Tweelingpsalms baan weg na gebed vir Afrika

  • 2

’n Identiese tweeling lyk op ’n druppel water na mekaar. Hulle gesigte, oë, hande, lyf, voete, woorde en lag. ’n Gewone tweeling het soveel trekke dat ons dit kwalik kan miskyk. Daar is selfs ooreenkomste in hulle handelinge en woorde.

Wanneer ons stip na die opbou van Psalm 111 en Psalm 112 kyk, merk ons op dat die twee psalms ’n tweeling is (Zimmerli 1972:105–13).

Psalm 111 se opbouskema sien soos volg daaruit (Zenger 2008:226):

I Opening: aankondiging van dank met verklaring van rede / inhoud

1 Selfaanhef tot dank en opgawe van bekendmaking
2 Aanleiding van tema van dank en werk van die Here
3 Bewys van die Here se regverdige wêreldkoninkryk

IIA Eerste hoofdeel: die heilsdade van die Here vir sy volk

4 Eksodus (wonderdade)
5 Woestyntog (voeding)
6 Gawe van land (bewys van mag)          

IIB Tweede hoofdeel: die tora as heilsgawe van die Here vir sy volk

7 Gawe van die tora (sy voorskrifte)
8 Lewendigheid van die tora (om in trou te vervul)
9 Heilsmag van die tora (verlossing)

III Slot: die ware wysheid

10a–b Vrug van die Here as ware wysheid
10c Lof aan die Here

Psalm 112 het die volgende opbouskema (Zenger 2008:239):

I Opening: saligprysing van die wat ontsag vir die Here het

1 Vreugde in die gebooie van die Here
2 Invloedryke nakomelinge
3 Rykdom en geluk

IIA Eerste hoofdeel: die geregtigheid van die wat ontsag vir die Here het

4 Lig in die duisternis (teofanie-motief)
5 Solidêre hulp deur lening
6 Paradigmatiese geregtigheid

IIB Tweede hoofdeel: die houding teenoor slegte tyding

7 Onvernietigbaarheid ondanks slegte tyding
8 Onverskrokkenheid ondanks vyandelike bedreiging
9 Ruimhartigheid teenoor die behoeftiges

III Slot: lot van die goddelose

10ab Die reaksie van die goddeloses
10c Die skrik van die goddelose

Die tweelingpsalms (Zenger 2008:234, 242, 245) is in vorm en inhoud baie na aan mekaar. Die tweeling is egter psalms in eie reg.

Die ooreenkomste van die psalms kan soos volg saamgevat word: Albei psalms se eerste versreël begin met ’n volgende letter van die Hebreeuse alfabet (Prinsloo 1991:55). Dit gee op hierdie manier ’n binding aan die psalms aangesien elke versreël aan die voorafgaande geheg is. Dit is verder opvallend dat die versreëls by albei psalms halwe versreëls is (Prinsloo 1991:55). ’n Groot aantal woord- en fraseherhalings kom by die psalms voor. Dit is opmerklik dat Psalm 112 ’n nuwe betekenis aan die woorde en frases wat uit Psalm 111 gebruik word, gee. Die woord opregtes kom telkens voor. Psalm 111 verklaar dat die Here in die byeenkoms van die “opregtes” geloof moet word, terwyl Psalm 112:2 na die “nageslag van die opregte” verwys. In Psalm 112:4 is daar sprake van ’n lig wat skyn vir die opregtes; Psalm 111:2 en 112:2 verwys na die mens se vreugde ten opsigte van die werke en die gebooie van die Here.

