UJ-pryse 2016: Commendatio oor Ena Jansen se Soos familie

  • 0

Karen de Wet en Ena Jansen, (c) UJ

Lees watter boeke het die kortlys van die UJ-pryse 2016 gehaal

Lees ook: 'n LitNet Akademies-resensie-essay oor Soos familie

Lees ook: Die commendatio oor Roela Hattingh se Kamee

Lees ook: Ena Jansen se dankwoord by ontvangs van die UJ-prys 2016

Kyk ook na foto's van die geleentheid.


Vir die UJ-prys 2016 is altesaam 41 inskrywings ontvang, waaronder kinderboeke, dieetboeke, biografieë, liefdesbriewe, romans, kortverhale, jeugverhale, dramas en digbundels. En dan was daar die boek wat met die louere weggestap het: Ena Jansen se Soos familie is as die wenner aangewys.

AS Byatt se opmerking oor haar deelname aan die Bookerprys se paneel is hier tot troos: "The Booker prize is the only book prize that doesn't sift – odd things crop up. It's a major undertaking, every judge reading everything."

Toe eens aan Peter Englund, die permanente sekretaris van Sweedse akademie gevra is watter toekennings van die Nobelprys vir Letterkunde die meeste kritiek opgelewer het, het hy op sy kenmerkende stoïsynse Sweedse aard opgemerk: "I do not know that.[...] We do not see the prize as a popularity contest, but only care about finding worthy Laureates." [i]

Die Nobelkomitee het nog altyd verrassings gelewer. In 2015 toe, almal gedink het dat die prys uiteindelik aan Philip Roth of aan Ngugi toegeken sou word, het die Sweedse Akademie besluit om die prys toe te ken aan Svetlana Alexievich van Belarus vir haar mengsel van joernalistieke reportage en fiksie.[ii]

Plaaslik het veral die toekenning van pryse in ons mineure Afrikaanse letterkunde (om Deleuze en Guattari by te haal) voorspelbaar geword. Is dit omdat daar net ’n paar bekende gekanoniseerde digters of romanskrywers is van wie verwag word dat hulle werk van bekroningswaardige gehalte kan lewer? Enige prystoekenning word ook aan die een of ander ideologiese tydvak of stroming gekoppel. Vandag vereer ons genderkwessies, môre die oorlog en sy trauma, volgende jaar is die tydsgees dalk ’n selfrefleksiewe soek na sin. Dit is ook nie net die besluit van een individu nie, maar ’n demokratiese oorlegproses.

Maar, dit ter inleiding.

Ena Jansen se boek is nie ’n roman of ’n kortverhaal- of digbundel nie. Myns insiens moet haar bekroonde werk eerder beskou word as `n voorbeeld van kreatiewe niefiksie. Stilisties word die analises so aangebied dat die leser vergeet hy of sy is besig met 'n akademiese ondersoek.

Die begrip "kreatiewe skryfwerk" is immers ook ’n problematiese kwessie wat volgens Christopher Bigsby "a vague and ungainly term"[iii] is, wanneer hy byvoorbeeld oor die enigmatiese tekste van Sebald met hul mengsel van foto’s, illustrasies en fiksionalisering van die geskiedenis skryf.[iv]

Die grense tussen skeppende skryf en die opteken van feite vloei ineen in Soos familie en dié teks, wat volgens die outeur beskou kan word as "’n soort biografie van huiswerkers" (bl 478) word aangebied in ’n taal wat nie vir enige fiksie hoef terug te staan nie. Vergelyk ter illustrasie die evokatiewe openingspassasie:

In Augustus 2009 het ’n vrou langs my op ’n KLM-vlug van Kaapstad na Amsterdam gesit, verdiep in die boek op haar skoot terwyl Afrika diep in die nag onder die vliegtuig verbyskuif. (13)

Dit trek die leser in.

Die persoonlike aanslag; die outobiografiesgerigte skryfwerk en die latere skakeling tussen ondersoekterrein en realiteit word sodoende geaktiveer.

