
Wilhelm Jordaan se inleiding tot die gesprek op 1 Julie by die FilosofieKafee in die Bôrdienghuis se teater op Wellington vind plaas teen die agtergrond van die stortvloed hoofsaaklik negatiewe kommentare oor sekere programveranderinge by RSG. Die taamlik sterk konsensus is dat die veranderinge op ’n voortgesette vervlakking van intellektuele gesprekvoering dui, soos dit ook elders in die samelewing voorkom.
Met NP Van Wyk Louw se breë vermenslikende siening van die “ware intellektueel” in gedagte, gaan Jordaan die begrip vervlakking en die breedlopende simptome daarvan in oënskou neem. Hy vra ook waarom die benaming intellektueel verdag geraak het. En is daar iets soos ’n “nuwe intellektueel” en wat is die uitlopers van dié manier van wees, dink en doen?
Die vraag is dan of daar nog ’n plek en funksie is vir die soort intellektueel vir wie dié begrip nie op ’n aanmatigende titel dui nie, maar op ’n outentieke manier van wees in die wêreld. Vir hom behels dít, á la Van Wyk Louw, om oor belangrike lewensake redelik te dink, billik te oordeel, aarselend te veroordeel en die eie mening met ’n bietjie meer selfkritiek te beskou. Verder behels dit om ook met verwondering en verbeelding lewensin te soek.
As só ’n intellektuele houding meriete het, hoe gaan ons verseker dat dit gedy?
Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington
Tyd: Vanaf 18:30
Koste: R220 pp, sluit aandete en ’n glasie wyn in
Bespreek vroegtydig by Lamé: 0828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za
Betaal asb by hierdie portaal: http://pay.yoco.com/filosofiekafee


Kommentaar
Man! Ek sou dit darem graag wou bywoon, maar Wellington is net té ver van Clarens voor mijn paard ...
NS: Ek is ook sielsongelukkig met die vervlakking van RSG se aanbiedinge.