Tutu: Nou is die kansel leeg …

  • 7

Romeine 15: 4 – 5

...
Sy integriteit en opregte meelewing met mense van alle agtergronde, sy liefde vir Afrikaans, sy grenslose geduld en respek vir verskille het my toenemend opgeval.
...

Op Facebook vanoggend lees ek ’n inskrywing dat die ontslape Desmond Tutu nie (slegs) die “vriendelike Arch” was wat nou op sosiale media voorgehou word nie. Die skrywer verwys na dekades gelede, toe Tutu ’n rol gespeel het in die aftakeling van apartheid. Hy noem terme soos bevrydingsteologie en spesifiek die invloed van Gustavo Guitiérez, wat in die middel van die vorige eeu ’n belangrike rol gespeel het om die kerk te posisioneer as agent om politieke verandering in Suid-Amerika te propageer. 

Guitiérez het onder meer Marx en Freud gelees as teologiese student in Europa. Hy het ’n perspektief ontwikkel wat die radikale teenwoordigheid van God by veral armes en maatskaplik verontregtes aankondig. Vanaf ’n revolusionêre uitgangspunt het hy trouens verkondig dat God armoede haat, maar in die lot van armes ’n belang het. Armes word aangemoedig om hulleself te sien as rolspelers om die Koninkryk van God teenwoordig te maak in hulle omstandighede, selfs al sou dit beteken dat hulle bestaande strukture in samelewings omver werp. 

My kennismaking as tweedejaarstudent met die marxisme en neomarxisme het gebeur in die filosofieklas van Pieter du Toit. Ons het verskillende 20ste-eeuse denkers se invloed op Westerse denke bekyk: Habermas, Horkheimer, Marcuse, Fromm, Adorno. Dit was die middel-1980’s. Dit was toe verbode om ’n foto van Mandela te publiseer of hom aan te haal.

Een oggend in die filosofieklas vra Du Toit wat ons dink van die Dakargesprekke?

  • “Ons”: Van Zyl Slabbert, Max du Preez, Herman Giliomee, André Brink, Breyten
  • “Hulle”: Thabo Mbeki, Pallo Jordan, Jakes Gerwel, Mac Maharaj.

Ons gesels kommunisme, maar Das Kapital is nog verbode om te lees. Ek skaf ’n kopie van Perestroika aan voordat die sensuurraad dit van rakke verwyder. Ek woon ’n Cosas-vergadering op die Tukkieskampus by. Van my klasmaats gaan luister na Eugène Terre’Blanche in die Aula. In ’n klasbespreking vra ek ’n dosent wat op die Film- en Publikasieraad gesit het wat sy daarvan dink dat Warner Brothers dreig om op te hou om produkte na Suid-Afrika te versprei tensy filmteaters toegang vir alle rassegroepe bied. Haar reaksie: “Warner Brothers versprei nie juis materiaal van hoë meriete nie.” En ek luister Eet kreef. ’n Opstand broei.

’n Jaar of wat later leer ek ’n liefde vir Moltmann aan, spesifiek sy boek Kirche in der Kraft des Geistes. Ek koop op Ben Gurion-lughawe vir my ’n preekpostille, saamgestel uit radioboodskappe van Moltmann in die ’70’s. Een spesifieke hantering van die teks van Romeine 15:4–5 fassineer my vir dekades: Moltmann sê dis nie net ons wat op God hoop om ’n verandering in ons omstandighede teweeg te bring nie, God hoop ook op óns om onregverdigheid in bestelle te beëindig. Die teologie van hoop. Ek lees ander skrywers. Sölle, Pannenberg, Rahner, Bloch. Ek hoor die term kontekstuele teologie. Ek word geleer om geheel die term swart teologie te wantrou. Martin Luther King, Boesak, Chikane, Tutu. Die Kairosdokument in reaksie op PW se noodtoestand is maande lank in die klas op almal se lippe. Ek is besig om te studeer om ’n predikant te word in ’n kerk wat trots Afrikaans en wit is. Maar miskien veral andersom. Behalwe dat jy die onderstrome nie kan ontken nie. Alles gaan noodwendig verander. Veral kerkgeskiedenislesings word ’n spanningsvolle uur in my dag. Hoe leef en werk mens in ’n omgewing waarvan jy glo dat dit die meriete het om die gemeenskap te mobiliseer en om te keer, maar jy glo dit stroomop? Hoe versoen jy ’n gewetenswroeging met al die starre, onveranderlike eeue oue Kategismus en Leerreëls en die belydenis van ’n volkskerk waarvan die meerderheid van die lidmate verstaan dat dit beteken ander rassegroepe is nie welkom nie?