Volgens Psalm 111:4 sorg die Here daarvoor dat sy magtige dade nie vergeet word nie, terwyl Psalm 112:6 dieselfde woord gebruik om te sê dat die regverdige vir altyd onthou sal word. Terwyl die woord voorskrifte in Psalm 111:7 gebruik word om aan te toon dat die dade van die Here “reg” is, word dit in Psalm 112:5 gebruik om aan te toon dat die regverdige reg optree. Psalm 111:8 wys daarop dat die “voorskrifte” van die Here vir altyd geldig is. In Psalm 112:8 word die woord gebruik om die vastigheid van die regverdige se hart (denke, oortuigings) aan te dui. Psalm 111:10 verklaar dat die roem van die Here altyd sal standhou en in Psalm 112:9 word dieselfde uitdrukking gebruik om te sê dat die “opregte” se “geregtigheid” vir altyd standhou. Soos wat die Here “kos” gee vir die wat Hom “vrees” (Psalm 111:5), só “gee” die opregte ruimhartig vir die arme. Psalm 112 begin eintlik waar Psalm 111 ophou: Psalm 111:10 sê dat ontsag vir die Here die begin van wysheid is, terwyl Psalm 112:1 verklaar dat dit goed gaan met elkeen wat die Here dien (“vrees”) (Prinsloo 1991:55).

Die merkwaardige is dat die uitdrukkings wat in Psalm 111 van die Here en in Psalm 112 van die regverdige gebruik word, dieselfde is. Dit word nog helderder wanneer Psalm 111:4b met 112:4b vergelyk word. Die bekende geloofsuitdrukking genadig en barmhartig word in Psalm 111 aangewend om die dade van die Here te beskryf. Daar is reeds na die Here se “geregtigheid” in vers 3b verwys. In Psalm 112:4b word die drie deugde saamgevoeg. Die opregte is ook “regverdig”. Uit hierdie voorbeelde lei ’n mens af dat die regverdige mens in Psalm 112 op ooreenstemmende manier beskryf word as wat die Here in Psalm 111 beskryf word.

Om ’n indruk van die algemene samehang van Psalm 112 te kry, moet daar aan die woord- en fraseherhalings aandag geskenk word. Die naam van die Here kom slegs twee keer voor (vers 1b, 7b). Die stam ירא kom drie keer voor. Een keer in die vorm van ’n selfstandige naamwoord (vers 1b) en twee maal in die vorm van ’n werkwoord (vers 7a, 8a). Dit word in laasgenoemde gevalle deur die negatiewe partikel “nie” voorafgegaan. Die woord opregtes kom twee maal in die psalm voor. Die eerste deel van die psalm fokus op die opregtes, terwyl “die goddelose” in die laaste deel van die psalm hulle verskyning maak (vers 10a, 10c).

Die woorde wat die meeste voorkom, is sy geregtigheid (vers 3a, 9b); regverdig (vers 4b) en regverdige (vers 6b). Die tydsaanduiding vir altyd kom twee keer voor (vers 2a, 6b). Die werkwoordvorm hy sal wees word in twee versreëls, naamlik vers 2a en 6b, aangetref. Dit wys op ’n gunstige toekoms vir die regverdige. Die woord hart kom in vers 7b en 8a voor. Dit dui elke keer op die regverdige. Die hart is die orgaan van die verstand en die gevoel. Gevoel is egter nie net tot die hart beperk nie, maar word saam met niere en lewer gebruik (Frevel 2006:3). Die werkwoordvorm hy sal sien word in die een geval van die regverdige wat op sy vyande neersien (vers 8b) gebruik en in die ander geval om te kenne te gee dat die goddelose die verhoging van die regverdige sal sien (Prinsloo 1991:57).

Daar is in Psalm 112 ’n oorvloed woordpare. “Oorvloed en rykdom” (vers 3a); “genadig, barmhartig en regverdig” (vers 4b); “wat goedhartig is en uitleen” (vers 5a); “hy is gerus [...] hy vertrou” (vers 7b); “hy voel veilig [...] hy is nie bang nie” (vers 8a); “hy deel uit [...] hy gee” (vers 9a). Die goddelose sien dit en “vererg hom” (vers 10b); “hy kners op sy tande” en “kwyn weg” (vers 10b) (Prinsloo 1991:57).

Maar die vraag is: Wat is die aard en funksie van die soort poëtiese komposisie? Watson (1986:198) gee hiervan ’n betekenisvolle samevatting:

  1. Deur die gebruik van elke letter van die alfabet probeer die digter ’n tema volledig behandel. Die leser ervaar dat die gedig vanuit verskillende perspektiewe ontgin word. Volledigheid en afgerondheid is dus die sleutelwoorde.
  2. Deur dié vorm vir sy gedig te verkies, vra van die digter vernuf en vaardigheid.

