Uitnodiging: Simposium oor Afrikaans as moedertaal en geloofstaal | Wellington, 11 en 12 Augustus 2023

  • 6
Uitnodiging: Simposium oor Afrikaans as moedertaal en geloofstaal
Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit, Wellington, 11 en 12 Augustus 2023

Die Afrikaanse Taalraad en Hugenote Kollege nooi akademici, filosowe, kerkmense en ander belangstellendes om saam te dink en droom oor Afrikaans as geloofstaal.

Die simposium vind plaas in die pragtige Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington, ’n wonderlike saamkomplek wat deurdrenk is van geloofsgeskiedenis en taalstories.

Die simposium oor Afrikaans as geloofstaal mik daarop om die skakel tussen taal en geloof op ’n konstruktiewe wyse te belig. Die bedoeling is ook om sodoende ’n basis vir verdere gesprek te skep.

Ons nooi belangstellendes dus uit om bydraes te lewer oor sake soos:

  • Hoekom skuif kerke en gemeentes so dikwels van Afrikaans oor na Engels as geloofstaal?
  • Hoekom dien tweetaligheid so dikwels as ’n oorgang na Engelse eentaligheid? En hoekom
  • skuif getroue Afrikaanse kerkmense so dikwels uit Afrikaanse gemeentes na kerke waar hulle dan in Engels aanbid, Bybel lees en sing?
  • Is dit belangrik dat teologiese opleiding in Afrikaans plaasvind en wat is die impak van die verengelsing hiervan op Afrikaans as geloofstaal? 
  • Wat beteken die teologiese konsepte van inkulturasie en kontekstualisering vir die toekoms van Afrikaans as geloofstaal?
  • Watter beweegredes, aannames of politieke ideologieë steek agter hierdie verskynsels?
  • Bestaan daar noodwendig enige verband tussen die toekoms van Afrikaans as geloofstaal en resente gesprekke oor “witheid” en “wit bevoorregting”? Gesprekke oor Afrikaans as geloofstaal strek immers oor die rassegrense heen.
  • Wat is die impak van demografiese tendense op Afrikaans as geloofstaal? Hoe kan Afrikaans as geloofstaal onder hierdie omstandighede floreer? Word doelwitte soos insluiting,inklusiwiteit, versoening en die groei van gemeentes deur verengelsing bereik?
  • Hoe verstaan leraars en gemeentelede die rol van taal, veral Afrikaans, in geloof en aanbidding? 
  • Watter persepsies bestaan oor die voordele wat Engels vir ’n kerk bring? Hoe sistematies hanteer gelowiges die gebruik en bestuur van taal of meertaligheid in hulle gemeentes. 
  • Wat is die bedoelde en onbedoelde gevolge van taalverskuiwings binne gemeentes of kerkstrukture vir leraars, gelowiges, hulle gesinne en gemeentes? Wat is die impak op die oordrag van die Boodskap? Wat is die impak daarvan op die wyer Afrikaanse leefwêreld en kultuur? Wie gaan die Bybel oor 30 jaar in eietydse Afrikaans vertaal
  • Hoe kan Afrikaans as geloofstaal, hetsy binne ’n eentalige of meertalige konteks, beter bestuur word? Wat is die basiese beginsels van goeie taalbestuur? Hoe kan verseker word dat leraars en gemeentelede oor die nodige kennis en vaardighede beskik om taal effektief te vergestalt? Watter navorsing kan help om taal een meertaligheid beter in kerke en gemeentes te bestuur?

Wat doen ek indien ek ’n referaat wil lewer?

U word uitgenooi om voorstelle vir ’n aanbieding/referaat voor 20 Julie 2023 in te dien by dr. Conrad Steenkamp (conrad@afrikaansetaalraad.co.za). Voorstelle moenie langer as 250 - 300 woorde weesnie. U sal dan binne twee weke inligting ontvang oor die aanvaarding van die voorstel en ’n aanbieding by die simposium.

Kan ek net saamluister en -praat sonder om ’n referaat te lewer?

Daar sal ook plek wees vir persone wat belangstel om deel te neem sonder om ’n aanbieding te lewer.

Vir ’n goeie belewenis van die gesprek word persoonlike deelname egter aangemoedig.

Kontakbesonderhede

Indien u belangstel om die simposium by te woon, kontak Me. Hesmarie Bosman by bestuur@hugenote.com of 0218731181 x 1021

Kostes

Deelnemers sal hulle eie akkommodasie moet dek. Skakel met Me. Hesmarie Bosman by bestuur@hugenote.com of 0218731181 x 1021 indien u ’n kamer in die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit wil bespreek.

