Uit die kussings lig

  • 4

Ek voer haar ontbyt. Hawermoutpap, happie vir happie. Ek vee haar ken met ’n klam waslap af. Dis asof ek teerder, geduldiger is ná die kussingvoorval. 

In die boog van haar hooghartige nek huiwer die skadu van die skoonheid wat sy eens was. In die dae toe almal van ons – ek, my broertjie en my pa, ja selfs die huiskat – haar bewonderaarsklub was, haar rasieleiers, haar pom-pom-poppies.

Ek lyk na my pa, maar die look werk beter in ’n man: groot kop, dun hare, klein, nadenkende ogies, geen nek om van te praat nie. Net my broertjie het haar skoonheid en haar swaannek geërf. En haar sjarme. En haar honger na die bewondering van mans. En wie voer haar oats en dep die kwyl van haar ken af? Nie hy nie. So is die lewe.

Ek en my pa was nooit opgewasse teen haar nie. Ons het vrede heeltemal te lief. As jy reïnkarnasie die skuld wil gee, was ons vier in vorige lewens haar onderdane. Die fut en veggees het ons millennia gelede verlaat. My pa het haar in hierdie lewe op die hande gedra en tot in die afgrond bederf tot hy, in der dagen sat, die handdoek ingegooi het. Die gees gegee het. Sy het hom doodgeleef. En vir my.

Ek het nooit die huis verlaat nie. Ek het nooit selfvertroue of ’n selfbeeld ontwikkel nie. Daar is ’n lewensdrang wat ontbreek. ’n Woede. Verontwaardiging. As ek ’n gas-geyser was, kon jy sê my vlammetjie brand laag. Ek is haar sipier, haar laksman, haar nurse en haar vroedvrou. En daar is geen voornaamwoord waarmee ek haar mag aanspreek nie. Ek vind troos in stysel en suiker.

Die huis waarin ons woon, is ’n herehuis waarvoor my pa hom krom gewerk het. Dit was afbetaal, maar intussen is dit vrot van die verbande. Ons bly op die boonste vloer. Onder woon die loseerders, haar gabbas, haar bewonderaars. My pa is twintig jaar gelede oorlede, toe die nadraai van haar tydlose skoonheid nog soos ’n sweem parfuum om haar gehang het. Hy het sy geld in ’n trust nagelaat in die hoop dat dit sou hou. Ek is die begunstigde, sy die rentebegunstigde. My broertjie was voor my pa se dood reeds baie welgestelder as my pa en het reeds sy regop rug op ons gekeer. Die prokureur met wie sy ’n verhouding gehad het, het onregmatiglik reusebedrae na haar rekening laat oorplaas. Op die rente van wat oorgebly het ná haar oorsese reise en plastiese chirurgie leef ons, net-net, met haar chroniese medisyne, volwassene-luiers en die huisverband ’n oop drein.

My broertjie het ’n sakeryk gevestig as stylghoeroe. Hy is ’n handelsmerk, ’n huishoudelike naam. Hy besit skoonheidsreekse en winkels en het sy eie TV-program. Hy het van haar geskei, wettiglik. Sy cramp sy style, glo. Hy het die krane toegedraai en handhaaf geen kontak nie. Hy sal my nie op straat groet nie, wat staan nog ’n makeover gee.

Daar was glo nie geld vir my om te gaan studeer nie. Ek het eers by prokureurs gewerk, maar om haar op te pas, is ’n voltydse werk en ’n uitgawe waarvoor sy nooit begroot het nie. Sy is al oor die negentig, skerp soos die lood van ’n pacer, ’n meganiese potlood. Sy het geen voorneme om die aftog te blaas nie. Sy sal vasklou met haar persbeaarde hande waarvan die vingers nog lank en elegant is. Sy het nie ’n rakleeftyd nie.

Dis tog asof die dinamika tussen ons effens verander het ná die kussingepisode. Asof die wipplank eindelik grondwaarts begin neig, in my guns. Die gevoel van mag benewel my en maak my bang. Dis asof ek nou iets anders in haar oë sien: nie vrees nie, maar … iets wat grens aan respek. Ons praat nie oor die voorval nie.

