Twee sekondes: Tyd en ruimte in die lewe van ’n sluipskutter

  • 0

“Een Mississippi … twee Mississippi … drie Mississippi … vier Mississippi …”

Dit is een van baie maniere om die verloop van tyd te bepaal in Amerika, selfs hier ook.

In Afrikaans kan ons sê: “Duisend en een … duisend en twee … duisend en drie … duisend en vier …”

Dié soort telling is veral gewild onder klein seuntjies wanneer hulle hul koppe onder water hou om te kyk wie se asem is die langste, voor jy natuurlik uitpass en dalk verdrink.

Die koeël uit die loop van ’n AR-15-semi-automatiese geweer, of enige soortgelyke kaliber, beweeg teen ongeveer 1000 meter per sekonde, of dan “een Mississippi”.

In dieselfde sekonde beweeg klank 343 meter.

*

“Een Mississippi.”

Slagoffer 1 gryp instinktief na sy oor, hoekom is onduidelik.

Is dit die knal van die rondte se supersoniese vlug verby sy oor? Is dit die steekpyn van die klein wond wat aan sy oor veroorsaak is? Dit weet die omstanders nie.

Slagoffer 1, sy lyf snaarstyf van skok en weens ’n selfbeskermingsdrang, duik na die verhoog se vloer. Van die veiligheidspersoneel reageer op die reaksie van hul kliënt, van hulle reageer glad nie. Ander reageer op die knal van die geweerskoot en die klap as die supersoniese rondte bo-oor of voor hulle verbygaan.

“Twee Mississippi.”

’n Klomp goed begin nou gelyktydig gebeur. Al die veiligheidspersoneel sou in hulle opleiding leer om nou deur John Boyd se OODA-siklus te gaan.

Observation, orientation, decision, action. OODA. Observasie, oriëntasie, besluit, aksie.

Slagoffer 2, wat instinktief sy vrou en kind omarm om hulle te beskerm, se skedel word vergruis deur ’n koeël en hy val sterwend vorentoe.

Slagoffer 3 word in die sy getref.

“Drie Mississippi.”

Die eerste agente van die Amerikaanse Geheime Diens storm vorentoe en val beskermend oor slagoffer 1 soos hulle opgelei is om te doen. Body cover word dit genoem in die vaktaal van die lyfwagbedryf.

Slagoffer 4 word in die skouer getref deur skoot 5, 6 of 7. In die skare klink die skril stem op van ’n vrou. Aan haar voete lê die lewelose liggaam van haar man.

“Vier Mississippi.”

Nog twee agente, beskermers, of dan lyfwagte, val op die liggaam van slagoffer 1. Een van hulle is ’n fyn geboude vrou. In die agtergrond, agter die paviljoen aan die regterkant, val ’n reuse-luidspreker in stadige aksie grond toe. In die helderblou lug maak die fyn mis van hoëdruk-hidrouliese olie uit die pyp van die hyskraan waaraan dit gehang het, ’n vuil reënboog in die lug.

“Vyf Mississippi” maak nie meer saak nie.

*

Presies 33 sekondes en 11 minute ná 18:00 die middag van 13 Julie 2024 het Thomas Matthew Crooks die bisarre aftelling hierbo aan die gang gesit. Hy het “the moment of commitment” bereik en onmiddellik alle inisiatief verloor. Nou kon die Amerikaanse Geheime Diens, beter bekend as die Secret Service, reageer – met dodelike gevolge vir Crooks.

Maar Crooks het die beskermers van die Geheime Diens ook ontneem van hulle grootste bate: tyd en ruimte.

*

Die vorige sluipmoordpoging op ’n Amerikaanse president was in 1981 toe John Hinckley ses skote op Ronald Reagan afgevuur het. Vier mense is gewond in Hinckley se poging, die president was een van die gewondes.

