"Tyd" deur Willie Louw

  • 0

Tyd

Sien, ek was vyf jaar oud toe koop my pa vir my ’n horlosie
Splinternuut, in ’n goud en silwer dosie
Dis nou twaalf jaar later en die tyd het nooit gestop nie
My horlosie is al weg, maar tyd hou net nie op nie
En ons gaan almal alles mis as ons nie mooi pasop nie
Sedertdien het ek al ander horlosies gehad
Maar sedertdien was ek ook al baie laat
Want my horlosie wys die tyd, maar dit gee dit nie vir my nie
Maak nie saak watse maak dit is nie
Ek kan net nie tyd vir myself kry nie

Tik tik tik tik
Die geluide maak my sommer mislik
Dis die metronoom van dood
Tik tok tik dood
Voor jy weer sien is jy groot
Maak jou oë toe en jy’s dood

Soos ek hierdie woorde skryf loop die tyd nog verder
Die hede is my herder
Die woorde is gesteel uit ’n groot boek wat ek lank terug gelees het
En wat nog langer terug geskryf is
Ek wonder of die skrywers van daardie boek ook hulle tyd mis
Maar dit maak nie saak nie want dis ook in die verlede
Ons is in die wrede hede
En ons kan nie meer tyd mors nie

As jy vir my ’n antwoord het kontak my asseblief
Sê my hoe ek tyd kan steel, want ek het my lewe lief
Ons lewe mos in die tyd van die regverdige dief

En hoe kan die mense in Australië al môre vandag hê?
Ek soek nie môre nou nie, ek wil eers nog bietjie lê
Maar maak my wakker as die son opkom, ons het nie tyd vir lê nie
Ons almal leef gejaag, maak nie saak wat jy sê nie
Want dis die vroeë voël wat die wurm vang, maar die tweede muis kry die kaas
Ek sal altyd tweede kom, kry ek net die kans

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top