Vers 1 is ’n saligspreking waarmee Psalm 112 begin. Dit geld vir die leefwyse van die regverdige en bestempel hom as “gelukkig”. Die weg na geluk is vreugde in die gebooie van die Here wat as ordening vir die heilvolle saambestaan gegee is. Dit is die kompas vir die lewe. Die regverdige kom die gebooie van harte en met hartelus na. Dit is vir hom sy hoogste vreugde (Zenger 2008:239).

Vers 1b en 1c is sonder twyfel nou verbind. Die regverdige dien die Here (vers 1b) en hy vind daarin vreugde (vers 1c). “Sy nageslag” (vers 2a) verwys na “die een wat gelukkig is” (vers 1b). Vers 2b kan op twee maniere verstaan word. Aangesien sy nakomelinge opreg leef, sal hulle deur die Here geseën word. Mense rondom hulle sal hulle prys op grond van hulle opregte lewe. Die tweede rede is volgens die konteks die verkieslikste (Zenger 2008:240).

Vers 3a skakel om ’n paar redes met vers 2a–b. Die tema van seën wat die regverdige en sy nageslag sal toekom (vers 2a–b), word hier voortgesit. Vers 2a praat van “sy nageslag” en vers 3a van “sy huis”. Vers 3a meld dat die regverdige met lewensmiddele geseën sal word. Rykdom en welvaart pronk in sy huis (Zenger 2008:240).

Vers 3b skakel deur “sy geregtigheid” met die voorafgaande. Sy geregtigheid, dit is die heil wat die Here aan hom geskenk het (vgl Psalm 24:5b), staan nie in die skadu van verganklikheid nie. Die geregtigheid is soos ’n blywende seën oor hom en sy nakomelinge (Zenger 2008:240). Die regverdige leef deur sy nageslag voort.. Hierdie versreël het in die psalm ’n belangrike funksie omdat dit as refreinvers gebruik word (vgl vers 9b). Hiermee word ’n sentrale motief beklemtoon.

Wie is die handelende persoon in vers 4a? Is dit die Here wat sy lig laat uitstraal of is dit die opregte? Die opregte tree deurgaans as handelende persoon in Psalm 112 op (behalwe vers 10a–c). Die regverdige loop in sy Pa se skoene. Alles wat in Psalm 111 van die Here gesê word, word nou van die regverdige gevra. Hy is ’n lewende beeld van die Here. In Psalm 111 is die regverdige die ontvanger van seën; nou deel hy dit mildelik uit (vers 4a) (Franz 2003:260).

In vers 4b word gesê dat die regverdige genadig is en in vers 5a dat hy genadig optree. Hy ontferm hom en help diegene wat hulleself nie kan help nie. In vers 5b gaan dit steeds om die regte optrede van die regverdige. Twee byvoeglike naamwoorde in vers 4b beskryf die regverdige se optrede. Dié woorde word ook vir die Here gebruik (Psalm 111:4). Genadig en barmhartig word nou op die regverdige oorgedra (vgl Eksodus 34:6).

Die geregtigheid word as gemeenskapsbegrip in die sin gesien dat die opregte die nood en hulpeloosheid van die ander waarneem en hulle daadwerklik help (Zenger 2008:240). Hy ontferm hom deur geldelike middele te voorsien. Hy eis dit nie terug as die skuldenaar nie tot terugbetaling in staat is nie (Zenger 2008:240). Op dié wyse help hy die mens in nood daadwerklik.

Die regverdige sal nooit wankel nie. Hy sal altyd in eer gehou word (vers 6b–c). Soos die berg Sion sal hy nie wankel nie. Wie so handel en leef, leef verder in die gedagtes van mense (Zenger 2008:241). Geregtigheid is ’n sleutelbegrip in die Psalms en ook in hierdie psalm. Dit word verder in die psalm toegelig.

