Titel: In die tyd van die gif, ’n jaar en ’n half in stories
Skrywer: Dana Snyman
ISBN: 9780624090885
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Hier is 2022!
2020 het nie regtig opgehou toe 2021 begin het nie. Dalk as gevolg van die streng inperkingsmaatreëls wat Oujaarsdanse en middernagdienste verbied het.
Ons is almal so moeg en sat vir COVID-19-variante en statistieke van die vorige 24 uur se verslagperiode dat ons nie eers agtergekom het watse fenomenale verskil die inenting in die syfers gemaak het nie. In hierdie ongekende gekheid kom ’n man met sagte oë en ’n meesterlike skryftalent na vore met ’n boek wat die nuwe testament van hierdie eeu is.
Ons is so hard besig om na groot en ingewikkelde oplossings te soek vir ons stukkende Suid-Afrika, en miskien is die antwoord iets eenvoudig – glad nie wetenskaplik of akademies nie, geen ingewikkelde formule of klousule uit die Grondwet of konkordaat nie, geen kommissies en versoeningstribunale nie. Dit kos nie ’n enkele sent nie en almal kan dit kry en uitdeel sonder ’n enkele kursus of jare lange uitmergelende studie.
Alles is van verbygaande aard. “This too shall pass.”
Daar is net een ding wat van altyd af nog daar was en vir altyd sal bly bestaan (en nee, dis nie kokkerotte nie). Dit wat in alle tale en kulture woordeloos verstaan word: liefde. Dis dit. Niks meer nie en niks minder nie. Net liefde.
Ons moet onleer (“afleer” klink te maklik) om te probeer verstaan hoe alles verval en vernietig word en miskien met eerlike eenvoud na mekaar begin kyk, sonder enige verwagtinge, mekaar toelaat om te wees wie ons is, om te luister eerder as om te praat, om in stilte gemaklik te wees met jou eie geselskap, om te begryp dat jou Dom Pérignon in iemand anders se hand dalk niks anders is as ’n Black Label Quart nie. Dat my Merc (nou nie dat ek een het nie) my na presies dieselfde plek toe vat as daardie Nissan 1400 wat stampvol gelaai is, met ’n hele paar goed op die dak vasgemaak. Dat my Egiptiese-katoen-lakens op my Tempur-bed net so ’n goeie nagrus kan gee as die volgende ou se sponsmatras in die voorhuis op die vloer met sy Pep-beddegoed, of dalk die kenmerkende grys komberse. Dat my vierslaapkamerhuis, met en suite-badkamers dieselfde veilige spasie is vir my as wat ‘n vier-vierkante-meter-sinkhuis (beter bekend as shacks of hokke) met ’n wasskottel vir badtyd en skottelgoed vir iemand anders is.
Ons wil nie regtig weet van hierdie dinge nie. Dit is makliker om na ’n Netflix movie te kyk as om op SABC2 die benarde sosiale situasie in ons land te sien. As jy miskien die bedelaar lank genoeg ignoreer, gaan hy en sy verflenterde lewe dalk verdwyn. Maar hy is getrou elke keer daar met dieselfde karton om die nek: “Please help. No job. No money. Children hungry. Wife angry. God bless you.” Als in skewe, krom skrif geskryf op daardie selfde karton waarin die nuutste flat screen smart TV was. Die gewers is gedaan gegee, want môre is dieselfde man of vrou daar met dieselfde storie.
Dana het dieselfde hamer oor en oor “gekoop” om dit maar net weer terug te gee sodat hy dit ’n volgende keer weer kan gaan “koop”. Elke keer moes hy hoor: “I have no nothing, fokkol, my lanie.”
Tydens hierdie pandemie het ons almal so ’n bietjie van hierdie no nothing, fokkol ervaar. Daai laaste bottel wyn en heel laaste sigaret in jou pakkie Peter Stuyvesant. Toe was die meeste rokers van alle stande bereid om R150 te betaal vir ’n onwettige pakkie JFK en ewe skielik het daar baie ghrênd motors voor die spaza shops gestaan. Baie van hulle. Elke dag.
Miskien is Covid nie net sleg nie; miskien is dit ’n gelykmaker en ’n ontlonter van die regte egte toestand van ons wêreld; nie die romantiese voorbladfoto’s van lady Di met die loopneuskindertjies op haar skoot nie.
Wat het al hierdie goed met Dana Snyman se nuutste boek, In die tyd van die gif, te doen?
In kort, alles.