Ek wens ek kon sê dat ek die moed van my oortuiging as 20-jarige gehad het om (altyd) vir my oortuigings op te staan. Uiteindelik het ek grootliks gekonformeer en saam met die stroom beweeg, my protes grootliks opgemerk, dikwels bespot. Ek het gedink ek kan van bínne ook ’n verskil maak. Dalk was ek die Allan Hendrickse van opstandelinge in my universiteitsgroep. Hendrickse word daarvoor onthou dat hy in PW se spanspeletjie saamgespeel het terwyl Boesak en Tutu en Chikane optogte gelei het. Hendrickse word origens gesien as dat hy net-net nie dapper genoeg was om ’n tasbare verskil te maak nie. Hy het darem moedswillig, moet ek vir hom opkom, gaan swem waar hy nie mog nie om net nog sy teenstem op die sosiale orde aan te teken. Ek kom uit ’n regse, Afrikaanse, bevoorregte huis. En my bewondering vir Beyers Naudé en Johan Heyns is veral later, tydens my predikantsjare, te dikwels binnemonds geuiter.

...
Die beginsels van die teologie van hoop was steeds die kompas vir sy lewe; elke gemeenskap en mens se stryd teen ongelykheid en ongeregtigheid ’n waardige een om in voor te loop: menseregte, gayregte, die bekamping van Vigs, die Israeli-Palestynse krisis, Tibet.
...

Vir die afgelope 35 jaar het ek ’n ander, genuanseerde bewondering vir Desmond Tutu gekry. Tutu het in die ’70’s met ’n vriend van my, Robert Taylor, ’n vriendskap gesmee wat onder meer teen militêre diensplig gewoeker het. Taylor is ’n predikant uit Suid-Afrika wat onder druk uitgewyk het na die VSA en steeds daar woon en werk. Die Waarheid-en-versoeningskommissie het my die menslikheid van Tutu laat waardeer. Sy integriteit en opregte meelewing met mense van alle agtergronde, sy liefde vir Afrikaans, sy grenslose geduld en respek vir verskille het my toenemend opgeval. Dit was asof hy deel van die dekor geword het wat hoop bring in ’n land waarin hy self gedisillusioneerd geword het met ’n nuwe tipe swak regering gekenmerk deur nepotisme en korrupsie terwyl die lot van individue en hele gemeenskappe moedelose mense nooit ernstig opgeneem word nie. Die beginsels van die teologie van hoop was steeds die kompas vir sy lewe; elke gemeenskap en mens se stryd teen ongelykheid en ongeregtigheid ’n waardige een om in voor te loop: menseregte, gayregte, die bekamping van Vigs, die Israeli-Palestynse krisis, Tibet. Ek sal hom onthou vir sy voorbeeld dat vreedsame protes meer vriende wen as wat dit vyande maak en dat geen sisteem verhewe is bo die maatstaf van menslikheid nie.

  • 7

Kommentaar

  • Beste Bertus
    Ek lees nog so lekker, toe is ek by die einde...
    Ons het nog net een keer telefonies gesels, 'n tyd gelede.
    Ek hoop ons kan nog verder in persoon gesels.
    Ons golflengte het verskeie anekdotes wat ek met jou kan en wil deel.
    Jy sal dit kan geniet en waardeer.
    Ek plaas dit op my kluitskoplys.
    Au revoir
    Dirk

  • Annora Eksteen

    Ek stem saam. Medemenslikheid. Mag sy nalatenskap uitkring in die Anglikaanse Kerk dat gay mense ten volle daar aanvaar word en orals. Dit moes vir hom baie pyn verskaf het toe sy dogter haar amp daar moes opgee toe sy met haar vrou getroud is. Dit is so dat meeste mense hier ter lande nog gelowig is, en as dinge in die kerke sal swaai, sal dit ook grondvlak beter gaan in hulle houdings teenoor gay mense. Aartsbiskop Thabo Makgoba staan sy plek met liefde en menslikhedid vol in hierdie opsig.

  • Muller Dirker

    Baie geniet. Baie dankie Bertus. Het weer baie dinge uit die verlede opgeroep en beleef. 'n Soomlose 2022 vir jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top