
Fotobron: Unsplash
Antjie Krog
jy het geroep
Hy het hom deur jou laat vind
in die tempel vir die Aten
jou hande priesterlik omhoog uitgesteek
na die Moederster
biddend
om met die vonk van God se Naam
die bos onverteer
in heilige gloed te laat staan
vir Akhenaten
is jou Mis
’n Chernobil
waar vos en wolf
voordag ligvoets territoriaal
met opgetrekte bolip
tande bloot
aan woudstam
en filigraan adem
Flehmen respons
op ’n daagliks nuutgemuteerde hoop
God sê: Toe Ek geroep het
het niemand geantwoord nie
__________________
MR James
die nag 4-5 Augustus 1962
vir Aletta
in die gastehuis
aan die breë duim op ’n plunjer uitgelewer
deur manshande
oor ’n grasperk gedra
die tuiskoms
in die verligte klein katakombe
’n installering
op ’n dubbelbed in die hoofslaapkamer
die platinumblonde kop
in die stomfilm weggedraai na die muur
wat oorbly van die ontwerpersrug
vir Matisse of ’n pap geënsceneer
’n tafeltjie ontvou sirkelvormig
uit drie pote onder ’n bedlamp
op vingerpunte
bruin glasrelikwieë
na ’n vinjet
agter ’n katoogbrilraam
glip Eunice Murray
by die agterdeur uit
deur ’n syhek
verslete leerhandsak oor jou arm
fatsoenlike katoenrok
onder ’n ligte effekleur jas
leerskoene met ’n ingetoë hakkie
Marilyn memorabilia
op 5 Maart 1994
sterf jy
jou begrafnis
kuns-in-uitvoering
die meesterkopie
’n ongeskonde vingerafdruk
beendig in die kranium verseël
die teks gebundel teruggegee


Kommentaar
Mr James, my gunsteling.
Marilyn se tragiese lewe met die laaste huldeblyk aan haar skoonheid, soos ons haar onthou, wanneer jy na Matisse verwys en die “glamour” in haar platinum hare.
Gevul met misterie ...
Al haar drome en vrese blootgelê.
12305 Fifth Helena Drive: A haunted house indeed.
Antjie Krog.
Gefokus en kragtig. Die aggressie goed saamgevat en weergegee.