Jammer ek antwoord nou eers op julle response op my twee skrywes getitel “How great is God” en sy opvolger “A man after God’s own heart”. My laptop (met gay porn, werk en al daarop) is deur ’n “rent piece” vir die aand in Kroonstad gesteel terwyl ek geslaap het. Die was by die polisie aangemeld, die “Priapus” is ge-arresteer, maar die laptop word steeds deur die polisie voorlopig vir bewys doeleindes aangehou.
Vir al drie here. Ek is ’n uitgesproke ateis, nie as gevolg van studie, wat ’n latere uiteindelike bydraende faktor daartoe is, maar hoofsaaklik as gevolg van my lewensbeskouing van gebeurlikhede om my en wat in die wereld aangaan. Soos die Bybel dit het, die sonskyn, reen ens. val sonder onderskeid op beide Christene en heidene. In werklikheid, kom ek veralgemeen daar is ’n God, sy getoonde belangstelling in sy uitverkorenes (Christene) is ’n ronde NUL! Hierdie versindel verwag uiterste gehoorsaamheid en diens aan homself (of is dit “ditself) in ruil vir ’n vae belofte van ’n ewige lewe, of alternatief ’n dreigement van ’n brandende hel, en wees eerlik dit is die kruks wat mense motiveer om Christene en ander gelowe te wil aanhang. Inteendeel alle gelowe en lewensbeskouinge (soos Boedisme als voorbeeld) is versindsels van menslike fantasie.
Ek strewe nie om enigiemand tot Ateisme te probeer “bekeer” nie, soos ander Ateiste op hierdie net wat soos Kobus tereg gese het, daarvan ’n godsdiens van gemaak het, en wil soos Paulus ’n sendeling vir ateisme optree. Dit gaan my hoegenaamd nie aan wat ander se “geloof” is nie. My ouboet Dan is ’n ateis, sy tweede en huidige vrou ’n Sewendedag Adventis. Altwee is erg danig vir mekaar. Sy volwase kinders van die eerste huwelik is ook ateiste, weens die feit dat sy eerste (oorlede) vrou ook ’n ateis was. Sy minderjarige kinders van sy tweede vrou word in die Christelike geloof grootgemaak, sonder dat hy enige beswaar daaroor opper.
Vir Jan Rap: Ek het doelbewus vir die eerstekeer hier op SeNet in Engels geskryf met juis jou in gedagte, gesien jy my al in die verlede daarvan beskuldig het my Engels is beter als my Afrikaans. ’n Tipiese Pavlovian response aan jou kant. Ek het gehoop jy gaan se my Engels was goed of sleg, maar nee, jou godjie bly maar fanaties Afrikaans dus die dat jy geen melding oor die inhoud van my skrywes gemaak het nie, net beswaar dat ek in Engels geskrywe het.
Vir Chris. Ek is wyd belese veral rakende die antieke skrifte en hul outeurs, oa. die Apokriewe (versteekte) boeke soos Bel en die Draak; Makabeers; ens.; die “spurious” (verwerpte) boeke soos die Evangelie van Thomas; die Evangelie van Maria; Jubilees; ens. Die Bybel (antieke Joodse biblioteek met godelike aanhalings van Yaweh; Elohim; Jesus.). Die heidense “biblioteek” met verwysing na hulle “pantheon” gode geskryf deur outeurs soos Homer; Herdotus; Plato; Aristophanes; Xenephone; Julian; Pliny (Elder & Younger); Cicero; Hesoid; ens. Die Bybel geleerdes se teorie oor die Jawist in teenstelling met die Eloist benadering tot die Ou Testament. Ek lees almal op gelyke voet met die Bybel, en put oneindige persoonlike verryking daaruit. Alle verwysings na die bonatuurlik ignoreer ek maar, met die wete dat dit deur bygelowiges geskrywe is, wat nie suimier verwerp kan word nie weens waardevolle letterkundige en geskiedkundige (bv. Herodotus) waarde daarin vervat.
Vir Kobus. Ek admirer jou standvastigheid in wat jy in glo, die moeite wat jy doen om ander se argumente op te volg (soos bv. die skakels rakende “Sacred Semen”; en rakende Jamaica soos deur myself in vorige skrywes aangegee). Die ateiste en agnostici op hierdie werf het oor die jare gekom en gegaan, maar jy bly onwrikbaar en voorspelbaar in jou geloofsbeskouing (en nie lelik daarby bedoel nie). Met betrekking tot die konings Saul en Dawid. Ek het gefouteer met die gebruik van Abner se naam waar ek eintlik aan Joab gedink en bedoel het. My benadering tot die onderwerp was afgryse met ’n vader (in Jamaica) se ophitsing ten doel om sy seun te dood as gevolg van die ontdekking dat hy gay was. Jamaica beslaan 98% Christene waarvan die oorgrote meerderheid Protestante is, met die hoogste moord syfers per kapita ter wereld (nieteenstaande hul godsdiens nie). Die Christene se benadering tot gays is soortgelyk aan die van die Christene van Uganda, wat die beskouing huldig dat gays gedood behoort te word.
