Uitnodiging: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Algemene Simposium | 28 en 29 September 2023
Die simposium word in hibriede formaat aangebied:
- In persoon: Kunslokaal, SA Akademiegebou, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria.
- Aanlyn: ’n Skakel sal voorsien word.
Akademielede en ander belangstellendes word aangemoedig om die simposium by te woon en die inskrywingsvorm te voltooi en om kennis te neem van die interessante program. Die tema vir vanjaar se simposium is Volhoubare menslike welstand in Suid-Afrika.
Die wêreld se bevolking het in November 2022 die agt miljard kerf verbygesteek. Die Verenigde Nasies (VN) het hierop ’n beroep gedoen op solidariteit in die bevordering van volhoubare ontwikkeling vir almal. Die VN is van mening dat deur die doelwitte vir volhoubare ontwikkeling te bereik, menseregte te respekteer en niemand agter te laat nie,’n wêreld ingelui kan word waar almal potensieel kan floreer. Dit is ’n duidelike oproep op die mensdom om ons nie blind te staar teen die getalle nie, maar ons gedeelde verantwoordelikhede na te kom om mense en die planeet te beskerm. Daar behoort by die mees kwesbares begin te word.
Suid-Afrika het ook oor die afgelope dekades ʼn geweldige bevolkingstoename ondervind, wat druk op verskeie samelewingsektore plaas. Die vraag is hoe Suid-Afrikaners ’n bydrae kan lewer om die welstand van ons mense volhoubaar te verbeter en die planeet te help beskerm?
Die vraag is ook wat die implikasies van Kunsmatige Intelligensie (KI) op die lewens van Suid-Afrikaners is – positief en/of negatief. Hoe kan KI meehelp om die gemeenskap en ook die planeet te beskerm.
Vind hier die inskrywingsvorm en die voorlopige program.
- Uitgereik 14 Augustus 2023


