Tweede kanse deur Stefan Enslin: ’n resensie

  • 0

Tweede kanse
Stefan Enslin
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426165

Soos uit die titel van hierdie boek af te lei is, gaan die storie oor ’n kans om verkeerde besluite wat in die pad van geluk staan, reg te stel. Twee jongmense wat as dertienjariges in 1965 hul bloed vermeng het om ewige trou aan mekaar te beloof, raak kort daarna geskei. Anna het moeilike kinderjare weens haar ouers se rusies en uiteindelike egskeiding en sy loop Joe eers sewe jaar later weer op universiteit raak.

Sy is nonchalant oor die lukrake ontmoeting, want sy is met ’n gewetenlose pierewaaier deurmekaar, maar Joe kan hom nie aan sy vriendin, die deugsame Bianca, verbind nie omdat hy steeds hoop op ’n toekoms saam met Anna. Sy verspeel egter haar kans op geluk weens haar ouers se slegte voorbeeld en raak swanger. Die twee hoofkarakters vind mekaar tog weer, maar die afloop verswak Anna en Joe se liefdesverhaal omdat Bianca ook ’n beurt by háár eerste liefde kry.

Die hoofkarakters in Tweede kanse bly taamlik eendimensioneel, omdat hulle so swaar dra aan die boodskap. Joe is die standvastige een, by implikasie omdat sy ouers die regte huweliksmaats gekies het en vasbyt ondanks aanslae. Joe se pa, Gert, is vasberade om Joe se tjor te probeer regmaak al is hy nie ’n werktuigkundige nie. Sy hardkoppigheid is ongemotiveerd in die lig van die selfverwyt wat hom amper sy huwelik en sy lewe kos nadat sy jonger seun vroeër verongeluk het weens hul motor se swak remme wat Gert nie laat herstel het nie. Die ander karakters, en selfs die honde, staan onsubtiel in diens van die liefdestema.

Ná ’n proloog begin die boek sterk met ’n tegniek wat die storie in die tydsgewrig van 1965 anker deur wêreldgebeure op te noem wat ook in daardie jaar plaasgevind het. Dood, moord en ’n teregstelling eggo die neerslagtige atmosfeer waarmee die storie begin. Musiek wat in daardie tyd onder jongmense gewild was, kom ook later aan bod.

Die storie probeer nie om die idioom van jongmense in die sestigerjare te weerspieël nie; dit sou te moeilik gewees het. Dit is buitendien nie ’n jeugverhaal nie. Tog is die taalregister vreemd; dit is dikwels melodramaties en ongenuanseerd, soos wanneer die twee dertienjariges op ’n “onheilspellende” koue dag gaan fietsry:

Joe kan die onheil aanvoel. Moontlik is die weer besig om die toekoms te skets; die uiteinde daarvan figuurlik uit te beeld. Die somerson het homself sigbaar gemaak, maar sy hitte weerhou. Pynlik en met mening kleef die koue teen Joe. (30)

’n Motor op hul pad word ’n “ystermonster” wanneer hy Anna amper raak ry en Joe haar net betyds wegpluk, met die ontstoke bestuurder wat hulle dan met sy gordel drie blokke ver jaag. In ’n film sou dit komies kon wees.

Die alomteenwoordige verteller is dikwels besig om op die voorgrond te tree om die leser met sy boodskap te bombardeer, soos toe Anna se waardige oupa sy dogter Lucinda met ’n drankasem in die arms van ’n nuwe man in die huis aantref. Is hierdie oorreaksie geregverdig omdat Lucinda se huwelik met ’n kompulsief-ontroue man misluk het? 

Hy moes hom beteuel om nie albei van hulle daar en dan dood te skiet nie. Lucinda het hom figuurlik doodgemaak en hy wou dieselfde aan haar doen. (94)

Nog ’n voorbeeld is toe Anna besef sy kan aan Joe haar geheime toevertrou: “En niks of niemand, behalwe die dood, sou hulle van mekaar kon skei nie. En tog kan ons nie altyd die dood vir skeiding blameer nie” (46).

Joe bly as student by Anna se ouma, waar hy aanvanklik onbewus van haar verwantskap met Anna is. Vir haar is hy “die perfekte seun in alle opsigte. Liefdevol, gehoorsaam, goed gemanierd, eerlik, opreg. Die lys is lank” (78).

Twee studentemaats wat aan ’n musiekuitvoering deelneem, Errol en Marinda, sorg vir oordrewe komiese afleiding, want die gesette Errol is amper ’n karikatuur. Van hom word gesê: “Gratis drank en Errol is soos boesemvriende. Die een sien daarna uit om tyd te spandeer saam met die ander, afgesien daarvan dat dit die volgende dag kopseer kan veroorsaak” (185).

Beskrywings klink dikwels toneelmatig. Hoofstuk 17 begin byvoorbeeld so:      

Oggend. Studentegewoel, luidrugtig en besig. Houtplanke, skaafsels en gereedskap lê oor die verhoog en op die vloer voor die verhoog gestrooi. Buite word daar geslyp, want blink vonke skiet binnetoe. (132)

Deegliker redigering en proeflees was hier nodig. Die tweede deel van die verhaal word met een sin ingelei aan die einde van ’n hoofstuk: “Toe Joe sy oë uitvee, is dit sewe jaar later” (49).

Stefan Enslin se eerste roman, Verskietende ster, het in 2013 verskyn. Die filmweergawe is twee jaar later as die gehoor se gunsteling by kykNET se  Silwerskermfees bekroon. Hy was ook medeskrywer, draaiboekskrywer en vervaardiger van ander films, soos Strikdas: ’n familiegedoente en Nul is nie niks nie, wat baie goed ontvang is. Tweede kanse met sy ongekompliseerde boodskap van geloof in ware liefde sou beter tot sy reg kom op die silwerdoek, want dit is duidelik hier waar Enslin se talent lê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top