My les was dat God se hy sal sy eie nie verwerp soos wat ’n ouer sal doen nie, maar tog is daar menige gevalle wat hy dit juis gedoen het, onder andere Saul wat in vergeleke met die wandade van Dawid ’n engeltjie was. Ek is bewus van die teokrasie implikasie soos jy dit gemeld het, maar Saul het gepoog om weer met God reg te maak, en na herhaalde “cold shoulder” van God, hom uiteindelik tot die waarseers gewend om die "gees" van Samuel te vra om weer namens hom voor God in te tree. Die les. God het sy geliefdes, en voorkeure, onder andere Dawid en die Apostel Johannes, wat God in menslike terme, feilbaar maak.
Jaco Fourie


Kommentaar
Jaco,
Ek het gemeen dit is die ander Jaco, Fouche, wat die briewe oor God geskrywe het… daardie briewe is nou skoonveld – en nou reageer jy. Iewers was daar ’n gremlin.
Ewentwel.
Wat die Jamaikaan aanbetref wat sy seun wil laat vermoor omdat dié homoseksueel is, is afgryslik. Die feit dat ’n mens se kind homoseksueel is, maak jou as ouer beslis nie minder lief vir daardie kind nie, of só behoort dit immers te wees. Dit is ’n hartseer saak as die kind homoseksueel is, maar dit is geen grond vir vergelding teen die kind, nie. Die voorbeeld wat Jesus stel, is dat Hy streng is maar beslis niemand verwerp nie en ook nie verdoem, nie. Wat die Jamaikaan dus gedoen het (ek neem jou woord daarvoor, het dit nie self gelees nie), is op geen manier Christelike optrede nie. Sê die mens hy is ’n Christen?
Ek weet dat daar ander religieë is wat radikaal werk met hulle homoseksuele, maar dit hoort nie by Christene nie. In Afrika het jy nog baie Afrika tradisie wat die interpersoonlike verhoudinge diktee en vandaar die radikale optrede teen homoseksuele mense.
Ek moet ook vir jou sê dat sekere homoseksuele aktiviste ook maar nie weet waar om die streep te trek nie en dan kan dinge ook hande uitruk. Ek kan glad nie verstaan dat hulle só reaksionêr hulle homoseksualiteit wil bemark nie. Vir meeste mense is dit ’n onaanvaarbare lewenstyl, wat diep emosionele weersin kan wek – dit is eenvoudig maar net hoe dit is. Die aktiviste kan dit derhalwe ook in ag neem. Waarom is aktivisme hoegenaamd nodig? Dit doen báie meer kwaad as goed.
Jy is waarskynlik bietjie mildelik met jou syfers vir Christendom in Jamaika en ek het gelees dit is meer hier by die 60% of so. Maar mens kan glad nie sê die land is gewelddadig oor daar ’n meerderheid Christene is, nie. Dit is ook nie te sê dit is die Christene alleen, wat vir die geweld aandadig is, nie. Daar is baie armoede en soos ons hier ook sien, gaan dit met geweldsmisdaad gepaard. Christene is mos nie perfekte mense nie – is daar soiemand soos perfekte mens?
Ek dink dit is mense se optrede wat jou ’n aks teen God gee. God verwerp niemand, maar mense meen verkeerdelik dat God hulle verwerp. Mense, soos jy, verwerp wel vir God. Maar die interessante en wonderlikste is, as jý ten spyte van jou aanstootlike lewenstyl (verskoon die reguit wees, maar ek veroordeel jou nie) en jou verwerping van God, jou in opregtheid tot die HERE sou wend, sal Hy jou nié verwerp nie. Dus, jou verwerping idee is maar baie mens-gerig want jy meen God maak soos mense. God verwerp nie mense nie – maar Hy dring Hom nie op nie. Mense behoort te weet dat God hulle nie verwerp nie.
Dikwels is dit omdat mense as kinders bitter swaar kry, dat hulle dink God gee niks om nie – en word dan agnosties. Hulle agnostisiteit is dan meer ’n teenreaksie, ’n rebellie, as ’n diepe oortuiging.
Saul was nie opreg nie. Hy het herhaaldelik teen God se wil opgetree en uiteindelik wou hy waarskynlik slegs verhoed dat hy sy joppie verloor asook die oorlog – vandaar die toenadering tot God. Dus, dink daaroor, hy was nie meer geskik as koning van Israel nie. God het hom die kans gegee en ’n sterk volk tot sy beskikking gestel, met bekwame seuns. Maar toe probeer hy sy troonopvolger om die lewe bring, keer op keer en só gaan hy Goddeloos aan. En hy wat Saul was, was juis een van God se uitverkorenes – dus, jou konstruk oor witbroodjies en mufbroodjies vir God, is beslis nie só nie. God hét nie mufbroodjies en witbroodjies, nie.
Groete,
Kobus de Klerk