Uitgewery se Afrikaanse e-boeke nou wêreldwyd beskikbaar

  • 12

In Maart vanjaar het NB-Uitgewers meer as 750 Afrikaanse e-boeke op aanlynwinkels versprei. Dit sluit in topverkoper-titels deur Deon Meyer, Marita van der Vyver, Anchien Troskie, Dana Snyman, Ena Murray en vele ander vooraanstaande Afrikaanse skrywers. Die maatskappy loods vandeesweek ’n opwindende bemarkingsveldtog  waarin bekende skrywers deelneem – op televisie, aanlyn en in die drukmedia - om sy Afrikaanse e-boeke te bemark.

“Die gemak en spoed waarmee ’n mens e-boeke aflaai – daardie onmiddellike bevrediging – bly elke keer ’n verrassing en ’n reuseplesier!” sê Eloise Wessels, Uitvoerende Hoof van NB-Uitgewers.  

“’n Hele nuwe era in die Afrikaanse boekebedryf het aangebreek. Lesers kan hul leeslus nou behoorlik versadig met honderde e-boeke wêreldwyd beskikbaar in Afrikaans. Nooit weer is ’n boek nié beskikbaar nie,” sê Nèlleke de Jager, NB-Uitgewers se digitale uitgewer.

Die e-boeke is beskikbaar by Leserskring, Kobo, Kalahari  én Amazon se Kindle Store en kan op enige e-boekleser, tablet, rekenaar of slimfoon gelees word. NB-Uitgewers se volle katalogus van e-boeke word nou deur Amazon versprei en is dus wêreldwyd op alle platforms beskikbaar. Die verwagting is dat e-boekverkope sterk sal toeneem.

Timboektoe, Theewaterskloof, Toronto. Afrikaanse lesers kan, ongeag waar hulle hulself bevind, nou e-boeke van hul gunstelinge Afrikaanse skrywers koop en geniet.

Vir pendelaars is daar nog beter nuus: Vir die eerste keer ooit is dertien van NB-Uitgewers se blistverkopers nou as digitale luisterboeke beskikbaar op Audible.com, voorgelees deur van die land se beste stemkunstenaars in Afrikaans. ’n Luisteraar kan dus met min moeite ’n boek aflaai op ’n iPod, iPad of slimfoon of selfs ’n gewone rekenaar en daarna luister, waar sy ook al is – in die motor , op ’n bus of trein of in die lang tou by die bank. Die luisterboeke is slegs op Audible.com verkrygbaar en sluit ook kinderboeke in.

“Dis opwindende tye vir boekliefhebbers in Afrikaans, ter plaatse en internasionaal,” sê De Jager van dié digitale omwentelinge.

Die uitgewery se skrywers is ook opgewonde om hul boeke in digitale formaat te sien. Deon Meyer, Anchien Troskie,  Wilna Adriaanse en Dana Snyman het hul lyf onlangs akteurs gehou en speel in NB-Uitgewers se TV-advertensie. Die skrywers meen die e-boekformaat hou verskeie voordele in.

“’n Hele boekwinkel in die palm van my hand. Genoeg leesstof vir enige reis, maar die tas is nie swaarder nie. Hoe kan mens nie mal wees oor e-boeke nie?” sê Deon Meyer, wie se jongste roman, Kobra, later vanjaar sal verskyn.

Karin Brynard, skrywer van Onse Vaders,  sê sy is “moewies opgewonde” dat Afrikaanse e-boeke nou so vrylik beskikbaar is. “Nou kan ek al my gunsteling-Afrikaanse skrywers met my saamdra op ’n enkele e-leser. En beter nog: my familie oorsee kan lekker saamlees – sonder dat ek ’n klein fortuin aan versendingskoste kwytraak.”

Anchien Troskie/Elbie Lötter sê e-boekleser verskaf haar groot plesier: “Ek verlekker my keer op keer daaraan dat ek tans 157 boeke oral met my kan saamdra, en dit in een hand!” Troskie se aangrypende roman Dis ek, Anna is as e-boek én luisterboek beskikbaar.

Wilna Adriaanse sê: “Met e-boeke is goeie leesstof altyd byderhand ongeag hoe lank die reis waarop jy is, of hoe klein die dorp waar jy jou bevind.” Haar liefdesverhaal Rebecca is nou ook as luisterboek beskikbaar. 

Danksy die verspreiding van e-boeklesers en tablet-toestelle raak e-boeke al meer gewild. Tradisionele uitgewers kan e-boeke nie meer ignoreer nie as hulle aan hul lesersmark, wat al meer ‘mobiel’ word, se behoeftes wil voorsien. In Amerika is $1.5 miljard se e-boeke verkoop in 2012 (amper ’n kwart van die boekemark), aldus die APA (Amerikaanse Uitgewersvereniging). In die Verenigde Koninkryk die afgelope jaar kan meer as 12% van boekverkope aan e-boeke toegeskryf word, volgens die VK se Uitgewersvereniging.

“Die Suid-Afrikaanse boekemark is ’n paar jaar agter dié van die VSA en Brittanje, maar die sterk e-boekverkope in hierdie lande is ’n goeie aanduiding van wat in SA sal gebeur,” meen De Jager. “Daar is immers reeds meer as 780 000 tablette in die land.” By die afgelope Londense Boekebeurs is daar gespekuleer dat Suid-Afrika die twaalfde grootste e-boekmark ter wêreld het.

