"TV-shows is in my bloed": ’n Onderhoud met Casper de Vries

  • 2

Casper de Vries (foto: verskaf)

Casper de Vries praat met Remona Voges oor Cas oppie kassie.

Casper, jy is al lank in die bedryf, maar jy was lanklaas op TV. Van waar die idee vir ’n nuwe show?

Ja, ek was in 2009 laas op kykNET met Casper rasper weer en dit was in nuwe formaat as Die Casper rasper show. Laasgenoemde was ’n uur lange show op die verhoog en dit was baie geskoei op Jay Leno en Saturday night live, Conan O'Brien en Graham Norton se komedie. Maar Casper rasper weer was net sketse, so dit was ’n ander tipe styl om aan gewoond te raak en ek het ongelukkig net een seisoen daarvan gedoen. Die terugvoer was van so ’n aard dat ons nie daarmee wou voortgaan nie, hoewel ek nog materiaal oorgehad het vir ’n tweede seisoen. Daarna het ek my in ’n tipe woestyn bevind waar ek nie mooi geweet het waar ek my kuns kon kwytraak nie. Ek was baie teleurgesteld in kykNET, tot onlangs, toe ek weer bande met die kanaal en veral die jongmense wat daar betrokke is, gesmee het.

Ek het altyd ’n nuwe idee vir TV shows, dis in my bloed. Maar ek het toe gedink aan iets heeltemal nuut in Afrikaans met van my ou karakters waarmee mense bekend is. Ek wou egter ook nuwe karakters en nuwe style en onderwerpe betrek. Dit is hoe die idee vir Cas oppie kassie begin het. Ek het met ’n hele klomp mense gepraat en ons het besluit om dit ’n go te gee, wetend dat kykNET se gehoor oor die afgelope paar jaar heeltemal verander het. Ons het omtrent sewe maande aan die reeks voorberei en het in Januarie begin skiet.

Casper in karakter (foto's: verskaf)

En waarmee het jy jou alles voor Cas oppie kassie besig gehou?

As ’n mens nie op TV is nie, beteken dit nie jy is dood nie. Baie mense dink: "O, waar is hy nou? Miskien verkoop hy klere by Checkers." Ek was vir jare lank op stage. Ek het van 2009 tot 2018 vir weke aaneen groot ouditoriums gevul. Daarna het ek besef: Oukei, ek het nou al my filosofieë gedeel tot op die punt waar mense dit kan hanteer want ek het agtergekom dat ek ’n bietjie oor ons mense se koppe praat. Komedie is baie makliker in Engels. Dis moeiliker in Afrikaans, omdat jy met ’n oorwegend konserwatiewe gehoor werk. Selfs my baie liberale fans skrik soms as mens dinge in Afrikaans sê wat mens nie gewoonlik hoor nie.

Desnieteenstaande het ek ook specials op televisie vir Comedy central gedoen, maar ek het gevoel dit is ná al die jare weer tyd om comedy sketches te doen. En toe het ek en kykNET die strydbyl begrawe. Daar is ’n nuwe, jonger geslag mense by kykNET en ek het agtergekom dat hul my opreg respekteer vir dit wat ek gedoen het. Ek het besef ek kan myself absoluut uitleef met nuwe style en dat dit tyd is vir ’n nuwe aanslag. Cas oppie kassie was met ’n spesifieke styl in gedagte geskiet en ons het dit 100% reggekry. Ek is ontsettend tevrede daarmee. Ek dink baie mense moet die reeks meer as een keer kyk om ten volle te begryp wat daar aangaan, maar ek is hoogs tevrede en ek het met fantastiese jong talent gewerk. Dit is altyd vir my lekker om met jongmense te werk, want ek vind aanklank by hulle. Ek dink dis omdat ek jonk van gees is. Ek kom agter dat mense wat actually my ouderdom is, gewoonlik oud en koud is. Ek hou van nuwe dinge, tegnieke, en maniere om sketse te approach. En dit het ons alles met hierdie nuwe show gedoen. Ek is baie happy daarmee.

Verkies jy TV-werk of die verhoog? En hoekom?

Ek het nie eintlik ’n voorliefde vir die een of die ander nie. Hulle is so verskillend. Moet ook nie film weggooi nie, want dit is ook weer ’n heeltemal ander genre waar ’n mens stadig werk en waar mens nogal moet kophou – veral wat betref kontinuïteit en sulke dinge. Ek is mal oor televisiewerk, veral as ek my eie producer en regisseur is, want dan kan ek die tempo waarteen ek werk bepaal. Ek sal in die toekoms baie graag self ’n fliek wil maak. Ek het ’n hele paar idees daarvoor. Maar ek het nog so ’n paar televisiereekse in my oor voor ek na film wil aanbeweeg. Ek hou daarvan om editing en sound editing te doen. Enigiets kreatief hou my aan die gang.

Casper in karakter (foto's: verskaf)

Kan jy ’n bietjie meer oor Con se storie wat deel van Cas oppie kassie is, vertel?