Met haar enkele besoekers, die loseerders en die droesems van haar bewonderaarsklub, het sy skynbaar ook nie daaroor gepraat nie. Miskien sal dit haar sleg laat lyk, weerloos, onbemin, nie in aanvraag nie.

Soms is ek steeds nie seker of dit ’n droom was nie. As ek daaraan terugdink, voel dit heeltemal onwerklik. Ek was by my volle verstand, kalm, nie verblind of in ’n waas van woede soos mense dikwels in die hof pleit nie. Daar was geen suising in my ore nie en ek het presies geweet wat ek doen. In my arms en hande wat die kussing afdruk, was die krag van jare en jare se vernedering. Maar die krag het my arms abrup verlaat; dit het eenvoudig weggesypel soos die moed van my oortuiging. Die kussing het uit my greep gegly en langs haar gesig gaan lê. Ek en my pa is swakkelinge met dun hare en ronde skouers.

Ek en sy het in elk geval lankal ophou praat. Daar is niks oor om te sê nie. Sy praat met haarself: lang, intelligente gesprekke in haar gemoduleerde stem, met argumente en teenargumente.

Ek en sy is mekaar se lot. Ons albei ly teen dié tyd aan Stockholm-sindroom. Ons is soos geslane vroue: te skaam om uit te praat, skaam om deel van so ’n vernietigende, verfoeilike dinamika te wees.

Toe sy jonk en magtig was, toe ek haar nog liefgehad het, het sy al haar rojale uitgawes aan klere, skoene, skoonheidsprodukte en reise – dit terwyl daar glo nooit geld was om my skewe tande te laat korrigeer nie – só geregverdig: “Jou beurt sal kom.” Dit het nie. Gekom nie. My beurt.

Toe ek jonk was en per geleentheid “onnatuurlik” geheg geraak het aan ’n vriendin of twee, het sy met die volle inset van haar formidabele persoonlikheid die verbode liefde tussen vroue vergat, verdoos en verdag gemaak, dag vir dag. Sy het selfs die skadu van die moontlikheid van ’n verhouding vir my in die kiem gesmoor. Met mening. Sy het my hart doodgewurg, die lewelose ding nog ’n draai of twee gegee, dit in die stof laat val, haar vingers vies afgeskud en die pap gemors onder die hak van haar stiletto vergruis. So, ja. Sy hou nie van vroue nie. Sy hou van mans. As geselskap, speelmaats, platoniese vriende, minnaars. Alles. Wat is ek?

Maar iets donker en naamloos is aan die groei in my. ’n Verset. Doodgebore en mosterd na die maal, maar lelik en verbete. Soos my skewe tande. Ek weet sy sukkel met haar tande en met peristalse, maar ek het weer begin om rosyne saam met haar hawermoutpap te kook. Selfs ’n heel amandel of twee. Dis ’n kwessie van tyd.

Vanoggend toe ek haar voer, gebeur dit. Sy stik. Haar gesig word rooi en toe pers. Haar oë peul uit. Hulle is briesend. Daar is niks smekend in haar oë nie, daar is net woede. Sy is heeltemal te trots om te smeek. Ek hou haar asof van ver dop. My arms hang lam en slap langs my sye. Só het sy my nog altyd laat voel. Magteloos. Ek tel tot tien. Twintig.

Dan, asof in ’n droom, gaan staan ek agter haar en voer die Heimlich-maneuver uit. Die amandel skiet oor die lengte van die vertrek. Sy word slap in my arms, maar sy haal asem. Ek gaan haal die waslap en dep haar gesig. Teer.

Ek en Mamma is mekaar se hel.

  • 4

Kommentaar

  • Sarah Engelbrecht

    Net 'n paar absoluut onvergeetlik paragrawe! Die kussing, die narsisis en die verontmagtigde, 'n spel tot die dood. Ek dink dit is 'n briljante stukkie skryfwerk. Dankie.

  • Maruanda Wynne

    Jy sal asseblief 'n opvolg moet skryf, ek gaan nou heeltyd wonder hoe dit met jou gaan. Rou eerlik geskryf, dit moes baie energie geneem het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top