Twee boeke oor die leuens wat wit mense glo: ’n resensie

  • 2

Skrywer: Karin Mitchell
Titel: The High Treason Club. The Boeremag on trial
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776392162

Skrywer: Gavin Evans
Titel: White supremacy. A brief history of hatred
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776194438

David Lane, ’n Amerikaanse terroris sou gesê het: “We must secure the existence of our people and a future for the white children.” Daarteenoor was Martin Luther King Jr lewensuitkyk: “If can we learn to hate, we can learn to love.”

Ek was saam met die Boeremag in die tronk, dus was ek nie van plan om Karin Mitchell se The High Treason Club: The Boeremag on trial te lees nie. Wat sou sy kon skryf wat ek nie reeds weet nie? Inteendeel, ek kan vir háár goed vertel wat sý nie weet nie.

Verder is dit ’n lewe wat ek agter my gesit het.

Of probeer.

En soms spesifiek self opgrawe. Soos met Coligny en Senekal. En nou met die 49 Afrikaner-vlugtelinge en #Afrikaans100. Ek moet immers mense waarsku teen wat ek was as ek die gevaartekens herken.

Tydens erge rassespanning smeek ons die Here om vrede – dink byvoorbeeld aan Chris Hani se sluipmoord, Coligny, Senekal, om net enkele gevalle te noem – en ná die ontlonting neuk ons voort. Dan dokter ons nie die wonde nie. Ondersoek nie hoekom ons tot hier gekom het nie. Hoekom is ons dan verbaas as wit en swart sommer gou weer kookpunt bereik? Tot ons daadwerklik oor die probleme praat – en daarmee bedoel ek met mekaar, en nie van mekaar nie – gaan rassekonflik altyd deel van ons lewens wees.

Ons sit nie met ’n rasseprobleem nie – ons sit met ’n probleem van liefdeloosheid.

Sedert president Donald Trump se uitsprake rondom die volksmoord op boere en sy vlugtelingstatus aan Afrikaners, word ek gereeld uitgevra oor my mening. Sal ek gaan? Het ek nog hoop vir Suid-Afrika?

Die antwoord lê in Mitchell se boek.

Maar eers, agtergrond

Pretoria Lokaal Gevangenis – of New Lock soos ons bandiete daarna verwys – was my hoeveelste tronk in vyf jaar. Ek was die nuwe reënboognasie se eerste wit terroris en het ’n effektiewe vonnis van 40 jaar gevangenisstraf uitgedien vir my aandeel aan ’n vlaag bomontploffings in 1996. Teen die tyd dat ek vrygelaat is in 2015, het ek letterlik die helfte van my lewe agter tralies spandeer. Net ‘n handvol wit terroriste het meer as ek gedoen vir die “volkstryd”. Nog minder was langer as ek agter tralies. Geen een was in meer tronke as ek nie. En geen een het rasseversoening daarna sy lewensmissie gemaak nie.

Alles wat ons vandag beleef, het ek destyds geglo, gevrees en beveg. Dit is hoekom ons in tye soos nou Mitchell en Evans se boeke nodig het. Net ’n ander perspektief.

Wit volksmoord?

In Mitchell se openingshoofstuk staan:

In August 2018, US president Donald Trump tweeted about his concern over the “South Africa land and farm seizures and expropriations and the large-scale killing of farmers”. (Bl 1)

But when South African president Cyril Ramaphosa signed the bill into law early in 2025, the ripple effect was almost instantaneous. Trump issued an executive order, calling for the immediate halting of any aid to South Africa and offered resettlement to Afrikaners who were “victims of unjust racial decimation” through the United States Refugee Admissions Program. (Bl 2)

Aan die gatkant van die vryheidstryd, hier rondom 1991, was plaasmoorde die PAC se militêre vleuel, Apla, se spesialiteit. Verskeie van hulle vryheidsvegters het by die Waarheid-en-versoeningskommissie om amnestie aansoek gedoen weens hierdie soort optrede.

In 1996 het die Nieuwoudtville-plaasmoorde ons terroristesel geaktiveer om aktief te raak. Om wraak te neem. Ons het geglo plaasmoorde was die vyand se manier om ons van ons grond te verdryf.

