Uitnodiging: FilosofieKafee – Waarom die aandrif tot filosofie?

  • 0

Dis herfs hier in die Boland, en dit is seker waarom ’n nuwe seisoen van nadink wakker word. In Maart het die FilosofieKafee® in Wellington ’n onvergeetlike gesprek ingelei met Breyten Breytenbach en Johann Rossouw, waarvan sommige aanhalings as Terugberig beskikbaar is op die blog.

Hiérdie maand is ons bevoorreg om saam met Willie van der Merwe ondersoek in te stel oor die wese van die filosofie. En dit hier in die hart van Stellenbosch!

Het ons nog die begeerte na Wysheid? En waarom dan? Kom neem deel aan dié oop gesprek!

Plek: La Sala, Reyneveldstraat 44, Stellenbosch
Datum: 8 April 2022 om 18:00
Koste: R190 pp (sluit ’n antipastabord en ’n glasie wyn in)
RSVP: oopgesprek@filosofiekafee.co.za of stuur ’n boodskap na 082 895 1139
Betaal asb by hierdie portaal: http://pay.yoco.com/filosofiekafee

"Waar kom die aandrif tot filosofie vandaan? Kies ’n mens daarvoor om bewustelik filosofie te beoefen, jou tyd en energie te wy aan die begeerte na wysheid, of is dit iets wat jou as’t ware oorval en oorrompel? Is die aandrif tot filosofie nie eerder iets wat in ’n mens wakkergemaak word nie, iets wat by jou opgeroep word, ’n roeping waaraan jy gehoor móét gee, selfs al sou jy nie wou nie? Waarom sou jy, as soveel mense – gewone individue en groot denkers – vóór jou en náás jou daarvan getuig dat die beoefening van filosofie ’n mens nie juis gelukkiger maak nie? Inteendeel! Soos die bekende Duitse filosoof Odo Marquard ’n keer half-sinies en met selfironie opgemerk het, is die keuse van ’n jongmens vir filosofie immers meesal nie die begin van ’n suksesvolle loopbaan nie, maar eerder van ’n persoonlike tragedie. Waarom dan die aandrif tot filosofie? En waarom daaraan gehoor gee?" – Willie van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top