Vers 7a–b en 8a is heg met mekaar verbind. Die regverdige hoef nie bang te wees nie. Sy vertroue is immers op die Here gevestig. Die een wat “ontsag” vir die Here het (vers 1b), laat hom nie deur slegte tyding afskrik nie. Sy hart, sy denke en wil is in die Here gewortel. Die vyand is magteloos. Hy sal op sy vyand neersien (vers 8b) (Prinsloo 1991:61). Om op iemand neer te sien, is ’n daad van oneer en skande.

Wat doen die regverdige? Hy doen wat sy Pa doen. Sy hand is oop vir die armes. Hy gee oorvloedig vir hulle (vers 9a). Soos ’n boer saad strooi, strooi hy gawes en gunste vir die hulpbehoewendes. Hy voorsien in die sosiale nood van behoeftiges. Omdat hy gee, ontvang hy hoë aansien (vers 9c). Die een wat die Here vrees, wat ruimhartig gee, word ryklik geseën. Met gelatenheid en erkenning van die samelewing, veral van die armes (Zenger 2008:241).

Vers 10a–c beskryf hoe die goddelose die voorspoed en aansien van die regverdige sien wat hom tot skande maak. Hy is tot die dood toe ontsteld. Hy is bleek van woede. In sy magteloosheid kners hy op sy tande. Hy stort in die afgrond af. Die begeerte na aardse rykdom is vir die goddelose ’n ydel droom. Hy verleen geen hulp aan die arme nie, maar skep deur gewetenloosheid en geweld armoede. Psalm 37:20–1 stel die goddelose aan die kaak:

Maar die goddeloses gaan tot niet,
die vyande van die Here –
soos kosbare weiveld verdwyn hulle,
in ’n rookwolk verdwyn hulle.

’n Goddelose leen
en betaal nie terug nie,
maar die regverdige is goedhartig
en mededeelsaam.

Psalm 111 en 112 is wysheidspsalms (Prinsloo 1991:63–4). Die teenstelling tussen die regverdige en goddelose bevestig dit, ook dat die regverdige sy lewe rig volgens die Here se “wet” of gebooie. Die regverdige staan in die regte verhouding tot die Here en sy hulpbehoewende naaste. Psalm 112 kan ook as saligprysing gesien word. Die oorspronklike Sitz im Leben is op die politieke terrein. Veral die politieke volgelinge van ’n koning of ’n godheid. In die saligspreking word die aangesprokenes oorreed om troue en lojale volgelinge van die koning te wees. Die saligspreking vat die vereiste lojaliteit of die aanbevole leefwyse kortliks saam waarin die gevolge van trou en lojaliteit uitgespel word. Dit geskied gewoonlik deur kontrasbeelde wat beklemtoon dat dit nie om meer of minder geluk gaan nie, maar ’n lewe van lewe of dood, heil of onheil. Die saligspreking kan ’n soort trou-eed aan die koning wees (Zenger 2008:237).

Hoewel Psalm 112 aanvanklik nie deel van die kultus was nie, kon dit tog later wel saam met Psalm 111 deel van die kultus geword het. Oor die datering is daar soveel hoofde soveel sinne. Wat wel seker is, is dat ’n komponis(te) die twee psalms langs mekaar in die Psalmbundel ingevoeg het.

Wat is ware wysheid? Om in jou Pa se skoene te loop. Wanneer die twee psalms langs mekaar gesit word, word dit kristalhelder (Franz 2003:249). Fischer 2008:51). 

Psalm 111: die Here Psalm 112: die opregte
1: Ek wil die Here prys.        1: Gelukkig is die mens.
3a: Sy werk is vol luister en glans.     3a: Oorvloed en rykdom is in sy huis.
3b: Sy geregtigheid hou vir altyd stand.  3b: Sy geregtigheid hou vir altyd stand.
4b: Genadig en barmhartig. 4b: Genadig en barmhartig.
5a: Hy gee kos.    5a: Hy deel uit en leen uit (vgl vers 9a).
5b: Hy bewaar die aandenking.  5b: Hy word tot aandenking.
7–8: Sy opdragte is betroubaar. 7–8: Hy is betroubaar.
10c: Sy lof hou vir altyd stand.       9b: Sy geregtigheid hou vir altyd stand.