Hierdie vrees op “volksmoord” is regses se teelgrond. Mitchell se vertelling van Herman van Rooyen (ble 50–52) onderstreep dit. By die lees daarvan herroep ek my eie vrees. Hoe kon ek so stupid gewees het om hulle te glo?

By the time the Boeremag approached Herman [Van Rooyen] in May 2001, their sentiments echoed his own and he felt compelled to learn more about their ideals. (Mitchell, bl 52)

Ek verwoord hierdie vrees in Onbeskryflike genade in ’n tronkgedig:

O, Blanke Germaan
pasop vir jou voortbestaan,
die dood van jou volk is om die hoek
en dit is ’n k_____ vloek.

Stel in jou geweer
en trek die sneller na willekeur.
Kyk hoeveel jy dood kan skiet,
want dit sal jou volk ’n lewe bied ...

Vrees tot op die punt van opoffering laat jou glo: Ek maak nie uit haat vir die ander dood nie, maar uit liefde vir my eie. In Van Rooyen se woorde:

I do not hate black people, nor do I wish to infringe upon their living space, prosperity, or success. I do, however, wish all of these things for my own nation, and my own cultural grouping. (Mitchell, bl 55)

As jy nie buite jou daaglikse kringe meng nie – op die vlak van menswees en nie bloot werk nie – kan jy maklik in ’n echo chamber vasval. Dan kan jy glo jou volk is ’n teiken, dat julle in ’n oorlog om oorlewing verkeer. Dat jy moet terugveg. Dit het met my gebeur, dit het met baie van die jong Boeremag-lede gebeur, en dit kan met jou gebeur. Onthou, nie alle gevegte vind met wapens plaas nie; die meeste “generaals” is deesdae net Facebook-vegters. Hulle vingers voer oorlog. Hulle hits die hele tyd haat en verdeeldheid aan. Waak daarteen om een te word.

Gavin Evans, skrywer van White supremacy: a brief history of hatred, toon nie net aan die hand van ’n paar wit massamoordenaars aan wat die uiteinde van die uitleef van hierdie vrees en haat was nie, hy trek ook die “white genocide” terug na Charles Darwin.

Anders as Mitchell se skryfstyl, is syne dié van verslaggewing, amper asof hy ’n lang nuusberig met feite weergee.

Sy skrywe raak in hoofstuk 7, “The South African connection”, aan die onderwerp:

At the forefront was an Afrikaner singer, Steve Hofmeyr, the grandson of an Ossewabrandwag terrorist, who used his social media reach (300 000-plus Twitter followers) to promote far-right causes and particularly the White Genocide take on farm murders. (Evans, bl 85)

Die uitverkiesing is die fondament van die Israel Visie-sekte, aan wie ek groot gedeeltes in my biografie, Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, afstaan, maar Evans raak nie daaraan nie. Nog minder aan Siener van Rensburg. In baie huise, soos destyds op die moordplaas, is Adriaan Snyman se boeke oor die Boere-profeet saam met die Bybel gelees.

Mitchell, daarenteen, delf diep. Haar navorsing oor Israel Visie en Siener van Rensburg is deeglik. Dit dien, sonder dat sy dit uitspel, as waarskuwing.

Ek het gevind dat mense wat kwaad is vir die regering en moeg is vir korrupsie, slaggate en beurtkrag, maklik by hierdie rassistiese sekte aansluit. Moenie dat woede jou geloof beïnvloed nie, nog minder vrees. Siener van Rensburg se waarskuwings en vrees vir die nag van die lang messe laat ons verkeerdelik glo Uhuru is op ons.

Deon [Crous] later told the court that “everything we did was kind of based on the belief that the Night of the Long Knives was going to come”. (Mitchell, bl 167)

Slotsom

“Maak die EFF se ‘Kill the Boer’-liedjie jou nie bang nie?” vra iemand my op ’n mannekamp.

“Nee,” skud ek my kop. “Ek is banger vir die mense wat nog die ou Suid-Afrikaanse vlag swaai en saam met Steve Die Stem sing.”

