Twintigste internasionale persvryheidsdag vandag gevier

  • 1

3 Mei 2013

Besef Suid-Afrikaners werklik die belangrikheid van pers-, of dan mediavryheid?

Internasionale persvryheidsdag word vandag vir die twintigste keer gevier na die VN se Algemene Vergadering twee dekades gelede op 3 Mei vir die jaarlikse herdenking besluit het.

Hoeveel koerante het vandag enigsins hierna verwys? Teen elfuur het RSG nog soos die graf geswyg. Van ongeveer 2003, so dui Media 24 se koerante se elektroniese argiewe aan, het nuusdekking oor Verslaggewers sonder Grense so te sê opgedroog. Dit val saam met toe Suid-Afrika se geleidelike agteruitboer op die persvryheidsindeks begin het. Selfs Freedom House beskou Suid-Afrika nou slegs gedeeltelik persvry.

Vanjaar se herdenking volg net ‘n week na die sogenaamde snoerwet deur die parlement gestoomroller is.

Vanjaar het 19 joernaliste wêreldwyd reeds hul lewens in die uitvoering van hul werk verloor. Nege mense wat nuus deur die internet versprei of as joernaliste vir die internet werk, het ook reeds vanjaar die hoogste prys betaal. Voorts bevind 174 joernaliste hulle agter tralies, en 162 internetjoernaliste is ook in aanhouding.
Verslaggewers Sonder Grense, het ter herdenking van die geleentheid verskeie nuusverklarings uitgereik, waarvan een spesifiek teen pres Robert Mugabe, en een teen koning Mswati III gemik is.

Finland, gevolg deur Nederland, word op die jongste indeks as die mees persvrye lande ter wêreld beskou. Eritrea klop Noord-Korea om die laaste plek. Suid-Afrika beklee nou die 52ste posisie na dit in 2003 nog die 21ste posisie beklee het en die mees persvrye land op die kontinent was. Namibië, in die 19de plek, is nou die mees persvrye land in Afrika. Altesaam sewe Afrikalande vaar nou beter as Suid-Afrika.

Verslaggewers Sonder Grense se kritiek op Suid-Afrika het in felheid toegeneem namate die snoerwet meer en meer ‘n voldonge feit geword het, en hoewel die verbeterings aan die wetgewing erken word, is nog goed mond uitgespoel na dit deur die parlement gestoomroller is. Suid-Afrika sal dus na verwagting skerp terugval wanneer die volgende indeks vroeg volgende jaar die lig sien.
Die effektiewe ontwikkeling van ‘n tweepartybedeling in Suid-Afrika, en die wyse waarop ‘n groot deel van die media minder gereeld die politieke diversifikasie in die land weergee, strem ook Suid-Afrika se posisie op die indeks.

Trouens, die vraelys om ‘n land se posisie op die indeks te bepaal, is yslik dik, en sluit veel meer is as net beperkende maatreëls wat deur regerings ingestel word. Sakelui, hetsy as adverteerders of as mediamagnate (soos Berlusconi in Italië) se vermoë om nuus te plooi speel ‘n rol. Koerante se eie politieke kantkiesery speel ook ‘n rol tensy die hele mediapakket van ‘n land in totaal die politieke spektrum weerspieël. Politieke korrektheid is ook nie vars nie.

Herman Toerie

  • 1

Kommentaar

  • Persvryheid is in 'n kopklem in die VK, en dis verstaanbaar na blou jarre se manewales van die sg joernaliste en korrupte polisie en politici lekka kop in een hol daar...mense is siek en sat om belieg en beswadder te worre...

    In die VSA bestaan persvryheid eenvoudig nie...
    Maar wat het Mugabe met dit alles uit te waai???
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top