Uit Ouma se fotoalbum (vir Ingrid)
en hierdie was jou ouma:
jy het haar naam geërf –

Ingrid Jonker (foto: Dalene Fowler-blog)
haar hare
was donker
soos joune, my kind.
hierdie was haar woorde:
“Want alles gevorm, voltrek of begin
– soos die lewe verwek in die skoot –
het geen ander volbrenging
as in die dood.”
sy kon gedigte
aan die hemelruim hang
om geboorte te gee
aan dit wat ek eendag
óók aan jou sal gee, my kind.
sy kon hulle laat praat
vir jou broers en susters
wat óók die groot pad
terug mos aanpak
oor die dubbeldorings
na die fontein se oorsprong toe
nou word hulle gesing
hulle word ontvorm en gedeel
om ’n plekkie
vir jou
en al die ander “wesies”
in die geskiedenis agter te laat
jou ouma het onsterflikheid
so goed geken
dat sy jou – as woorde – langs Gugulethu
en al die ander graffies daar rond
kon gaan neerlê het
sodat ek en jy nou
– in haar woorde –
die pas moet aangee
van dit wat nog altyd só vars
in haar skoot sal bly skuil:
dít wat ek nog
vir jou wou sê
maar toe onthou het
Ouma was die digter
en jy
dalk net
die gedig