[tussen hemel en aarde] en Koos se Kytie

  • 0
Alexa Strachan (Foto: Nardus Nel)

Alexa Strachan gesels met Naomi Meyer oor twee uiteenlopende produksies by die US Woordfees waarby sy betrokke is: [tussen hemel en aarde] en Kytie - 'n Koos Kombuis-storie.

Hallo Alexa, dankie vir die geleentheid om te gesels.

Ek voel erg geëerd – so half begin dink LitNet voel ek en my werk is nie diep genoeg nie. 🙂

Jy het die drama Kytie – ’n Koos Kombuis-storie geskryf. “Kytie was ma en vriendin, warmte en liefde vir ’n seun wat effe anders was. In ’n tyd toe dit nie aanvaarbaar was om ander en anders te aanvaar nie, het die twee ’n band gehad wat beide se leefwêreld moontlik gemaak het.” So word die produksie opgesom. Maar die pragtige Crystal-Donna Roberts op die foto? Vertolk sy die rol van ma en vriendin – of minnares?

Ja, daai woorde is uit my “skrywersnota” gehaal. Crystal speel letterlik Kytie, soos sy was in Koos se lewe: die enigste (?) mens wat Koos, toe hy ’n klein, vreemde, effe wanaangepaste wesentjie was, verstaan het, of ten minste probeer verstaan het. Koos onthou Kytie nie as ’n “mooi” vrou nie, dus is Crystal se skoonheid ’n bonus. Maar hy onthou haar as baie klein van postuur, en Crystal is so.

Ek het tydens die skryf van die teks oorweeg om Crystal ’n paar rolle te laat speel, maar het op die ou end daarteen besluit. Die uitdagings was reeds so groot: ek moes werk met ’n ikoniese, wyd-gepubliseerde lewende karakter (Koos) en sy ewe ikoniese lied. Ek het dus gefokus op Koos se verhouding met Kytie – tyd in teater is min. Ek moes natuurlik, met Koos se seën, effe vryelik met die feite omgaan ten einde ’n drama met die nodige “drama”, asook ’n begin en ’n middel en ’n einde, daar te stel. Die proses was aanvanklik angswekkend, later erg stimulerend, en nou weer terug na eersgenoemde. Wanneer mens met iemand se intieme lewensverhaal omgaan, moet jy lig trap – maar tog ook nie, want die teks moet op die ou end op sy eie voete kan staan. Ek is innig dankbaar vir Koos se vertroue, begrip en hulp in dié verband.

Het jy vooraf die akteurs in gedagte gehad? Hoe het jy hulle gekies?

Ek was nie betrokke by die keuse van akteurs nie. Dié het by Margit Meyer-Rödenbeck (regie) en Herman Pieters (vervaardiging) gelê, na etlike dae se oudisies. Ek dink wel dat dit ’n baie moeilike rolverdeling is. Aan die een kant moet die akteur ’n lewende legende speel wat heel waarskynlik in die gehoor gaan sit, en oor wie die publiek en teatergemeenskap baie sterk-gevestigde idees het. Ook moet beide akteurs deurentyd ouderdomspronge maak (die stuk speel af oor bykans 20 jaar). Ek dink nie ek het die akteurs of die regisseur eintlik ’n guns bewys met die teks nie!

Kytie – ’n Koos Kombuis-storie

Die Kytie-tema word op verskillende maniere in die Afrikaanse woordwêreld hanteer: Koos Kombuis se liedjie – hartverskeurend, bittersoet; maar ook Marlene van Niekerk se Agaat. Wat was hoofsaaklik die inspirasie vir jou teks? Dalk ’n persoonlike verhaal? (En het jy die kompleksiteit van die tema nie oorweldigend gevind nie?) 

Die teks is natuurlik gegrond op die bekende lied. Van daar af was dit ’n baie lang proses om by ’n werkbare teks uit te kom. Baie lees, baie gesprekke, baie wik en weeg. Koos se aanvanklike gevoel was dat daar in talle mense se lewens ’n Kytie is en dat ek dus my eie interpretasie en storielyn kan inbring. En natuurlik is daar, maar dit bly steeds iemand se eie intieme verhaal, en daarom het ek so getrou moontlik probeer bly, maar met die hoop dat die stuk sal ontwikkel tot iets groters, sodat daar ’n universele element intree.

