Ontnugtering

  • 6

Fotobron: Canva

Ontnugtering

Moeder Aarde is vir Homo sapiens as oorblyf-
plek geskep. Hy kon plant, saai en geniet.
Die mens was skaars minder as die engele
wat sonder dag en nag se breuklyn tussen
tydsones vinniger as lig op hul doel afpyl.

Wonders is talryk, maar daar is niks
verstommender as die mens nie.
Hy vaar op die ver kant van die grou see, 
aangedryf deur winter se stormwinde
met sy passasiers van hawe tot hawe.

In die toue van sy gevlegte nette
vang die wyse en vernuftige mens
al die soorte sorgvrye voëls,
wilde diere en die diepwater seevolk.
Hy dryf die bergtroppe se wilde diere
na sy kudde. Hy tem perde met ruie 
maanhare om hulle op te saal en te toom. 

Hy oortref alle verwagtings, sy vindingrykheid om te skep,
bring soms die bose na vore en dan weer die uitnemende.
As hy die stad se wette en die geregtigheid van die Almagtige
waarby hy gesweer het, eerbiedig, sal sy stad trots pronk. 

Hy het taal om sy wysheid neer te pen, denke te bemeester,
en al die bekwaamhede om ’n parlement en land te bestuur,
hoe om hom te beskut teen koue in die lug of stortreën. 
Nooit verbyster nie, vernuftig, aanvaar hy elke uitdaging.
Met sy insig in fisika kan hy die kosmos tot ’n mate begryp.
weet hy dat twee elektrone swaai om die atoom
elektronies af te rond. Met digkrag in swang soek
die digter na woorde om die gedig in reëls en strofes
bloot te lê en as geskenke aan gedigkieriges uit te deel.
Die vlindereffek van die chaosteorie reik na orde.
Die mediese wetenskap het teen talle hooplose siektes
teenmiddels en entstowwe teen virusse geskep. Tot op

’n dag toe ’n virus onsigbaar was en nieslangs
hartverskeurend in mense se lugweë verskyn het.
Om net van die virus te hoor, is soos om aan ’n koors-
aanval te begin ly, wat enkele dae duur en die besmette 
se naels doodsbleek maak en laat bewe as hy sy oë oplig.
Die lewensvernietiger is gekroon met die naam: Corona.
Corona is my herder en hy lei my na dor velde,
na waters waar onvrede en onrus rondom my uitslaan.
Hy lei my met skrikgode na die paaie van doodstilte.
Corona lei my na donker ravyne waar ek noustrop
trek en na flou sterre soek, ek smag na lewensasem.

Die mens se geskiedenis is vol bloedspore en afval.
Hy het roekeloos geleef en is met korrupsie gekroon,
sy meetsnoere het in liederlike plekke geval.
Die Romeinse Keiser Nero het geweet dat musiek net
in die hart se binnekamers selfgerig en waardeloos is,
daarom bespeel hy die kithara, instrument van beroeps-
musikante, met oorgawe. Digkuns was vir hom ’n passie,
dit het metafore en vergelykings soos die son laat glans.
Om te konkel en moord in te span was vir Nero ’n oogknip. 
Sonder skaamte het hy sy ma, Agrippina, se dood beplan.
Al het Nero fluistertogte om die gerug van moedermoord
te smoor geloods, kon hy bure en tydgenote nie flous nie.
Op die huismure staan “Nero, Orestes, Alcmeon, matricidium.”1

ISIS het die antieke erfenis met omstoters geplunder.
In Nimrod het besetenes en bloedlustiges beelde
met hamers en bore bestorm, ontman en ontbors hulle.
Vernielers het Mari se wysheid met vlamme vernietig.
Napoleon, die onoorwinlike, het in sy klein waansin
in Waterloo ’n oorwinningstoespraak gevleg.
Op 25 Mei 2020 is ’n weerlose man met die gereg
se knie vir agt minute en ses-en-veertig sekondes
in ’n doodsgreep vasgepen. “Help me! I can’t breathe!”
Uit hierdie onsinnige daad is wraaklus gebore.
In vlammende opstande is standbeelde geplunder.
Woede spoeg vuur soos vulkane en begeester
massas tot oproer, wraak is die weerwoord
op dreunendes se bewende lippe, monde spoeg
Haatspraak wat strate laat dreun en sidder.

Laat ’n vleugie wind aan Afrika se suidpunt
die spore van onreg wegwaai dat ons mekaar
se oë kan sien en laat die tyding van lyding
ons almal se ore soos ryk klanke bereik.

Ons soek in harte en gedigte glimpse hoop
in ’n duister wêreld waar boosheid floreer,
Hoop verdwyn soos flou sonstrale
en booswigte maak hulle opwagting,
smokkel met dwelms en menselewens.
Onder die nag se kleed is alles goedkoop.

As fotone weer die daeraad se kuif
voor skemer aanbreek rooi sal kleur
en liefde en hoop net weer in hierdie uur
die son en sterre sal beweeg en aanvuur. 

____________

1 moedermoord

  • 6

Kommentaar

  • Susan Vorster

    Meesterlik Cas. Ek leef saam met jou deur die geskiedenis. Van vêr in die verlede tot by die ontnugterende hede.

  • Verstommend, Cas, jy het wilde woorde opgesaal en ingetoom om ver deur die lewe te verken.

  • Louis Pienaar

    Uitstekende gedig van Cas Vos in hierdie donker tye waarin onsself bevind, waar ons net nog aan hoop moet vaskleef.

  • Margaret Cordier

    Dankie Cas vir woorde wat dig verweef die verskrikking en ontnugtering in sy net moet vang.

    laag buig voor Hom
    Aleph Tav
    woorde ge-anker aan Sy Woord --
    ontplof nuwe lewe uit die stof

    laag buig voor Hom
    die brandhout en die offer

  • Connie Griessen

    Jy beeld die emosies en frustrasies waarin ons onself bevind so skitterend uit... Ek glo ons nageslag sal hierdie "historiese" kunswerk eendag waardeer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top