Ek wou al lankal ’n animasiereeks gemaak het. Daar was destyds sprake van ’n strokieskarakter wat ek vir ’n sekere koerant sou doen wat op die ou end nie uitgewerk het nie. Ek het kykNET ’n hele paar jaar gelede gaan sien toe ek ’n idee gekry het vir animasie soortgelyk aan The Simpsons, Family Guy en South Park. Dit was egter net eenvoudig te duur om so iets te vervaardig, veral episodes van 25 minute elk. Ons het met Cas oppie kassie die kans gewaag om tog die geld te belê in die reeks Con se strorie, wat net vyf minute per episode is. Ek is baie happy met hoe dit uitgekom het. Ek het vir die span gesê om na ander internasionale voorbeelde te kyk en dit is min of meer die styl waarin hulle gewerk het. Die script was vooraf klaar opgeneem en die kunstenaars het na die stemme geluister en die karakters daarvolgens geteken, sonder enige van my voorskrifte. Ek is baie gelukkig met die eindproduk. Ek hoop ons kan eendag ’n volle reeks van 25 minute per episode doen, want daar is baie materiaal vir Con se storie. Dis ook ’n slim titel en iets waarmee die Afrikaanse kultuur kan identifiseer – hoe ons optree in ’n kerklike situasie. Baie van daai goed laat ’n mens smile en daarom is ek baie trots op die reeks.

Wie sal van die program hou? Dink jy dat die inhoud tot ouer kykers sal spreek of is die tipe komedie op ’n jonger gehoor gerig?

My werk was maar nog altyd op ’n jonger generasie gerig. As mens kyk na internasionale komedie, is daar ’n sekere styl waaroor ek mal is en wat ons ook in hierdie reeks emuleer. Ons fokus veral op parodie en satire. Ek is sedert my kinderjare mal oor byvoorbeeld die tydskrif Mad, so dit is gebaseer op goed wat mense ken, maar dit is ook ’n send-up daarvan. Dit sluit aan by dinge wat om ons gebeur, modegiere op YouTube waarmee ons die spot dryf, ens.

Is die inhoud geskik vir sensitiewe kykers?

Ek dink nie my materiaal was al ooit vir sensitiewe kykers bedoel nie. Daar is egter sekere onderwerpe wat ek met opset uit hierdie reeks gehou het omdat ek weet die program is vir Afrikaanse mense geskryf. Die Afrikaanse kultuur word baie gou en maklik geskok. Dieselfde mense sal nie soseer skrik vir ’n woord in Engels nie, maar as dieselfde woord in Afrikaans gesê word, skrik hulle hulle skeef. Ons het regtig hard probeer om die teks nie té skokkend te maak nie, maar dit moet ook sekere dinge aanspreek, anders is dit te mak en niksseggend. Ek dink met die eerste uitsending het ’n hele klomp mense besluit dit geval hulle nie en dit is oukei. Ek dink daar is ’n paar mense wat voel hulle het die reg om te sê: "Haal die program van die TV af!" Maar as dit jou so pla, moet dit dan eerder nie kyk nie. Dis ’n halfuurtjie waar jy jou boude moet styf knyp en dan is alles weer lekker.

Casper in karakter (foto's: verskaf)

Wat was vir jou die lekkerste deel daarvan om hierdie program te skiet?

Ek is ’n jack of many trades en ’n master of none. Ek geniet dit om die script uit te dink, te visualiseer en dan met die akteurs te werk en te sien hoe die show voor jou afspeel . Ek is een honderd persent by al die prosesse betrokke. En dit is vir my fantasties. En dan is dit natuurlik die lekkerste om agteroor te sit en na die eindproduk te kyk.

Watter advies het jy vir jong standup / comedy kunstenaars?

Comedy is van die moeilikste genres wat jy kan doen, en as jy jou sout werd is, sal jy baie goed kan cope met ernstige acting ook. Dit is ook belangrik om die genre van improvisation te ken, al is dit ernstig of tragies-komies. As jy goed is in comedy, is jy uitstekend in drama – en dit is iets wat mens nie altyd onthou nie.

En wat is die beste raad wat iemand in die bedryf al vir jou gegee het? En wie was dit?

’n Baie bekende Suid-Afrikaanse kritikus het vir my op 21-jarige ouderdom gesê om oorsee te gaan, hierdie land gaan my nie waardeer nie. En ek het gelag en gesê "Maar ek is Afrikaans, dit is my taal." As ek nou daaraan terugdink, was dit miskien goeie raad. Wie weet wat die uiteinde sou gewees het, waar ek sou wees en wat ek sou bereik het, want dit sou definitief nie in Afrikaans gewees het nie. Ek het destyds besluit om nie die raad te volg nie en eerder aan te gaan in Afrikaans. En van my grootste kritici is Afrikaanse mense met groot bekke. So mens wonder soms of mens nie maar eerder moes gegaan het nie. Ek kan hoor in my "geestesoor" hoe sê die Afrikaner: "Ja, maar wat soek jy hierso? Fokof!" Maar ek is ook deel van die kultuur en ek wou baie graag wys dat ons volwasse kan wees in ons kultuur, net soos met enige ander moderne kultuur, en ek het dit reggekry deur baie mense kwaad te maak, maar ek het voet by stuk gehou en my ding gedoen. En van die goed is uniek as gevolg daarvan, omdat dit in Afrikaans is. So ek weet nie of dit goeie of slegte raad was nie, maar dis raad wat ek nooit vergeet het nie. Ek dink elke nou en dan daaraan terug en wonder waar sou ek gewees het as ek na hom geluister het. Maar is ek happy met wat ek bereik het en die heritage wat ek agterlaat? Absoluut. Dis uniek en dis Afrikaans! In ’n meertalige, multikulturele land is dit iets waarop mens trots kan wees.

Cas oppie kassie word weekliks om 20:00 op kykNET, kanaal 144 uitgesaai. 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Adriaan Botha

    Ek is bly Casper het besluit om in SA te bly. Sal graag weer ‘n show wil sien en ook vorige shows wil koop. Die komedie het nog altyd op verskeie vlakke aanklank gevind. Ek is 'n Casper fan!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top