
Foto: Canva
U is
U het plek gemaak vir my
sodat ek by die groot “Ek is” kan wees
Sonder vereistes sonder pretensie weet ek:
Wie U is, is genoeg vir my.
U is my Vader en is onbegrensde genade
U is my Here en is onbegrensde verlossing
U is my Trooster en is onbegrensde teenwoordigheid
Wie U is, is genoeg vir my.
So kan ek verseker weet
daar is lig voor en na die lewe wat gebeur
Niks van my bestaan buite “U is” nie
Wie U is, is genoeg vir my.
Niks kan die opstanding en die lewe troef nie
selfs die Ooste en die Weste word gelyk deur U omvou
Met U wagters op die mure bevestig U
Wie U is, is genoeg vir my.
Vader, leer my hoekom alles genade kry
Jesus leer my wat alles deur verlossing bevry
Heilige Gees leer my om in U leiding te bly,
want wie U is, is genoeg vir my.

