Die Afrikaanse Wikipedia word hierdie jaar 22 jaar oud en ons gaan dit op ’n gepaste wyse vier by die Akademiekantoor in Pretoria op Donderdag 16 November!
Nie net sal ons die Wikipedia se 22ste verjaardag vier met hierdie geselligheid nie, maar tydens die geleentheid sal die wenners van die 2023-Skryfkompetisie vir Hoërskole ook aangekondig word. Hierdie kompetisie wat Deon Steyn, die direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, geïnisieer het, is enig in sy soort vir Wikipedia wêreldwyd. Die skryfkompetisie word in samewerking met die SA Akademie namens die Wikipedia bestuur en word ook ondersteun deur Pretoria FM, die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
Die Afrikaanse Wikipedia is by verre die grootste Wikipedia op die Afrikakontinent. Daar is tans meer as 112 000 artikels wat ons in die 69ste plek op die wêreldranglys plaas uit die 333 Wikipedias in ander tale en ons het maandeliks meer as ʼn miljoen bladtrekke! Hierdie statistieke sou nie moontlik wees sonder hardwerkende en pligsgetroue vrywilligers se bydraes nie.
Dié Wikipedia is ’n belangrike hulpbron in die bevordering van Afrikaans as ’n wetenskapstaal. Dit is ook waarom die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sedert Augustus 2022 ’n samewerkingsooreenkoms met die Afrikaanse Wikipedia aangegaan het om bemarkings- en administratiewe ondersteuningsdienste te voorsien.
Datum: Donderdag 16 November
Tyd: 18:30
Plek: Akademiekantoor in Arcadia, Pretoria
RSVP: Donderdag 8 November by afrikaansewikipedia@gmail.com
Aanlyn: Dit is ook moontlik om die geleentheid virtueel by te woon. Indien dit die geval is, moet dit asseblief op die RSVP aangedui word.
Ons ontvang alle belangstellendes graag as ons gaste by hierdie verjaarsdagfunksie.