Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans (met ’n prysgeld van R30 000) en die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R75 000).
Titels wat in aanmerking vir die UJ-pryse kom is Afrikaanse kreatiewe tekste gepubliseer in die voorafgaande kalenderjaar. Vir die 2015 UJ-pryse is altesaam 56 titels is ingeskryf, waaronder 18 debute.

Die keurpaneel verteenwoordig lesers in Afrikaans betrokke by akademiese instellings en die media.*
Dit is ’n groot voorreg en ’n groter plesier vir die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg om hiermee graag die wenners van die 2015 UJ-pryse bekend te maak.
Uiteraard ons gelukwense van harte en met groot erkenning en dank aan die twee skrywers wat bekroon word, maar ook so aan die skrywers wie se werk uitgesonder is deur die kortlyste.
Onder die debutante is die volgende titels deur die beoordelaars uitgesonder (alfabeties volgens outeur):
Draalnoot vir ’n Janfiskaal – Henry Jack Cloete
Nagmusiek – Stephanus Muller
Kamphoer – Francois Smith
Stephanus Muller se magistrale werk Nagmusiek waarin die grense van oa biografie, biografiese fiksie en metafiksie in Afrikaans verken en verskuif word, word met die 2015 UJ-debuutprys bekroon.

Die titels wat opgeneem is in die kortlys vir die UJ-prys, is (alfabeties volgens outeur):
Buys – Willem Anker
Ester – Kerneels Breytenbach
’n Duisend stories oor Johannesburg – Harry Kalmer
Oorsee – Tertius Kapp
Mede-wete – Antjie Krog
Die wenner van die 2015 UJ-prys is Willem Anker (tevore ’n wenner van die UJ-debuutprys) met sy eweneens grensverskuiwende en histories-geankerde “grensroman” oor die lewensgrote en ook alomteenwoordige, alwetende, allesoorheersende Buys.
Die funksie vir die oorhandiging van die pryse vind plaas op 9 Mei 2015 in Johannesburg plaas.
* Vir 2015 was die paneel van nege beoordelaars:
prof Marné Pienaar (UJ)
prof Thys Human (NWU)
prof Roné l Johl (UJ)
dr Karin Catell (US)
dr Karen de Wet (UJ)
mnr Frederick Botha (UJ)
me Ihette Jacobs (UVS)
me Ilse Salzwedel (RSG / Skrywers en boeke)
mnr Jo Prins (Media24)


Kommentaar
Ons lewe in 'n wonderlike tydvak waarin soveel uitsonderlike skrywers so produktief is en ons soveel uitstekende werke ryker word. ML