            
Die mens is ’n spieëlbeeld van God se werk in die wêreld (Franz 2003:250). In die spieël van Psalm 111 en 112 kan ons in ons Pa se skoene loop.

Psalm 111:3b, 4b; 112:3b, 4b en 5a word in die Christus-gebeure vir ons konkreet. Paulus gebruik juridiese terme om die vryspraak wat Christus bewerk het, te verduidelik. God “regverdig” ons (Psalm 111:3b) deur Christus se soenoffer. Hy spreek ons vry omdat Christus die offer vir ons sonde gebring het (Romeine 5:9). Op hierdie wyse hef God sy oordeel (toorn) oor ons sonde op. Daar is nou geen veroordeling vir die wat in Christus is nie (Romeine 8:1). God wat ryk in “barmhartigheid” is, het ons wat deur die sonde dood was, lewend gemaak (Efesiërs 2:4). Ons het geen aandeel aan die vryspraak nie. Ons ontvang dit verniet; dit is louter genade. Die genade het na ons toe gekom deur Christus (Romeine 5:15–7). Ons staan met leë hande voor God, armsalige bedelaars. Maar ons ontvang sy “vryspraak” (geregtigheid) en “barmhartigheid” deur die geloof wat Hy aan ons skenk (Romeine 1:17; 3:24). God gee aan ons geloof en daarom vra Hy dit.

Die Here se genade waarvan Psalm 111 praat, is nie goedkoop genade nie. Daarom pleit Bonhoeffer (2015:29–43) vir duur genade. Goedkoop genade is oppervlakkige troos. Genade sonder prys. Goedkoop genade beteken genade as leer, as beginsel, as sisteem; vergewing van sondes as algemene waarheid.

Goedkoop genade beteken regverdiging van die sonde en nie van die sondaar nie. Omdat die genade alles alleen doen, kan alles by die oue bly. Die wêreld bly die wêreld en ons bly sondaars. Dit beteken dat die Christen maar net so kan leef soos die wêreld. Hy hoef nie anders as die wêreld te leef nie. Goedkoop genade is genade sonder navolging, sonder die kruis, genade sonder die lewende, mensgeworde Jesus Christus.

Duur genade roep ons tot navolging. Dit vra dat ons in ons Pa se skoene moet loop. Dit is duur omdat dit die sondaar regverdig. Dit is duur bowenal omdat dit God soveel gekos het, omdat dit God die lewe van sy Seun gekos het.

........
Ons moet dit wat die Here in Psalm 111 doen, soos in Psalm 112, nadoen. Ons geregtigheid moet vir altyd duur. ’n Lewe volgens Psalm 112 beteken om in die wêreld te wees; om genadig en barmhartig teenoor ander te wees; om aan die lyding en ellende van die hulpeloses te help dra; om te stry vir menswaardigheid en geregtigheid ...
........

Navolging van Christus bevry ons van goedkoop genade, die bitterste vyand van navolging.

Wat beteken dit as Luther sê? Pecca fortiter, sed fortius fide et gaude in Christo (sondig dapper, maar glo en vertrou nog dapperder in Christus). Is dit nie ’n onverbloemde vrybrief van goedkoop genade nie? Is dit nie die opheffing van navolging nie? Is dit nie waarteen Paulus in Romeine 6 waarsku nie? Ons moet aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?

As Luther se uitspraak as veronderstelling van ’n genade-teologie gemaak word, dan is dit pure goedkoop genade. Maar as dit as slotsom, as einde, as resultaat bedoel word, is sy uitspraak geldig. Pecca fortiter (sondig moedig) beteken vir Luther die evangelie van God voor wie hy onder alle omstandighede sondaar is. God soek ons as sondaars op en spreek ons vry. Erken en bely jou sonde. Moet dit nie ontken nie. Pecca fortiter is ’n troos in die aanvegting en oproep tot navolging. Duur genade is alleen suiwer genade wat werklik sonde vergeef en die sondaar bevry. Daarom moet Luther se aanmoediging sed crede fortius (maar glo nog meer dapperder) ons lewenskeuse en -leuse wees.

