiteit van navorsingsuitsette; privatisering, en so meer.
![]() |
|
Naom Chomsky
|
Dit klink alles so bekend, en simptomaties van drastiese verandering wat ook in universiteite in Suid-Afrika aan die gang is.
Vir Torres is die sentrale idee in hierdie veranderings die idee van “besitlike individualisme”. Dit is die gesonde-verstand-idee wat mense het van universiteite: as instellings in die samelewing wat al meer vir hulleself sorg, en in die proses bekend word as plekke waar die belange van die algemene burgery lankal nie meer gedien word nie.
Die verandering van die gesonde-verstand-idee van die rol van universiteite word volgens Torres gedryf deur die dominante ideologie van neoliberalisme. Dit is die dominante idee wat hegemonies werk in die sin dat almal wat betrokke is by die hoër-onderwys-bedryf, meewerk. Dit syfer deur na alle praktyke en mense sluit geledere vir alternatiewe idees. Dit werk inkering in die hand, selfsug in die geledere van betrokkenes, veral die leierskap van universiteits-intellektuele. Hierdie verandering het so sterk geword dat dit selfs die argitektuur van leer (dws wat in kursusse en klasse aan die gang is), navorsing en gemeenskapswerk van universiteite beheer. Vir Torres is dit alles ’n vorm van akademiese kapitalisme; die Trojaanse perd wat akademiese outonomiteit ondermyn.
Die gevolge hiervan is voor die hand liggend: akademiese werk word beperk tot markkragte en markkompetisie; antwoorde word voorafvervaardig en uitgedeel sonder dat deelnemers kans kry om dialoog te voer; projekfondse word volgens markwaarde van projekte uitgedeel; kennis word gekommodifiseer, so ook akademiese domeine en vakke. In die kurrikulum gee ons onderrig ter wille van die toets/eksamen – wat beteken dat toerekeningsvatbaarheid deel word van die kommodifisering. Torres se ontleding word gedeel deur verskeie ander intellektuele, soos Noam Chomsky, wat praat van die “korporatiewe aanval op universiteite” en op die samelewing as geheel. In Suid-Afrika is dit intellektuele soos Crain Soudien, Salim Vally en Catherine Odora Hoppers wat uitgesproke is oor die posisionering van universiteite. Wyle Neville Alexander het hom ook sterk uitgespreek teen die veranderings in universiteite, soos blyk uit sy boek Thoughts on the new South Africa.
Wat ons in Suid-Afrika sekerlik nodig het, is gesprekke oor hierdie vervreemding in universiteite. Wat beteken dit nou weer vir universiteite om daar te wees vir gemeenskappe, om die spieëls te word wat probleme en uitdagings van die samelewing reflekteer en navors en oplossings voor ontwikkel? Wat doen universiteite om menslike ontwikkeling te bevorder, en te werk tot voordeel van almal, ook in die afgeleë plattelandse areas, en nie hulle rol te vereng tot die bediening van markte nie?





Kommentaar
In bostaande stuk is daar min konkretisering van die huidige plaaslike universiteitsituasie. Is dit 'n gesonde verskynsel dat die hoof van die SA Kommunisitiese Party die minister van hoër onderwys is? Is dit waar, soos RW Johnson beweer, dat geen rektor sonder die goedkeuring van die ANC-regering aangestel word nie? Is dit 'n gesonde verskynsel dat ras en geslag, ooreenkomstig die ANC se wense, 'n deurslaggewende rol by studentetoelating en die aanstelling van dosente en ander personeel speel? Het universiteitstandaarde in die nuwe Suid-Afrika verhoog of het dit byna ongelooflik verlaag? Was Kader Asmal se opgradering van technikons na universiteite en die samevoeging van universiteite en technikons in groter eenhede briljant of doodgewone dwaasheid? Wat het geword van ideologiese neutraliteit, universitêre outonomie en akademiese vryheid, wat tradisioneel kernaspekte van die akademie was? Waarom word toegelaat dat Afrikaans as onderrigtaal in die naam van beweerde toeganklikmaking afgeskaal of selfs aan al hoe meer universiteite vernietig word? Ensovoorts.
Johannes Comestor