Hy vat jou saam op sy treinrit deur die vervalle Covid-landskap, wat besaai is met korrupsie, selfverryking, ook gebrek aan onderhoud en vooruitgang. Dit is ’n landskap met stories van mense en plekke wat lief is vir mekaar en die land, ten spyte van die feite en statistiek. Mense wat almal net probeer oorleef, amper soos dié wat agtergebly het na die wegraping.
Ons sing nie almal uit dieselfde liedereboek nie en ons bid nie almal op ’n Vrydagmiddag na 12h00 nie, maar miskien, net miskien, is ons almal maar op pad na Durban, KwaZulu-Natal toe en miskien kom ons almal ook van Durban, KwaZulu-Natal af.
Jou hemel en myne is heel waarskynlik presies dieselfde plek, daar waar liefde heers en vrede regeer. Jou Valhalla is dalk iemand anders se ewige Ooste. Dit maak myne nie meer reg as joune nie.
Dit is presies waarom dit mistiek en ’n geheimenis sal bly.
Ons ken ten dele, en ons verstaan ten dele.
Kom ons wees dan ten minste ten volle lief vir ons land en sy besonderse mense. En vir ons diere, veral vir ons diere.
Ek dink nie enige iets kies om gebore te word nie, maar ons is nou hier, met of sonder ‘n keuse. Kies asseblief om te glimlag, al is dit met of sonder tande. Agter jou masker in die publiek, asseblief, anders kan daai smile jou dalkies net R500 uit die sak jaag.
Net soos hierdie nuwe Omikron-variant is liefde uiters aansteeklik.
Sal dit nie fantasties wees om met ’n liefdespandemie besmet te word nie? Dit begin by my en jou. Waarvoor wag ons?
In die tyd van die gif deur Dana Snyman was my boek van die jaar 2021.



Kommentaar
Ek waardeer die indruk maar sou meer spesifieke detail wou sien ten opsigte van die inhoud van die boek en jou opinie oor spesifieke verhale in die boek. Meer gefokus, met ander woorde. Jy noem net so vinnig die storie van die hamer en ook die treinrit. Dit was juis van die verhale in die boek wat vir my minder interessant was. Nietemin, dankie.
Baie dankie Barend. Ek waardeer elke voorstel en raad opreg. Dit is ’n splinternuwe avontuur vir my, en ek leer graag.
Barend, ek dink jou kommentaar het te make met die verskil tussen ’n formele resensie en ’n lesersindruk. By eersgenoemde sal mens die dinge verwag wat jy noem, maar nie noodwendig by laasgenoemde nie.
Alta ek voel steeds dieselfde. Of dit nou genoem word 'n resensie, 'n lesersindruk, of hoe ook al. Dit is nie kwaadwillige kommentaar nie. Ek hou van die dele wat oor die boek se inhoud uitwei. Die res is ook interessant maar dis amper meer 'n motiveringstoespraak as 'n indruk van die boek. Maar ek lees graag Burger se indrukke.
Alta, stem 100% saam, Annemarie skryf altyd uit die hart, met liefde en deernis tot die hart, dankie.
Baie, dankie vir julle reaksie. Dit is alles nodig vir my om te groei. Ek is dalk oorversigtig om te veel van die boek te verklap, sonder om die storie weg te gee. Ek is bly dat jy dit 'n motiveringstoespraak noem en nie 'n preek nie, Barend. Ek weet nie of jy na die aangehegte onderhoud geluister het nie, maar my lesersindruk is 'n kombinasie van die gesprek wat ek met Dana gevoer het en dit wat ek gelees het. Dankie Alta en Mart. Barend, ek gaan beslis 'n kursus of twee doen om die beginsels en fondasie van resensie te verken. LitNet bied 'n fantastiese platform vir hierdie tipe gesprekke, en ek waardeer dit opreg.
Dankie Anne-Marie, ons weet Dana kyk diep en skryf raak, jy verwoord
met deernis en verstaan. Genade en liefde, sagte aanslag is wat almal
nou nodig het.
Baie dankie, Marti!
Nee, nie gesien, dankie. Ek sal bietjie die video kyk. Bestaan daar ooit so 'n kursus? Nie dat jy hoef geleer te word hoe om te skryf nie; jy skrywe reeds goed genoeg.
Barend, ek is seker ek kan so iets in die hande kry. Dankie vir die kompliment. Ek sal jou laat weet sodra ek dit kry.
Ek gaan so 'n paar paragrawe hier cut en paste in 'n Notepad-dok om te gebruik as antwoord op die hordes glas-dolleeg Facebook-kommentare wat deesdae so 'n pes is.
Dankie Charl, dis fantasties.