 

Ons moet dit wat die Here in Psalm 111 doen, soos in Psalm 112, nadoen. Ons geregtigheid moet vir altyd duur. ’n Lewe volgens Psalm 112 beteken om in die wêreld te wees; om genadig en barmhartig teenoor ander te wees; om aan die lyding en ellende van die hulpeloses te help dra; om te stry vir menswaardigheid en geregtigheid; om dáár te wees vir die ander. Godsdiens is méér as net dogmas, rites en eredienste.

Leef uit die genade beteken ’n lewe van navolging, al kos dit wat ook al. Genade is nie goedkoop of te koop nie, maar dit vra egte dissipelskap en navolging van Christus in ’n mondige wêreld. Al is die prys hóé hoog.

Bonhoeffer se nadruk op die “werkende geloof” word in sy Nachfolge uitgespel (Bonhoeffer 2015:252–5; Martin 2015:34) Navolging van Christus beteken om in die wêreld so oor God te praat dat die goddeloosheid van die wêreld nie versluier word nie. Dit staan in sy brief van 18.7.44 (Bonhoeffer 2015:537). Daar moet ’n verrassende lig op die wêreld val. Dit is die hoop wat die gelowiges aan die wêreld kan gee.

Deur Christus na te volg, kan ons ’n naaste vir die ander wees. Die navolging van Christus beteken ’n weg van versoening met die broer (Bonhoeffer 2015:121–6). Sodoende kan ons ’n verskil in hierdie wêreld en in die lewe van ander maak. Daarom moet ons getuies van die liefde wees. Dit beteken dat ons uit liefde moet leef en dit kosteloos aan ander moet gee.

Ons moet ook reg en geregtigheid aan alle mense laat geskied. Geregtigheid moet nie net geleer word nie, maar gedoen word (Bonhoeffer 2015:115–21). Die geregtigheid van Jesus se dissipels was geregtigheid onder die kruis. Die geregtigheid word sigbaar in die lewens van armes, hongeriges, sagmoediges, vredeliewendes en vervolgdes. Die vreemdelinge, gebrokenes, die randfigure, die dakloses en die boemelaars mag nie onaangeraak by ons verbygaan nie.

Dwelmverslaafdes is dikwels die slagoffers van ’n donker kleintyd. Hulle selfbeeld is geskend en hulle voel meestal minderwaardig.

Die armes sal altyd aan ons deure klop. ’n Noodklop. Ons mag ons nie doof hou nie. En ons mag ook nie vere vir die armes voel nie. Ook nie blind wees nie. Om net te oorleef, moet hulle in vullishope vir kos grawe. Ons moet die noodseine hoor en alles in ons vermoë doen om hulle las te verlig. Elke individu, kerk en die regerings. Ons moet die armes se emosies en impulse in ag neem. Dit beteken dat ons moet vra wat agter die bepaalde emosie lê. Is dit skaamte, minderwaardigheid, gebreke, geweld, mishandeling?

Hierdie broses, eensames, armlastiges, verlooptes en kwesbares het ook ’n reg op die orde van die samelewing en die ordening van hulle lewe.

Die roeping tot menswaardigheid word in ’n gedig verwoord. As ons mekaar net as medemense kan sien, beleef en behandel.

Inskripsie

Gevind op ’n flentertjie papier in ’n Joodse konsentrasiekamp.

Genadige Here,
dink nie net aan mense met breekbare drome nie,
maar ook aan dié wat met kwaad en demone heul.
Moenie dink aan al die lyding
wat ons lewens gekwel het nie;
dink aan die sonryp vrugte wat ons kon pluk
danksy ons lyding –
kameraadskap, trou, menswees,
moed, gasvryheid en ruim harte
wat ons op die drumpels van gaskamers oorbluf het;
en as hulle voor die doodsvonnis van u regbank verstar,
laat die vrug van die gees wat ons gedra het
hulle met vergifnis verras (Vos 2015:112).        