Ek wens ek kon Evans se boek in daardie man se hand stop voordat sy haat en vrees op geweld uitloop. Maar bowenal wens ek hy wil Mitchell se boek lees, en hom afvra of hy homself nie in een van die jongmanne herken nie, in sy denke en ook sy woorde. Ek wens hy wil The High Treason Club as spieël gebruik voordat dit te laat is. Voordat hy moor of vlug. Anders gaan hy dalk ook eendag soos Kobus Pretorius voel. Kobus, broer van Wilhelm en Johan, en seun van Lets – almal Boeremag-lede – het tydens die verhoor ’n politieke ontwaking beleef. Maar dit was te laat.

Kobus even wrote a poem in which he likened his parents’ “racial upbringing” to that of a man raping a child. He read the poem, “Rape”, to the court, and said a psychiatrist later told him his description of rape was accurate. (Mitchell, bl 276)

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dis 'n wonderlike bespreking dankie Stefaans. Ek dink ek ken iets van die wêreld waaruit jy kom. Die sogenaamde "regse" politiek. Hoewel ek blessed was met ouers wat nie politiek met ons gepraat het nie. En met my latere studies van geskiedenis en politieke wetenskap, is ek op Pavloviaanse wyse gekondisioneer om 'n totale gly in ALLE politici te ontwikkel. Die politiek trek die laagste van die laagste soort mens. Psigopate. Narsiste. Patologiese leuenaars. En dies meer. Nice oukies maak dit eenvoudig nie in die politiek nie.

    My vertrekpunt is en bly egter altoos dat ek dink die mens se keuses word grotendeels deur ons biologie bepaal. Ongelukkig wis ek maar min van genetika en al die dinge. Maar ons reageer op impulse en hormone en biologiese prosesse. En as sulks, sal die neiging tot nasionalisme nooit ooit verdwyn nie. Sommige mense voel net daai nasietrots in hulle are. Selfs sommige van ons bekende politici wat binne in die RNE-kabinet sit, word hiervan 'beskuldig'. Ek dink spesifiek aan die heer van Heidedal, die agbare minister van Sport, kuns en kultuur, wat van 'bruin' nasionalisme beskuldig word.

    Dis die realiteit. Mense verskil. Ek kan nie sê ek voel 'n buitengewone liefde vir my eie soort nie. Maar daar is sulke mense. En hulle is van al die rasse, geure en kleure. Ons het Afrikanasionalisme. Ons het die 'Eerste nasie'-verskynsel. Laasgenoemde wat tipies deur die Afrikanasionalisme verwerp word en afgemaak word as 'verdeel-en-heers-taktieke' uit die koloniale era wat lewend gehou word deur onpatriotiese seperatiste.

    Meeste van ons groot Afrikaanse skrywers van die 20ste eeu, was ook maar nasionaliste. Al was hulle dikwels aan't bots met die politici. Omdat hulle eerstens kunstenaars was. En nie politieke diere nie.

    Die vraag is, is daar werklik ruimte vir verskille binne die reënboog? Jy sal nog onthou, hier na 1994, al die grappies wat in omloop was oor die sogenaamde reënboognasie. Een gewilde en rassistiese grap was altyd, daar is geen swart in 'n reënboog nie. 'n Ander, meer filosofiese een was: Die kleure in die reënboog meng nie met mekaar nie.

    Wat my uitbring by die vraag. Is daar ruimte vir mense om hulleself te handhaaf binne die reënboog? Of moet die reënboog uiteindelik een enkele kleur word? Dit lyk my ook, die reënboog se taal is Engels. En met ander tale wat de facto afgeskaal word, word ander aspekte van identiteite ook in die proses afgewater.

    Ironies, soos ek verstaan, was die reënboog nooit bedoel om te sinspeel op die verskillende rasse nie. Dit was 'n analogie met Noag en die Ark en 'n nuwe ooreenkoms wat God sou maak met die mense van Suid-Afrika na 1994. Desmond Tutu het met die idee vorendag gekom...dit was edel, en ryp, maar het nie goed verouder nie...

    Ek wil ietsie sê oor die influencers. Ek glo bitter min van hulle, indien enige, is eerbaar. Dit gaan alles oor laaiks, klieks, komments, en shares en die goue eier - subskripsies. In die geval van sangers is dit weer kaartjieverkope en streams en dies meer.

