Twee geheime agente: Esterhazy en Esterhuyse

  • 1

Alfred Dreyfus (1859-1935) was in die Franse weermag en is in 1894 aangekla van spioenasie vir Duitsland. In 1895 is hy tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel en na Suid-Amerika, Duiwelseiland in Frans-Guyana, verban. (Hierdie eiland, wat voorheen melaatses gehuisves het, was van 1852 tot 1953 'n strafkolonie. Die assosiasie met Robbeneiland word versterk deur die feit dat die hut waarin Dreyfus gewoon het deesdae deur toeriste besoek word.)

Dreyfus se ouers was uit Alsace afkomstig, 'n omstrede Franse gebied aan die grens met Duitsland. Hulle was Duitssprekend. Alfred het egter sy skoolonderrig in Frans ontvang. Van deurslaggewende belang was die feit dat hy 'n Jood was. Ingevolge die destydse anti-Semitisme in Frankryk is Jode met onpatriotisme geassosieer. In 1898 het Émile Zola (1840-1902) sy beroemde pamflet, J'accuse, oor die Dreyfus-geval en teen anti-Semitisme gepubliseer.

In 1899 is Dreyfus op grond van nuwe inligting vrygelaat. Van owerheidsweë is hy om verskoning gevra. In dieselfde jaar was daar egter 'n herverhoor en is hy weer skuldig bevind. Eers in 1906 is sy naam finaal in ere herstel. Dit was toe duidelik dat hy nie as 'n spioen gefunksioneer en geheime militêre inligting aan die Duitsers verskaf het nie. In die Eerste Wêreldoorlog het hy met onderskeiding in die Franse weermag diens gedoen.

Die spioen wat die gewraakte inligting aan die Duitsers verskaf het, was Ferdinand Walsin Esterhazy (1847-1923). Sy voorouers was van Hongaarse oorsprong. Hy was Duits goed magtig en was ook anti-Semities en anti-Frankryk. Hy is in 1898 verhoor maar onskuldig bevind. Een van die redes wat daarna vir hierdie uitspraak aangevoer is, is dat Esterhazy as 'n dubbele agent werksaam was. Hy het na bewering misleidende inligting aan die Duitsers oorgedra, terwyl hy betroubare militêre inligting oor Duitsland ten behoewe van Frankryk probeer bekom het. Maar wat op sy skuld dui, is die feit dat hy na sy vryspraak dadelik na Engeland gevlug en tot sy dood daar gebly het. (Die voorafgaande inligting kom uit die Wikipedia.)

Die geval Esterhazy laat 'n mens aan ons eie Willie Esterhuyse dink. Hy was 'n geheime agent ten behoewe van die destydse regering se afdeling Nasionale Intelligensie (SêNet, 14 en 15 Mei). Afgesien van die soortgelyke vanne het albei dus as geheime agente gefunksioneer. Die ooreenkomste tussen die twee gevalle moet egter nie oorbeklemtoon word nie. Daar is ook verskille. Esterhuyse het nie presies dieselfde rol as wat Esterhazy dalk vervul het, naamlik as dubbele agent, vervul nie, behalwe dat sy simpatie toenemend eerder by die ANC (verpersoonlik deur Thabo Mbeki) as by die NP gelê het. In Esterhazy se geval het dit met die oordra van geheime inligting te make gehad. Esterhuyse het 'n ander rol vervul, naamlik om met amptelike goedkeuring politieke gesprekvoering tussen die ANC en die NP-regering aan die gang te probeer kry.

Die groot verskil kom by die gevolge van hulle optrede. Die inligting wat Esterhazy aan die Duitsers verskaf het, was van onbeduidende belang. In hierdie opsig het Esterhazy se gedrag dus min noemenswaardige gevolge gehad, hoewel die geval Dreyfus steeds as 'n klassieke voorbeeld van anti-Semitisme opgehaal word. Esterhuyse se optrede het meegehelp om die grondwetlike onderhandelings plaaslik aan die gang te kry. Die uiteindelike gevolg was die algehele magsoorgawe van die blanke regering aan die swart massa, spesifiek die ANC. Die wittes het baie meer verloor as wat hulle ooit voorsien het. Die swartes, daarenteen, het baie meer ontvang as waarop hulle enigsins met reg aanspraak kon maak.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Johannes, ek moet jou ernstig dog ferm berispe, moenie vir jou lelik hou nie. Jy het met jou waarneming 'n senuwee raak geboor. Jy sal soos my oorle ma sou gesê het, geïnterneer word. Wat my verbaas is dat die manne wat die voorsprake en die voorosse was, waar is hulle nou. Stil soos muise op slippers. Kêrels ek sien julle moeilikgeite kom. O, flip, ek sien dit kom. Simpel vraag. Waar is die sogenaamde Afrikaners wat die gatlakeie en agterryers was nou?  Wat het van Kareltjie geword. Hy het trouens homself al twee keer oor die kleurgrens in in die huwelik laat bevestig, maar steeds is sy politieke kersie uitgebrand. Ek sien Phoza doen nou 'n beroep op die blankes en in besonder die Afrikaner om by die ANC aan te sluit. My flippen hel, glo die man aan Rooikappie of wie de moer ook al. 

    Reusedwerg
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top