Ons hoop deelnemers se instansies sal hulle vlugte kan dek. Skakel egter met Ria Olivier by ria@afrikaansetaalraad.co.za indien daar in die verband onoorkombare probleme is.

Merk asseblief voorlopig die geleentheid in u dagboek. Meer inligting oor die skedule sal weldra beskikbaar wees.

Die PDF-weergawe van die uitnodiging is beskikbaar by hierdie skakel.

  • 6

Kommentaar

  • Ek kan die meeste van hierdie vrae vir die gemeente beantwoord. Kerke verengels vir dieselfde rede as wat skole of universiteite verengels. Taal is 'n wapen waarmee minderhede gedemoniseer word. Afrikaans het die Khoi- en San-tale op dieselfde manier verdruk en ondermyn. En vandag is dit Afrikaans se beurt om bloedneus te kry teen Engels. Die mens is mos sondaars van natuur. Julle in die kerk ken mos die hele storie beter as almal. Adam en Eva en al daai. Die slang en die sonde. So die enigste manier waarop 'n taal kan floreer, is deur politieke mag te bekom. Dit sal Afrikaans nooit weer hê nie, behalwe miskien in Orania. Hierdie dinge is wetenskaplik bewys deur die sosiolinguistiek.

    Ek was as kind in Calvynistiese Christenskap grootgemaak in die NG kerksekte. Kyk waar is die NG kerk vandag! Die magtige NG kerk is deesdae so halwe miljoen oor waar hulle oor die miljoen was eens. Die gemeentes loop leeg en die wat oor is, stry, stig af en doleer dat die byle huil. Een klomp vlug na die grootdoopkerke, wat dikwels Engelse kerke is. Die ander klomp ontkeer en verval in ateïsme en ongeloof (ek is in daai laaste kategorie). Nog ander gaan sluit aan by die NG kerk Perth. En so aan en so meer. Dis maar die kort van die lank van die saak.

    Ennieway, die feit dat jou taal verdwyn is geen rede om neerslagtig of bedruk of enige sulke dinge te voel nie. Inteendeel, vier jou taal! Tale kom en gaan. Engels gaan ook eendag verdwyn. Die lewe het geen sin en betekenis anderkant die graf nie. Godsdiens gaan ook eendag verdwyn saam met die menslike spesie. Baie godsdienste het reeds uitgesterf. Ditto tale.

    So hoekom nou so baie tyd en energie verwyl op so stywe ou konferensie? Wat nie enige 'probleme' gaan oplos nie. Pampoen is al gedoen, soos Wicus vannemerwe sing. Kry al die professors en doktore en lektore saam en hou 'n groot jol. 'n Lekker paartie sal veel meer vir Afrikaans bereik as so stywe doo. Kry 'n orkes en 'n koor en dansers en bedien koek en tee en lekker koffie.

    'n Mens is nie op aarde om jou taal, jou kultuur en jou godsdiens te red nie. Jy geniet dit net vir jou een leeftydjie en dan is dit verby. Ek is seker die "proefessirs" is ook al moeg gepraat op "sikke konferensies" en verdien 'n break vir 'n verandering.

  • Barend van der Merwe

    Op sy beste is Snotjan maar 'n onstabiele karakter, maar kom ons gee hom gelyk, ook ten opsigte van sommige aspekte van sy bedenklike en weersinswekkende teologie. Die Prediker skryf immers dat alles kom tot niks, tot niks!

    Hierdie saak is veel meer omvattend bespreek tydens die mees onlangse episode van die program 'Taaldinge' op die SAUK se Radio Sonder Grense.

    Die hele verskynsel van minderheidstale wat deur meerderheidstale onderdruk en uitgeskuif word, kan met vier woordjies opgesom word:

    Tiranie van die meerderheid. Beter bekend as demokrasie.

    En die tweede wat daarmee gelykstaan:

    Wiens brood men eet, diens woord men spreek. Letterlik my broe'.

    Laat ek verduidelik.

    Die kerk is 'n winsbejagte maatskappy wat opereer onder die dekmantel van 'n goddelik verordende organisasie. Die besigheidswêreld is nie op aarde om etiese vrae aan te spreek, sosio-ekonomiese probleme op te los en politieke minderhede ter wille te wees nie. Hulle is daar vir wins en die monetisering van menslike spiritualiteit kan slegs deur een manier geoptimaliseer word - deur die stelselmatige en sistematiese uitwissing van minderheidstale. Dit voltrek dan ook die proses wat begin was in die staatsdiens, later die skole, nog later uitgekring het na universiteite en nou uiteindelik die behoudende konserwatiewe ruimte van die kerk betree. Geen hoeveelheid taalbeplanning gaan dit verander nie. En oudpresident De Klerk is nie meer met ons om vir ons te vertel waar is al die wigte en teenwigte nie.

