Uitsig

  • 0

De Doorns-Oos, Herfs

My rigtingwyser is spoedhobbels:
van Worcester die tweede afdraai links
en oor die derde spoedhobbel regs
loop die pad na my bestemming.
Mense staan in die strate, dáár sit
’n groep; enkeles steek halfhartig die hand
op: “Hier’s ek, ek sal werk.” Om ’n draai
sit-lê ’n bondel jeugdiges. Oumense
slof deur stofstrate: tyd onbeperk,
’n vrees vir die koue winteraande.
Kindertjies in groot getalle speel
die strate vol; kyk hoopvol op
na die nuwe aankomeling. Bronstige
brakke buig kromrug en pomp-pomp
’n lui voet skop hul weg oë wat niks
meer sien. Hoe maak jy geld
uit dié blou Bolandse berge
en sy wingerd wat verbruin?
Buite die dorp waarsku ’n reklamebord:
Beware of thieves selling stolen grapes.
Ek sien my eindpunt; vervalle kerk
en skool. Die leuse tog nog leesbaar:
Carpe diem.
Dis reg; grýp die dag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top