"U eie keuse" deur Erika Barnard

  • 0

U eie keuse

1949 en Pa is weg
ek’s vyf en Ma stuur my na die poskantoor
maar die koevert is  nie daar
en ek sê die onderhoud is laat

Ma sug; gee musiekles tot nege-uur saans
Boetie is nou  die man in die huis
hy stook vuur vir die smeulstoof
en ek maak die kos

maar Saterdagaand is U eie keuse
net ons drie op Ma se bed
die bedlampie brand flou en ons luister
“Die blou Donau”, “Die slawekoor” en Fritz Kreizler

dis Fritz Wunderlich en “Rustle of spring”
en Ma huil met “Saggies ontwaak my hart”
dan raak ek bang want Pa is méér as net weg
en Boetie kyk op sy oë styf en blink

nou’s U eie keuse al ses-en-sestig
en die oudste program in Afrikaans
want ’n radio speel vir eensame mense
want ’n radio speel vir deursigtige mense

die radar van oudword span  kleiner –
geslagte al speel ons dieselfde plate
want dis U eie keuse
en die verlange na my ma word meer

soms verbeel ek my ek sien haar
verglans in ’n goue stilte voor haar klavier
en sy luister na die eter
maar sy is weg en hemel is ook eter

dan speel die radio agtuur Saterdagaand
en nostalgies skuif ek nader
want ’n radio speel vir eensame mense
want ’n radio speel vir deursigtige mense

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top