"Uitweg Romantiek" deur Gareth Davies

  • 0

Uitweg Romantiek

Soos gelowiges ry ons in ? stoet bar toe
waar ons die dood van ons probleme en gedagtes vier
Die enigste ding wat ek vrees is die nagevolge van ons aksies
Maar nie vanaand nie, vanaand sleep ons die aasvoëls huis toe

Numeriese waardes word verkrag deur shots
wat met min moeite die deur van potensiaal toemaak
Ek was nooit die tipe mens wat ? half-leë glas gehad het
wat nie alkohol bevat het
? Drankasem metafoor sal dit kan bevestig

Maar wat het julle verwag?
Dis ? generiese sein wat deur die luggolwe sny
Ek’s seker dis ? skok vir jou hart
maar moenie laat dit jou ritme afgooi nie
Ek gun jou ? kans om ? kans te vat
Om my hand te vat en my na jou kar toe te lei
Ek’t ? stippellyn oor my pols en ek wag vir jou om hom te kruis

Die weerlig skitter en flikker
die drank, al hoe witter, hoe bitter
Vat ? kans op my op die dansbaan
en groet die duiwels wat langs die bar staan

Ek wens ek’t sleg gevoel daaroor
maar tog staan jy daar met jou merke wat skree vir simpatie
Maar wat is empatie sonder dronkverdriet?
Gaan eerder vanaand op jou knieë en dank wie ook al jy wil
vir wat ook al jy het, in ? laaste poging om jou lewe te red

Ek probeer regtig my bes, maar my bes is nie goed genoeg nie
So ek probeer my bes om van nou af beter te probeer
Want elke masker wat ek dra het ? identiteit
Tog sit ek hier sonder een

Wel, as ek moet brand, dan weet die Here dat ek dit ordentlik sal doen
As ek moet val, dan weet Jesus dat ek net vir jou sal val
En as ek hemel toe gaan dan weet die duiwel alleen hoe ek dit reggekry het

Die weerlig skitter en flikker
die drank, al hoe witter, hoe bitter
Vat ? kans op my op die dansbaan
en groet die duiwels wat langs die bar staan

Nou, 15 meter ver val die trane van die wolke vir my
maar ek staan hier, kurkdroog
Ek wens ek kon die druppels op my vel voel
Ek wens Woensdae was vakansiedae
Maar wense word nooit waar nie
dis hoekom jy nie bestaan nie

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top