Tweedehandse boeke en boekwinkel-etiket

  • 15

Onlangs het Toeareg-rebelle die stad Timboektoe in Mali ingeneem. Die ANC-regering het daar heelwat geld van Suid-Afrikaanse belastingbetalers bestee om ou rekords te restoureer en bewaar. Dit is Arabiere wat die inligting rekordeer het; nie die swartes nie. Nogtans is dit in pas met die ANC se Afrika-manie om hulle oor hierdie rekords te ontferm. As die ANC-regering minder ideologie-gepreokkupeerd was en meer Suid-Afrika- as Afrika-geörienteerd was, sou hy eerder voorkeur aan die restourasie en beter bewaring van ons eie waardevolle rekords gegee het, soos die koloniale versamelings in die Parlements- en Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad. Tydens die koloniale era is lofwaardige kulturele en ontwikkelingswerk gedoen (soos sekerlik ook gedurende die apartheidsera) waarby die land steeds baat. In ANC-geledere is daar egter seker nog nooit ’n goeie woord hieroor geuiter nie.

In die nuwe Suid-Afrika is ’n mens verplig om jou oor klein gelukkies te verbly, soos toe die gedagte by my opgekom het dat tweedehandse boekwinkels sedert 1994 darem nog nie merkbaar agteruitgegaan het nie. Wanneer ek boeke koop, is dit as’t ware soos ’n eekhoring wat in die herfs akkers vir die winter versamel. Onlangs het ek die drie boekdele van die Britse outeur Harold Nicolson se Diaries and Letters (London: Collins) in so ’n boekwinkel raakgeloop. Teen R20 elk (dus goedkoper as ’n tydskrif) was dit ’n winskoop. Die verdere bibliografiese besonderhede is: Deel I, 1930-1939, 1966, 448p; Deel II, 1939-1945, 1967, 511p; Deel III, 1945-1962, 1968, 448p.

Voorverlede naweek was daar in die winkelsentrum naby my meer as ’n dosyn welsynsorganisasies wat tweedehandse boeke verkoop het. Hulle het die geleentheid gebruik om ook die werk van hulle organisasies bekend te stel. Op elkeen se tafels was daar ’n kollektebussie. Hierdie organisasies doen ongetwyfeld goeie werk maar die regering sal eerder ’n groter parlementêre eetsaal bou as om hulle finansieel goed te ondersteun.

In baie gevalle is die stalletjies deur vrywilligers beman. Onder hulle was daar klaarblyklik goeie, toegewyde mense. Maar daar was ook diegene wat diep bewus daarvan was dat hulle hulle tyd gratis afstaan. Hulle het dus die tyd verwyl deur eerder te klets en te eet en self deur die boeke te snuffellees as om die publiek toe te laat om optimaal by die boeke uit te kom. In een geval was ’n onmiskenbaar Amerikaanse swarte maksimaal steurend deur luidrugtig en langdurig aan ’n inskiklike blanke al die Bybelverse aan te haal op grond waarvan dit vir hom duidelik is dat sy slawevoorouers benadeel is; ’n gewilde tydverdryf by swart Amerikaners.

Wat opgeval het, is dat die meeste besoekers aan die winkelsentrum (baie meer as 90%) glad nie in die boeke belang gestel het nie. Hulle gaan eerder na die kruidenierswinkels, restaurante en klerewinkels ten bate van hulle liggaam as om hulle gees met die lees van boeke te voed. Daar was by hulle geen belangstelling in hoe baie hulle vir min geld by die stalletjies kon kry nie.

Ek het drie boeke gekoop: Ivor Brown se W Somerset Maugham (1970, 85p, R5), Beverley Nichols se A Case of Human Bondage: The Tragic Marriage of Somerset Maugham (1966, 153p, R10) en RW Johnson se South Africa’s Brave New World: The Beloved Country Since the End of Apartheid (2010, 710p, R10). Laasgenoemde boek is tans in twee boekwinkels in dieselfde sentrum teen R255 en R262. Dit blyk dat nie een van my drie boeke ooit gelees is nie. Drie boeke vir die prys van drie brode. Wie sal dan nog twee visse ook begeer?

Van boekwinkels gepraat: Daar is elementêre etiket wat in ’n boekwinkel nagekom behoort te word. Al hierdie beleefdheidsreëls gaan uit van die beginsel dat ander mense in ag geneem moet word en veral die klante. ’n Mens behoort nie op so ’n manier voor ’n boekrak te staan of te sit en lees dat niemand anders daar naby kan kom nie. ’n Besondere verpesting is die sakeman wat tydens werktyd ’n boekwinkel besoek, kort-kort ’n oproep op sy selfoon ontvang en dan op en af deur die winkel loop terwyl hy die navrae beantwoord. Hy ontstig die hele atmosfeer.

As daar musiek uit die luidsprekers kom, moet dit sag, strelend en nie-steurend wees. Die vloermasjien moet nie ter wille van die gerief van die personeel tydens die openbare diensure die matte stofsuig of die vloere poleer nie. Die personeel moet hulle so stil moontlik gedra; nie soos in die kettingboekwinkel hier naby my waar vlak jongmense Sondag na Sondag as tydelike werkers gillend en giggelend diens doen omdat die permanente of voltydse werkers dan vry het nie.

Voorverlede week was ek in ’n ander kettingboekwinkel tussen die rakke besig. ’n Nuwe personeellid, uitgedos in ’n trui met die boekwinkel se naam daarop geborduur, kom toe in die gang af tot by my. Toe stop hy. Hy wag totdat ek opkyk. Toe skuur hy voor my verby terwyl daar ruim plek agter my is om verby te gaan. Ek het hom toe ’n lesing oor elementêre boekwinkel-etiket gegee; iets waarvan hy nie ’n snars weet nie. Die nuweling is ’n regstellende aanstelling. Boekkultuur word nie oornag verwerf nie.

Johannes Comestor

  • 15

Kommentaar

  • Johannes, enige kultuur word aangeleer. Hul verskoning, "its not our kultjar" soos grond kan jy koop maar nie agtergrond nie.

  • Johannes

     
    Ek was twee jaar gelede, tydens ons trans-Afrika-ekspedisie, by daardie biblioteek in Timboektoe. Die dokumente wat daar bewaar word is hoofsaaklik Islam geskrifte. Dit was daarom  nie verbasend dat die partye van Suid-Afrika, wat op die koperplaat voor die indrukwekkende gebou verrneld word, byna uitsluitlik name soos Pahad, Maharaj, Naidoo en Surtee insluit nie. Ons regering is lekker aan die neus gelei deur hierdie belangegroep in sy midde.
     
    Die argitek was darem ene André Spies!
     
    Thomas
     
  • Estelle Vorster

    Ek is op soek na Anette Human se boek Brood op baie maniere , dit was 'n reeks boeke.
    Baie dankie.

  • Kobie Rossouw

    Ek is op soek na Sêgoed deur EA Boshoff, dis in 1985 uitgegee deur Daan Retief Uitgewers.

  • Magriet le Roux

    Ek is op soek na Andre P Brink se Duiwelskloof.

    Is daar dalk iemand wat 'n tweedehandse kopie het en dit wil verkoop?

    Ek woon in Pretoria.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top