
Onthou, vergeet en nostalgie in die Suid-Afrikaanse gemeenskap – Jo-Ansie van Wyk
Individue en gemeenskappe onthou en gedenk gebeure, omstandighede en verliese van besondere belang. Ons vergeet ook. Vergeetagtigheid en geheueverlies word, byvoorbeeld, beskou as meganismes om, onder meer, trauma te verwerk. Die ontwerp, vestiging en instandhouding van ’n openbare geheue, polities geïnduseerde geheueverlies en vergeetagtigheid het verreikende maatskaplike gevolge. Enersyds is dit polities voordelig om die verlede en heugenis te mobiliseer, uit te wis of te saniteer. Voorbeelde van geskiedkundige of hedendaagse teenspoed, bevryding, mislukking en sukses word fyn uitgekies, vergeet of veredel tot ’n neusriem of ’n politieke goue kalf. In hierdie konteks manifesteer ’n tipe nostalgie as politieke handelsmiddel en oorlewingsmeganisme. ’n Herontwerpte, ’n ontkende of onderdrukte geheue versterk of daag die maatskaplike orde uit. Openbare forme van vergeet of geheueverlies of amnesie is nie noodwendig fataal nie. Die woord amnestie, byvoorbeeld, is etimologies verbind aan amnesie, maar wat word onthou (of nie) en waarom word dit onthou of vergeet? Hoe onthou en vergeet ons? Wat is die implikasie daarvan? Hoe hou dit verband met nostalgie?
Nostalgie is, onder andere, ’n eselsbrug van onthou en vergeet. Veredelde nostalgie manifesteer in openbare heimwee, mites en sosiale artefakte soos openbare vakansiedae, heldeverering en ’n amptelike diskoers oor die struggle terwyl private nostalgie dikwels blom rondom braaivleisvure, agter herstelde laers met elektriese heinings, en “onthoukos”. Die etimologie van beide heimwee en nostalgie is die verlange na ’n tuiste of tuiskoms wat eens was of wat veridealiseer word. Dus, waar is ons tuis, wat laat ons ontheemd en wat beteken dit?
Jo-Ansie van Wyk is ’n hoogleraar in Internasionale Politiek in die Department Politieke Wetenskappe, UNISA.
Datum: Vrydag 11 November 2022 vanaf 18:30
Plek: Forti Bistro, Winkel 2, Brooklyn Bridge Centre, Fehrsenstr 511, Brooklyn, Pretoria
RSVP: +27 82 895 1139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za
Koste: R220 pp, sluit aandete en ’n glasie wyn in
Betaal asseblief met verwysing W11/11 by http://pay.yoco.com/filosofiekafee of per EFT: Lamar 9242373000 (spaarrekening).


Kommentaar
Kom dit dalk ook Wellington toe?
Kan die gesprekke nie gedeel word via Teams ens. nie? Dit is net nie moontlik vir die meeste lesers om geleenthede persoonlik by te woon nie.