Die aarde se as is effens gekantel tov die vlak van sy baan om die son. Natuurlik is dit nie nuus nie maar indien dit nie die geval was nie, is van die interessante implikasies wat dit tot gevolg sou hê oa dat: die aarde nie seisoene sou hê nie; die son altyd reg bo die ewenaar sou skyn en die son by die pole deur die hele jaar altyd presies al op die horison sou beweeg en elke 24 uur ’n volledige sirkel rondom die pool sou voltooi — linksom by die suidpool en regsom by die noordpool.
Die as is feitlik teen ’n konstante hoek gekantel wat tans 23.44° is. Dit verander teen minder as ’n ½ hoeksekonde per eeu en sal vir die volgende een miljoen jaar (tien duisend eeue) tussen 22° en 24° wissel.
Alhoewel die hoek waarteen die as gekantel is, op die kort termyn dus feitlik konstant bly, verander die rigting waarin dit gekantel is deurlopend as gevolg van ’n tolbeweging wat die aarde uitvoer en wat presessie genoem word. Presessie geskiet in die teenoorgestelde rigting as wat die aarde roteer.
Op meegaande animasie kan gesien word dat die rigting waarin die aarde sê as gekantel is, elke 13 000 jr. in die teenoorgestelde rigting wys (steeds teen dieselfde hoek natuurlik), wat beteken dat die winter en somer seisoene op die aarde omgekeer word. Nadat die verskynsel van presessie ontdek is, was die oorsaak van die seisoene wat stadig verskuif, nie meer ’n geheim nie en is die tropiese jaar, wat op die deklinasie van die son gebaseer en 20 min en 23 sek korter as die sideriese jaar is, in gebruik geneem vir die kalender. En daarmee is die probleem toe uiteindelik hokgeslaan.
Let daarop dat in die animasie die aarde voorgestel word met suid bo en die ster Polaris reg bo die noordpool, aan die onderkant. Let veral op dat Polaris tydens presessie sy status as poolster verloor en dit eers weer elke 26 000 jr. herwin.
Groete
Panda


Kommentaar
Uitstekend Panda!
Inderdaad 'n goeie brief.