Ironies is Reagan gewond deur ’n opslagkoeël wat weggeskram het van die deur van die presidensiële voertuig toe die spanleier van sy beskermingspan hom, heeltemal korrek, byna gewelddadig van die X, die plek waar hy was toe die aanvaller begin skiet het, weggegryp en in sy ampsmotor ingeboender het. Reagan, swaar gewond, het die aanval oorleef. Sy beskermers kon tyd en ruimte skep deur te reageer.

*

“Een Mississippi … twee Mississippi ...”

Hinckley se fout was dat hy te naby wou kom. Sy teiken het beweeg tussen twee bekende punte, die hotel wat hy pas verlaat het, en die ampsmotor waarheen hy op pad was. Reagan was in die middel van ’n klein skare en die heel belangrikste was dat president Reagan se beskermingspan “in die oomblik” en dus gereed was. Oorgehaal. Gereed om te reageer, want hulle het nie alles beheer nie. Reagan wou sy oomblik met die pers en die publiek hê. Beskermers haat oop ruimtes, skares en les bes, die pers. Te veel kan verkeerd gaan. In die oomblik, of “in the moment”, is al wat saak maak. Hande en oë is waarna hulle kyk. Hande vir wapens en oë wat net te intens staar. Toe Hinckley sy oomblik van toewyding bereik, die punt waarop hy hom oorgee aan sy selfopgelegde taak, was hulle gereed. “Een Mississippi ...”

“Twee Mississippi ...” Die beskermers het tyd en ruimte geskep, die aanvaller ontwrig en hulle kliënt vanaf die toneel verwyder.

In die skemerwêreld van sluipmoordenaars en beskermers maak net nou saak. Jou OODA-siklus moet in die oomblik wees. Hier. Nou. Jy mag nie dink nie.

*

Wat het verkeerd gegaan in die dorpie Butler in die deelstaat Pennsilvanië?

Deur buite die Geheime Diens se beheerde gebied stelling in te neem, het Crooks vir homself ruimte geskep. Hoe hy dit reggekry het, moet nog behoorlik aan die lig kom. Die feit is: hy het.

Ruimte.

Afstand.

Weg van beskermers met donkerbrille en tweerigtingradio-gehoorstukkies in die oor.

Die plaaslike polisie en die Amerikaanse Geheime Diens stry tans nog oor wie verantwoordelik was vir die veiligheid van die gebou waarop Crooks stelling ingeneem het. Volgens die hoof van die Geheime Diens, Kimberly Cheatle, was die dak te skuins om iemand “veilig” daarop te plaas. Sy ignoreer gerieflikheidshalwe die skuinser dakke waarop haar eie twee teensluipskutterspanne uiteindelik ontplooi is.

Crooks het nou ruimte gehad: ongeveer 130 meter se ruimte.

En amper belangriker: 130 milli-Mississippi’s se tyd, ’n voordeel dus van 130 millisekondes bo die verdedigers.

Was Crooks akkuraat, sou geeneen van oudpresident Trump se beskermers betyds by hom kon uitkom nie. Body cover sou nie moontlik wees teen die eerste skoot nie.

*

“Een Mississippi ... twee Mississippi ...”

Die oomblik toe Crooks die sneller trek, het die dodelike telling begin.

Alles wat verkeerd was, het nou sigbaar geword.

Na afloop van alles, en met 20/20-visie, terugskouend natuurlik, is dit nog duideliker hoe dinge skeefgeloop het.

Volgens die jongste berigte, is Crooks reeds drie minute voor die tyd aan die polisie uitgewys as verdag, op die dak en gewapen. Drie minute is 180 Mississippi’s. In al daardie tyd het niemand tyd en ruimte geskep nie, het niemand by die aksiegedeelte van die OODA-siklus uitgekom nie.

Dit was die grootste flater tydens ’n dag vol foute.

Beskermers het net twee Mississippi’s om ’n verskil te maak. Hulle fout het die wêreld byna permanent verander. Byna was in dié geval genoeg. Volgende keer dalk nie.

Twee Mississippi’s kan die wêreld permanent verander. Vra Gavrilo Princip.

*

“Een Mississippi ... twee Mississippi ...”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top