Uitgewers, nomineer julle beste boeke vir die volgende Akademiepryse

  • 0

Soos aan u bekend is, is die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op deurlopende basis daarvoor verantwoordelik om die Akademie te adviseer oor die toekenning van die volgende literêre pryse:

akademiepryse240

  • Hertzogprys;
  • Eugène Maraisprys;
  • Akademieprys vir vertaalde werk;
  • Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek;
  • Louis Hiemstraprys vir nie-fiksie;
  • Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur;
  • Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur;
  • Scheepersprys vir jeugliteratuur;
  • Elsabe Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans.

Die Letterkundekommissie kan nie aan uitgewers voorskryf watter boeke voorgelê moet word vir beoordeling nie, maar u bloot nooi om boeke voor te lê.  Tot dusver het die Letterkundekommissie uitstekende samewerking gekry van die verskillende uitgewerye wat betref die lewering van kopieë van publikasies wat oorweeg kan word vir bekroning.  Om te verseker dat die proses ook in die toekoms glad verloop, wil die Letterkundekommissie weer die volgende punte onder u aandag bring. 

  • Alhoewel die Letterkundekommissie nie verplig is om slegs voorgelegde boeke vir bekroning te oorweeg nie, kan dit probleme skep as werke wat wel oorweeg kan word, nie deur die uitgewers voorgelê word nie.
  • In die geval van die Hertzogprys bestaan die moontlikheid dat die oeuvres van skrywers oorweeg word. Ons verwag uiteraard nie dat uitgewers elke keer die volle oeuvres van skrywers wat by hulle gepubliseer het, moet voorlê nie, maar ons sal dit waardeer as al die werke wat 'n skrywer in die betrokke genre gelewer het binne die voorafgaande driejaarperiode, aan ons gestuur word.
  • Die lede van die Letterkundekommissie sal dit op prys stel indien boeke wat in Maart 2016 vir pryse oorweeg moet word so gou as moontlik aan hulle gestuur word. Hierdie werkswyse maak dit vir die kommissielede moontlik om hulle leeswerk te versprei en deeglik voor te berei vir die vergadering waar die toekennings bespreek word. 
  • Die reglemente wat op die beoordeling van hierdie pryse gerig is, kan van die Akademiekantoor aangevra word by linda@akademie.co.za. U sal sien dat daar duidelik genoem word watter soort boeke vir elke prys kwalifiseer. U is ook baie welkom om u skrywers se aandag daarop te vestig dat hierdie inligting beskikbaar is. Die name van die huidige lede van die Letterkundekommissie is soos volg:
  • Willie Burger
  • Heinrich Ohlhoff
  • Hennie van Coller (voorsitter)
  • Helize van Vuuren
  • Andries Visagie
  • Hein Viljoen
  • Thys Human
  • Anastasia de Vries
  • Susan Smith
  • SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Privaatsak X11, Arcadia, Pretoria, 0007 (Tel.: 086 133 3786)

Die volgende vergadering vind teen die einde van Maart 2016 plaas. Ons sal vroeg in 2016 vir u 'n lys stuur van al die boeke wat ons van u ontvang het sodat u kan kontroleer of daar nie iets agterweë gebly het wat u wil voorlê nie.  Die pryse wat in 2016 toegeken word, is die volgende:

  • Hertzogprys vir Prosa. Alle werke wat van 2013 tot 2015 verskyn het, sal oorweeg word. 
  • Eugène Maraisprys. Alle eerste of tweede publikasies van 'n skrywer in enige genre wat gedurende 2015 gepubliseer is, sal oorweeg word.
  • Scheepersprys vir Jeugliteratuur. Alle werke wat van 2013 tot 2015 verskyn het, sal oorweeg word.
  • Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur. Alle werke wat in 2013 tot 2015 verskyn het, sal oorweeg word.

Indien daar enigiets verder is waaroor u groter duidelikheid verlang, kan u met Linda Brink by die Akademiekantoor skakel (telefoon 086 133 3786, e-posadres linda@akademie.co.za).

Vriendelike groete

H.P. van Coller, Voorsitter, Letterkundekommissie van die SA Akademie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top