
Foto: Canva
Tyd loop uit die vertrek uit
Stadig draai tyd om
loop uit die vertrek uit –
personeel trek die laken oor:
die uur van heengaan neergeskryf.
Die dokter praat buite met die geliefdes;
mense se harte ruk uitmekaar,
hulle staan verdwaas.
Staar na niks,
want nou is daar niks.
Tyd het gestop,
die vertrek verlaat.
Al wat nou oor is,
is daardie kleipot
wat hulle gaan begrawe,
om te vergaan in die grond.
So is lewe,
dan kom die dood
vir alle mense,
klein en groot.
Soos die verderf begin
in die liggaam,
begin die vergeet in gedagtes.
Vir party gou,
vir ander langer,
vir sommiges nooit –
daardie dag,
as tyd uit die vertrek uit loop.