    As jongman het ek my fair share van bekgevegte gehad met die Siener van Rensburg-manne (en daar is baie sulke tantes ook, moet ek bysê), maar ek het opgegee en tot die slotsom gekom ek mors my asem. Die probleem is, soos jy reeds daarop sinspeel, dat die goeie, gesonde, gematigdes en die radikales iewers in die middel van hulle posisies mekaar raakdrink. En dan sommer saam braai. En kort voor lank gaan dinge soos ons weet dit gaan. Maar let wel, soortgelyke dinge gebeur maar ook aan die ander kant van die spektrum. Die libs en die progge kry ook elke dan en wan die idee dat hulle by mekaar pas soos legkaartstukkies, net om later lelik ontnugter te word. Ek volg nou nog soms die Siener dramas wanneer ek myself in 'n ledige uurtjie bevind. Andries Raath het 'n dikke boek oor Siener geskryf, wat ek deurgelees het, en Raath waarsku die volk pal teen Adriaan Snyman se interpretasies van Siener, maar helaas. So terloops, Raath was skynbaar ook onlangs betrokke by die opstel van 'n beswaarskrif wat by die Amerikaanse ambassade ingedien was. Die een wat die 118 raswette lys. Ek beskou hom (Raath) as 'n uiters gematigde en hoogs begaafde mens. Nie iemand wat homself met oorlog en bloed praatjies besighou nie. Iemand wie se politiek totaal van myne verskil, maar wie se intellek en karakter ek nie anders kan as om te respekteer en te bewonder nie.

    Dan moet ek ten slotte tog net iets sê oor Charles Darwin. Ons klomp ateïste se ou groot profeet en hero. Daar word skynbaar in die een boek 'n paar houe na Darwin uitgedeel, maar my verstaan is dat Darwin nooit aan 'n wit meerwaardigheidskompleks gely het, soos wat soveel van mense nog tragies doen nie. Darwin het nie gedink wittes is meerwaardig nie maar hy het wel sommige rasse se kulture as verder gevorderd beskou. Dit was egter die algemene norm van die tyd om so te dink, presies soos wat mense reg deur die bank gedink het dat die son om die aarde draai voordat Kopernikus en Galileo anders begin dink het. Die sosiale Darwinisme, wat later ontwikkel het, het egter wel die koers van wit meerderwaardigheid ingeslaan. Veral met Francis Galton, wat 'n verlangse familielid van Darwin was.

  • Luan Staphorst

    Heer van der Merwe illustreer weereens sy vooroordeel en onkunde. Hy maak die volgende stelling: “Daar word skynbaar in die een boek 'n paar houe na Darwin uitgedeel, maar my verstaan is dat Darwin nooit aan 'n wit meerwaardigheidskompleks gely het, soos wat soveel van mense nog tragies doen nie. Darwin het nie gedink wittes is meerwaardig nie maar hy het wel sommige rasse se kulture as verder gevorderd beskou”.

    Daar bestaan ‘n magdom studies oor Darwin en sy denke wat geraadpleeg kan word. Ek haal direk uit ‘n stuk korrespondensie deur Darwin geskryf aan:

    “[Y]ou doubt the possibility of gradations of intellectual powers. Now it seems to me looking to existing animals alone, that we have a very fine gradation in the intellectual powers of the Vertebrata, with one rather wide gap (not half so wide as in many cases of corporeal structure) between say a Hottentot & an Ourang, even if civilised as much mentally as dog has been from wolf” (aangehaal in Peterson 2024: 253).

    “I […] look at all races of man as having certainly descended from single parent. – I should look at it as probable that the races of man were less numerous & less divergent formerly than now; unless indeed some lower & more aberrant race, even than the Hottentot, has become extinct” (ibid.).

    Nee, seg Heer van der Merwe, die “Hottentot” is seer sekerlik g’n mens nie – Darwin had dus gelyk! Vanuit ‘n ander perspektief gelees: Darwin was tog so ‘n wonderlike mens en stellings soos die is bloot tekenend van die denke van sy tyd toe die Khoesan as onmenslik verbeel is … Hy was ontsettend slim, maar ag vergeef hom maar die paar oomblikke waar hy net so dom soos die rassiste om hom was; ons moet hom dus tog net genadig wees.

    Ek stel voor Heer van der Merwe lees ‘n bietjie meer, ‘n bietjie wyer, voordat hy weereens sy onkunde (en in hierdie geval sy apologetiese houding jeens rassisme) ten toon stel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top