Ons kan ons deernis met mekaar in ’n lied, “Gebed vir Afrika”, uitdruk (Vos 2024).

Kom ons dink aan Afrika digby die helder son.
Moeë harte hunker hier na die rus van God.
Talle lewens het verskroei; sugtend sonder lig
smag ons nou in Afrika na die God van hoop.

Refrein:

Oor berge en velde klink die Heer se liefde.
God, seën Afrika en haar seuns en dogters.

Laat ons bid vir Afrika naby die son se oog.
Trae harte vind by U vrede, Here God.
As die Gees in ons kom bly, sal ons juigend sing:
Gee ons hoop in Afrika, troue Here God.

Refrein:

Oor berge en velde klink die Heer se liefde.
God, seën Afrika en haar seuns en dogters.

Bronnelys

Bonhoeffer, D. 2015. Nachfolge. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus.Bonhoeffer, D. 2015. Widerstand und Ergebung. 18.7.44. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus.

Fischer, G. 2008. Wege in die Bibel. Stuttgart: Verlag Katholiches Bibelwerk.Franz, M. 2003. Der barmherzige und gnädige Gott. Stuttgart: Verlag W. Kohlhammer.

Frevel, C. 2006. Anthropologie. In A. Berlejung en C. Frevel (reds.). Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: WBG.Martin, K. (red.). 2015. Dietrich Bonhoeffer. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus.

Prinsloo, W.S. 1991. Lank lewe die Psalms! Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Vos, C. 2015. Inskripsie. In Voor-bode. Pretoria: Protea Boekhuis.

Vos, C. 2024. “Gebed vir Afrika”. Musiek: John Knox Bokwe. Oorspronklike Engelse teks: “A Glasgow Lady”. Afrikaanse teks: Cas Vos.

 Watson, W.G.E. 1986. Classical Hebrew poetry. A quide to its techniques. Sheffield: University of Sheffield.

Zenger, E. 2008. Psalm 111. In F.L. Hossfeld en E. Zenger (reds.). Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.
—. 2008. Psalm 112. In F.L. Hossfeld en E. Zenger (reds.). Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.

Zimmerli, W. 1972. Zwillingpsalmen. In J. Schreiner (red.). Wort, Lied und Gottesspruch. Beiträge zu Psalmen und Propheten. FS für J. Ziegler. Würzburg: Echter Verlag.

Lees ook:

Ontnugtering

Pelgrimspsalms: Opskud, die pad is steil en ver

Die landskap van die psalms

WJ Henderson se meesterlike vertalings van Latynse gedigte

  • 2

Kommentaar

  • Cas Vos se artikel aangaande tweelingpsalms lei die leser na diepsinnige besinning.

    In my ouerhuis was daar 'n stereoskoop. Mens plaas dit teen jou gesig en kyk dan deur twee lense na twee skynbaar identiese foto's - en voila: jy sien die toneel in diepte, stereoskopies!

    Cas se artikel oor die tweelingpsalms is 'n woord-stereoskoop: dit laat die leser diepte vind in die twee psalms.

  • Susan Vorster

    Cas, hoe waardeer ek nie wat jy hier skryf nie. As onnadenkende sal ek dalk vandag Psalm 111 lees en op 'n ander geleentheid Psalm 112, sonder om die twee langs mekaar te plaas. Ek het dit eers gedoen en stem met jou saam, as ek myself wil skaar onder die sambreel van die regverdiges, moet ek wat die Here in Psalm 111 doen navolg. Om te help dra aan ander se laste, lyding en ellende, al is dit deur net met empatie te luister. Om aan te hou stry vir menswaardigheid en geregtigheid vir alle mense en so 'n naaste vir ander te wees, eerder as om te tob oor wie ek my naaste wil noem.
    Liefde kosteloos uit te deel. Dit is wat hierdie skrywe van jou vir my beteken. Dankie. Doen so voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top