Onder invloed van Nederlands en die Nederlandse kennissfeer waarbinne die teks ontstaan en geskryf is, het die leser hier ’n teks wat nie soos jou kenmerkende akademiese teks lees nie. ’n Postkoloniale kritikus soos Gayatri Spivak word byvoorbeeld voortdurend gekritiseer omdat sy haar insigte in sulke verhewe en omslagtige taal probeer oordra.

Hieraan is Jansen nie skuldig nie: sy skryf klare, leesbare prosa; analises van sosiale kwessies word aangebied in ’n mengsel van outobiografie en teksbegronding. Soos sy dit in die slotwoord self stel: "My soektog na uitbeeldings van huiswerkers was behalwe ’n historiese onderneming om te luister en kennis op te doen, veral ook ’n proses van selfondersoek. Nooit kan jy sensitief genoeg wees vir die kompleksiteit van skryf of praat oor “die ander” nie, juis, wanneer jy dit doen binne die skynbaar vertroulike, maar noodwendig afstandelike ‘soos familie’-domein." (482)

Kreatiewe omgang met die taal blyk uit frases soos "seleksies vir die register op ’n ry gesit" (11), "die laaste toutjies help vasknoop" (11), "tussen neus en lippe deur ingesmokkel" (119), "wit mense onder oë gesien het" (239), vasgevang sit "tussen hamer en aambeeld" (296), "Sonder om in die valkuile van appropriasie tereg te kom" (380), "Huiswerkers is inderdaad die skarniere, die spil waarom kontakte tussen swart en wit draai" (464).

Hierdie frases illustreer vir die leser die fyn stilistiese oog van die akademiese leser en skrywer aan die woord. Die bekroonde teks is ’n samewewing van feit, fiksie en literêre stylmiddele. Hier is ’n simpatieker, omlynde stem aanwesig wat ’n mens nie gewoonlik in gewone joernalistiek of niefiksie aantref nie. Die teks word outobiografies en persoonlik wanneer in die dankwoord ’n reeks huiswerkers aangespreek word wat wissel van Gerty Smit tot Nomahobe Cecilia Magadlela.

In haar beoordelaarsverslag sê Corina van der Spoel die volgende hieroor:

Die bestekopname en analises van hierdie boek verryk en ek wil ook sê verruim en verdiep nie net die Afrikaanse letterkunde nie, maar ook die leser se bewussyn. Dit is eintlik verbasend dat ’n onderwerp en verhouding (dié tussen huiswerkers en hul werkgewers) wat so bekend en integraal is aan die lewens van meeste mense in Suid-Afrika, nie al vroeër behandel is in so ’n studie nie.

In ’n besondere helder en leesbare vertelstyl, akademies en noukeurig, maar nooit droog of saaklik nie, met ’n sekere patos maar nooit sentimenteel nie, maak Jansen literêre ontledings van bekende maar ook minder bekende letterkundige, sosiologiese en historiese tekste.

Soos Familie word uiteindelik, soos Charles van Onselen se onvergeetlike boek oor die deelboer Kas Maine, The Seed is Mine: The Life of Kas Maine, a South African Sharecropper 1894-1985, veel meer as net ’n literêre of sosiologiese studie. Dit word ’n stadsgeskiedenis, ’n politiek-ekonomiese geskiedenis en migrantegeskiedenis van Suid-Afrika.

Die kreatiewe winste van hierdie boek is menigvuldig, waarvan die feit dat Jansen die huiswerker se perspektief of storie altyd op die voorgrond plaas, nie die minste is nie. Die feit dat sy ook belangrike tekste uit die Suid-Afrikaanse Engelse literatuur en sosiologiese studies in haar ontledings insluit is myns insiens ook ‘n groot wins en gee die boek ’n reikwydte wat vertaling na Engels sou regverdig.

Verder is die insluiting van outobiografiese vertellings en onderhoude van wat mens in sommige gevalle dalk "verlore tekste" kan noem (tekste wat deur die toedoen van die absurditeite van apartheid en sy sensuurgeskiedenis nooit werklik raakgelees is nie), ’n verruiming van die Suid-Afrikaanse letterkunde.