NB-Uitgewers se e-boeke sal terselfdertyd as die papierboek-eweknie op virtuele winkelrakke verskyn. Die e-boeke word tans teen dieselfde prys as die papierweergawes verkoop.

Digitale boeke het ’n transformerende effek op die boekebedryf. Genres soos erotiese fiksie, jeugliteratuur en fantasie-literatuur  het ’n massiewe hupstoot gekry. Én nuwe genres word geskep wat nuwe vryheid én geleenthede aan uitgewers verskaf.  NB-Uitgewers werk aan verskeie digitale projekte: Die Tafelberg Kort-reeks (digitale mini-boeke oor aktuele kwessies wat onder die Tafelberg-druknaam uitgegee word) is in November 2012 bekendgestel. En ’n reeks digitale ultrasexy liefdesverhale sal eersdaags onder die Ultrasatyn-druknaam uitgegee word.

NB-Uitgewers se Afrikaanse e-boeke kan gekoop word by: 

Uitgesoekte luisterboeke by:

Hoeveel top-skrywers kan jy in ’n motor prop? Kyk dié skreeusnaakse televisie-advertensie waarmee NB-Uitgewers sy e-boeke-bemarkingsveldtog sal afskop.   

NB-Uitgewers se lys van Afrikaanse luisterboeke op Audible.com:

Titel

Skrywer

Voorgelees deur

Dis ek, Anna

Elbie Lötter

Joanie Combrink

Die gasheer van Drakeneiland

Ena Murray

Frieda van den Heever

Baas van Babilon

Ena Murray

Frieda van den Heever

Plekke in die son

Ena Murray

Frieda van den Heever

Anderkant die scrap

Dana Snyman

Johann Nel

Rebecca

Wilna Adriaanse

Susanne Beyers

Jakkals en wolf

PW Grobbelaar

Johann Nel

Lien se lankstaanskoene

Derick van der Walt

Mareli Minnaar

Kwart-voor-sewelelie

Eleanor Baker

Margot Luyt

Die mooiste sprokies van Grimm

Marita van der Vyver

Susanne Beyers

Die grafte jubel

Esta Steyn

Joanie Combrink

Agter die skerms Boek 1

Karen Kingsbury

Frieda van den Heever

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom

Marita van der Vyver

Martelize Kolver

Luister na 'n uittreksel hier.

 

  • Meer oor NB-Uitgewers: NB-Uitgewers publiseer onder sewe hoofdrukname: Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie, Pharos, Kwela, Best Books en Lux Verbi. Afrikaanse liefdesverhale word onder die drukname Jasmyn, Melodie, Satyn, Hartklop en Mirre gepubliseer. Die maatskappy is die grootse plaaslike algemene uitgewery in die Suid-Afrikaanse boekemark en is die markleier in volwasse fiksie en kinder- en jeugboeke.. NB-Uitgewers gee hoofsaaklik boeke vir die algemene Suid-Afrikaanse handelsmark uit en ook taal- en letterkunde tekste vir skole. NB-Uitgewers is ’n afdeling van Media24 Boeke (Eiendoms) Beperk.
  • 12

Kommentaar

  • Martie Dippenaar

    Hallo

    Ek het 'n groot aantal ou en baie ou Afrikaanse boeke (oa Totius, Malan, Malerbe ens) wat ek graag wil tik en as e-boeke help versprei.  Hoe moet ek te werk gaan rakende kopiereg ens?  Onder andere is daar ook heelwat verseboeke en kinderboeke by.  Kan ek die getikte boeke aan u stuur?  Kan ek op so 'n manier geld verdien? 

     

    Dankie vir die hulp.

     

    Martie Dippenaar

    • Ek het ook baie kinderverhale in ou boeke. Sal u belangstel as ek dit oortik en stuur? Laat my asseblief weet.

  • Ek wil oor ou legendes,fabels en kinderstories skryf. Sal julle belangstel? Laat weet asseblief.

    Ina,
    Besoek NB-Uitgewers se webwerf vir riglyne hoe om jou manuskrip voor te lê: http://nb.co.za/

  • Ek het al drie boeke uitgegee deur Smashwords, Kobo ens. Kan ek ook my boeke na julle stuur om uitgegee te word.

  • Ons wil dringend luister na nuwe afr boeke soos die nuutste van Deon Meyer. Waar is dit beskikbaar? Asb.

  • Baie goeie nuus. Het 'n kennis wat nie meer kan lees as gevolg van 'n ongeluk. Sukkel ook met gebruik van selfoon agv van die feit dat sy nie instruksies op foon kan volg ie. Is daar audio-boeke op CD beskikbaar soos die bande wat vroeër vir blindes beskikbaar was?

    • Johannes Comestor

      Janet, leesstof vir blindes en swaksiendes is steeds in verskillende media beskikbaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek vir Blindes, Posbus 115, Grahamstad 6140 - kyk hulle webwerf. 'n Ander oplossing vir die probleem is om 'n leesmasjien soos Amazon se Kindle, wat ongeveer R1500 tot R3000 kos, aan te skaf en e-boeke te koop. Die lettergrootte kan in so 'n mate verstel word dat seker die meeste swaksiendes die teks kan lees.

  • Trien Bronkhorst

    Ek het vandag met 'n skok agtergekom dat skrywers 'n beperking plaas op die aantal keer wat jy jou eie gekoopte eboek mag aflaai. Is dit so, of word ek 'n rat voor die oë gedraai?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top