    Ek hou nie van die NG kerk nie. Ons, onder meer die uwe, het die NG kerk vir jare en jare gekritiseer en in die beskuldigingbank geplaas en hulle vertel hulle is 'n probleem, hulle moet Belhar bely en saamsmelt. Miskien vertel die verengelsing van Suid-Afrika se kerke vir ons iets van wat sommige van die politieke beweegredes was agter die ou Afrikaanse kerke se moedswillige teegaan van die Skriftelike opdrag van kerkeenheid. IDK.

    Of praat ek nou nonsens? Dalk, want daar was geen kerke in die Bybel nie. Net tempels. Tempeleenheid.

    Die resultaat van die owerhede en die kerke se politiese en ekonomiese romanse, speel verder uit in die verskynsel van die losmaking van sommige kerke, soos die Doppers, van die NWU se teologieskool. Die nuwe Kairos NG kerk, kortweg die Nuwe NG kerk (NNG), gaan ook nie met die historiese Afrikaanse teologieskole, Tukkies, Kovsies en Maties saamloop nie.

    Ek het self in my jare aan die Kovsies studeer. In daardie jare was dit nog Afrikaans daar. Dit is nie meer die geval nie...

    Dat die akademici goeie artikels sal kan skryf om die val van Afrikaans in die kerke te dokumenteer, is seker darem so. Kom ons hoop hierdie navorsing word ten minste in Afrikaans gedoen. Maar ek hou nie juis styf duime vas nie.

    Ek hoor op die draadloos daar word voorsienning gemaak vir halaal etes by die konferensie. Dis vir my mooi, want Islam het 'n besondere wonderlike en belangrike pioniersbydrae tot ons geliefde Afrikaans gemaak. Maar ja, oom Swannie van die Slagpale sal aan sy biltong stik as hy die dinge moet aanhoor.

  • Hendrik Scheepers

    Die status van Afrikaans is in gedrang. ons ervaar dit op alle vlakke. Godsdiens, onderwys, oral. Waarom? Die taal moet nou aan die Afrikaanssprekende BEMARK word. Die groot vraag is: HOE? Al die foefies wat ons tot dusver probeer het, werk nie.

  • Mauritz Moolman

    Afrikaans word spesifiek as geloofstaal aangebied en in die variasie-debat is daar klaarblyklik nie plek vir ongelowiges of gewone gebruikers nie. Waarom onderwysers en leerkragte (proffies, onnies, ensomeer) se menings meer gewig as ons gewone mense s'n dra, is nie duidelik nie.
    Barend van der Merwe probeer homself as stabiel voor te hou deur Snotjan as "op sy beste" as "maar 'n onstabiele karakter" te kleur. Ek sal met hom saamstem as hy saam met my Snotjan se beskrywing van afvalligheid van Afrikaanse kerke as "ontkeer en verval" verwerp. Hierdie beskrywing dui op absolute wanbegrip van die aard van ongeloof, oftewel die ateïsme. Laasgenoemde is 'n lewensbeskouing en het die wetenskap en rede as basis. Dit is nie 'n variasie van die Doppers, of Gatjieponders, die NG Kerk, of Hervormers nie en kan dus nie in die konteks van "ontkering en verval" gebruik word nie.
    Hoekom word Afrikaans as geloofstaal opgehemel? Is dit 'n laaste en banale poging om dit uit die helse gemors waarin dit sigself bevind te lig?
    Die Kaapse variasie word nie uit Zoeloe of Xhosa of Sjangaan gesmee nie, net soos Ye Olde English nie uit Russies of Sjinees gegroei het nie. Ons sit met taalanargie, gebore uit leigeit, of luiheid, om dissipline toe te pas, sodat joernaliste, resensente en subredakteurs iets het om te doen.
    My ongeloof maak my mening in Afrikaans uitgedruk heeltemaal ongewens, net soos ek na die Engelse pers verdryf is want ek was teen apartheid gekant, "bending blackwards". Hierdie houdings van Afrikaanssprekendes dryf die taal verder tot verval, en Engels die alternatief, want dit het plek vir liberale humanisme en ateïsme

  • Nooit die goed gesê waarvan jy my nou beskuldig nie. Lyk my jy en Barend werk nou saam om my te ondermyn. Ek is diep beswaard, Mietie. Ek kan baie dinge oor Barend sê. Maar liefs nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top