In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
Diegene wat Dalene Matthee se boek Fiela se kind1 gelees het, of die gelyknamige rolprent gesien het, sal onthou hoe die hoofkarakter, Benjamin Komoetie, as klein seuntjie in Knysna op 'n soort uitkenningsparade deur Barta van Rooyen "geëien is" as haar kind, Lukas, wat jare vantevore verdwyn het. Jy onthou seker ook dat Lukas aan die einde van die verhaal - baie jare later - ontnugter word deur Barta se belydenis dat sy voor die uitkenningsparade voorgesê is om hom, "die een met die blou hempie aan",2 as haar kind uit te wys.
Dit wys 'n mens net watter onberekenbare gevolge daar kan wees as 'n uitkenningsparade nie volgens behoorlike reëls verloop nie. Oor die reëls kan ons op 'n later stadium praat. Nou wil ek egter fokus op die soort dilemma waarin Barta van Rooyen haar kon bevind het toe sy na soveel jare geroep is om haar verlore seuntjie te gaan probeer uitken. Die hooggeregshof het op in Januarie 1960 - ook al 54 jaar gelede - in sy uitspraak in Rex Mputing3 verwys na die talle faktore wat tydens 'n uitkenningsparade 'n rol kan speel.
Dit was 'n appèlsaak, nadat die Mputing in 'n streekhof skuldig bevind is op twee aanklagte van roof. Daar was geen direkte getuienis wat hom met die misdryf verbind het nie. Daar was slegs die getuienis van 'n 13-jarige meisie wat hom tydens 'n uitkenningsparade uitgewys het. Voordat sy hom uitgewys het, het sy eers getwyfel, maar nadat sy aangesê was dat sy ook ágter om die persone op die uitkenningsparade mag loop - en dit gedoen het - het sy hom uitgewys.
Die klaer in die saak, 'n 17-jarige seun, kon nie daarin slaag om vir Mputing tydens die uitkenningsparade uit te wys nie, maar het hom wel tydens die verhoor in die hof uitgewys. 'n Derde getuie, ene Emily, het nie die uitkenningsparade bygewoon nie, maar het ook Mputing in die hof as die rower uitgeken.
In sy uitspraak sê regter Boshoff dat 'n mens se vermoë om iemand akkuraat te herken, beïnvloed word deur 'n groot verskeidenheid omstandighede.
Die regter noem dan 'n klompie van die omstandighede - soos die ouderdom van die getuie; die vraag of sy oë nog goed is; of hy nie dalk een of ander vooroordeel teenoor die beskuldigde koester nie; hoe goed die beligting was by die plek waar hy die beskuldigde na bewering gesien het; wat sy uitsig was; hoe ver hy van die beskuldigde af was; hoe lank hy hom onder oë gehad het, ens.
Dan is daar die vraag of die beskuldigde besondere gelaatstrekke en persoonlike kenmerke het wat hom van ander mense onderskei - is hy dalk 'n dwergmannetjie of 'n reus van oor die twee meter lank?
'n Ander belangrike faktor, sê regter Boshoff, is die vraag hoeveel tyd sedert die waarneming verloop het. Hoe langer die tydperk, hoe groter is die moontlikheid dat die waarneming kan vervaag in die geheue van die waarnemer en hoe groter is die kans dat hy mag fouteer in sy herinnering. Dit was Barta van Rooyen in Fiela se kind se dilemma.
Ten slotte is daar die uiters belangrike moontlikheid van invloede wat op die geheue van die waarnemer of getuie kan inwerk nadat hy sy waarneming gemaak het. Dit kan wissel van blatante voorsêery, soos in Fiela se Kind, tot meer subtiele beïnvloeding, soos wanneer die polisieman die getuie na die verdagte sou neem en sou vra: "Is dit die man wat jou beursie gesteel het?" As sulke getuienis tydens kruisverhoor van die getuie aan die lig sou kom, sal die hof waarskynlik geen waarde aan die sogenaamde uitkenning heg nie.
O ja - Mputing het toe nie losgekom nie. Regter Boshoff was tevrede dat hy wel die rower was wat die drie getuies op die misdaadtoneel gesien het. Baie jare agter die tralies was dus sy voorland.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