Die insluiting van kunswerke wat huiswerkers uitbeeld gee tekstuur aan die boek en maak die kwessie van huiswerkers en die komplekse verhouding met hul werkgewer so kontemporêr soos vandag.

Nog ’n wins is dat Jansen kyk na die vroegste historiese tekste (Krotoa Eva) tot baie resente tekste soos van Zakes Mda en Mark Gevisser. Die omvattendheid van die boek word egter nooit ’n hindernis vir die leesbaarheid daarvan nie, en die leser is tog deurgaans bewus daarvan dat Jansen ’n bepaalde seleksie en keuse gemaak het om haar ondersoek te dryf.

Vir Gerrit Olivier[v] is Soos familie "[v]óór enigiets anders [...] ’n projek van argivale restitusie waarin Jansen op soek gaan na vroue soos Cecilia, “vroue met kappies en kopdoeke wat in die harte van die kombuise gestaan het, […] wat anders by die agterdeur uit ons herinnering sal verdwyn" (461).

Hy beklemtoon die bydrae van die sosiale wetenskappe tot die ondersoek, maar beklemtoon veral dat "die voorstellings van die werker in die letterkunde [...] ’n lens [word] waardeur die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die afgelope eeu, en die navorsing daaroor, veel skerper en in groter, meer menslike besonderhede in perspektief kom."

Hieroor het Jansen haarself in ’n onderhoud met Naomi Meyer soos volg uitgelaat: "My opvatting is dat die letterkunde ’n argief van opvattings oor sosiale geskiedenis is – jy moet net goed soek."[vi]

Annette Combrink[vii] beklemtoon ook die leesbaarheid van die teks in haar resensie en meen dat hoewel dit ’n akademiese studie is en ’n belangrike bydrae lewer tot "die optekening van die Suid-Afrikaanse literêre geskiedenis" sonder sy veral die leesbaarheid van die boek uit. Of soos sy dit stel: "Mens word meegesleur deur die vertellings, en vir enigiemand wat in Suid-Afrika grootgeword het, is die verhale meer as bekend."

Op sy beurt meen Jean Meiring[viii] dat Soos familie "meesleurend en monumentaal" is, want, soos hy dit stel, die teks spreek "tot alle Suid-Afrikaners, maar veral dringend tot daardie generasie wit Suid-Afrikaners vir wie die nederige blikbord en dikwels gekraakte beker onder die opwasbak gemeenplaas was."

Jansen probeer nie namens huiswerkers praat nie. Die delikate kwessie van stemgewing aan die Ander kom ter sprake. Haar fokus is eerder ’n groot gedeelte van die bevolking wat by monde van hul outeurs kommentaar gee op die ingewikkelde situasie tussen werkgewer en huiswerker in die Suid-Afrikaanse konteks. Dit is ’n relevante teks vir ons tydsgewrig, want dit vra kritiese vrae oor paternalisme, bekrompenheid en inklusiwiteit soos mens verwag van ’n intellektuele ondersoek, hetsy fiktief of niefiktief.

Dit is dus vir my aangenaam om te versoek dat die 2016 UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans aan Ena Jansen oorhandig word vir hierdie omvattende lywige boekwerk vol kreatiewe niefiksie.

 

Marius Crous, NMMU

[i] http://www.nobelprize.org/nomination/literature/questions-peter-englund-2013.html

[ii] https://www.nobelprize.org/nobel_prizes/literature/laureates/2015/

[iii] http://www.newyorker.com/books/page-turner/why-you-should-read-w-g-sebald

[iv] Kyk gerus na Protea se uitgawe van Land van skedels (Nicola Hanekom) wat hierby aansluit.

[v] https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-soos-familie-deur-ena-jansen/

[vi] https://www.litnet.co.za/ena-jansen-gesels-oor-soos-familie-stedelike-huiswerkers-in-suid-afrikaanse-tekste/

[vii] http://www.koersjournal.org.za/index.php/koers/article/view/2233/pdf

[viii] ’n Monument vir SA huiswerkers. Die Burger, 20 Julie 2015.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top