Wie is jou ideale feesganger wat hierdie toneelstuk kom kyk? (In jou ideale wêreld: die gordyne lig in die Paul Roos Gimnasium ... Wie sit voor die akteurs in die saal?)

Ek weet nie of ’n baie jong gehoor werklik die stuk gaan waardeer nie; ek sou raai ’n effe ouer garde, maar dit is nie vir ’n spesifieke teikengroep geskryf nie. Ter wille van die akteurs wens ek eerder vir getalle as vir tipes, want  dis aaklig om vir leë stoele te speel!

Ek spring na ’n gans ander produksie: [tussen hemel en aarde]. Carina Stander, TT Cloete en Herman van den Berg – ek ken al die mense hier betrokke se werk, maar verduidelik asseblief wat is installasiekuns?

Ons het hierdie “genre” amper op ’n mogge-troffe-wyse gekies, omdat dit die naaste bekende is aan wat ons hier probeer doen. Wat noem ’n mens iets wat bestaan uit video en musiek, met digkuns as basis? Wanneer mens in kunsmuseums instap, sal iets soortgelyks seker “videokuns” genoem word. (Dit is nie “live” nie.) Maar om doodeenvoudig te verduidelik: ons het TT Cloete en Carina Stander se gedigte as basis gebruik en dit verder geïnterpreteer, dmv video, musiek en stem. Dit is dus nie jou tradisionele musiekvideo nie, maar ook nie tradisionele voorlesings of toonsettings nie. Dis ’n movie ... net natuurlik ook nie tradisioneel nie! En boonop gaan die gehoor op hul rug lê om die projeksies dak toe (hemel toe?) te bekyk en te ervaar.

[tussen hemel en aarde]

Hoe het hierdie mense vir jou saamgekom – watter woorde van Stander en Cloete het jou heel eerste geprikkel? Of ’n spesifieke lied dalk van Herman van den Berg? Dalk net sy stem?

Nee, nee, hierdie een het na my toe gestap, nie ek na hom toe nie. Carina is, sal ons sê, TT se protégée. Herman het natuurlik ook van Carina se gedigte vir sy nuwe album getoonset. Ek, Herman en Pieter Lombaard werk geruime tyd reeds saam aan ’n verskeidenheid projekte. Herman maak gereeld die musiek vir my teaterproduksies, en Pieter maak gereeld Herman se musiekvideo’s. Loer sommer na die musiekvideo van “Rondloper” – in hierdie geval NP Van Wyk Louw se gedig – dan sal die samekoms en –werking van mense soveel sin maak.

 

Die gemene deler hier is waarskynlik die geskrewe, en spesifieke kwaliteit, woord, musiek en beeld – gereeld atmosferies, ruimtelik en baie inhoudryk.

Maar oor die enkele gedig van TT waarop alles vir ons almal geskoei is, is daar nie eintlik twyfel nie:

God die digter

Chili is deur ’n digter gemaak
- Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak.

En die visuele: die videomateriaal word behartig deur Pieter Lombaard. Vertel asseblief vir ons lesers wat hulle kan verwag om te sien (letterlik).

Pieter self sê: “Ek probeer om nie die gedigte letterlik te illustreer nie, maar om dit te interpreteer. Maar ek wil TT se fassinasie met die sterrekunde en die natuurwetenskappe tog gebruik. Daarom is daar van mikroskopiese tot makroskopiese beelde. En dan natuurlik moet ons die mens as verwonde medeskepsel en waarnemer ook uitbeeld. Soms gaan die gehoor dus visueel op ’n reis geneem word waarop hulle nie noodwendig op eie lees en eie interpretasie sou gaan nie." Dit is die uitdaging, maar ook die gevaar ... want die gehoor kom met persoonlike beelde na ’n ou geliefde gedig toe.

Wat was vir jou die lekkerste of die mees uitdagende van hierdie produksie?

Hoe wonderlik is dit nie om met ’n digter soos TT se seën absoluut vryelik met sy werk te kan omgaan nie. Hy het geen beperkinge gestel nie, geen voorwaardes nie (mag ons hom nie teleurstel nie!). Die uitdaging is natuurlik altyd dat mens met geen begroting werk nie ... almal betrokke doen dit in spaartyd, met spaargeldjies (bestaan daar rêrig so so iets?).

Gaan jy tyd hê om self by die Woordfees rond te loop? Enige ander items wat jy self wil bywoon?

O ja, ek is daar, maar nie juis om rond te loop nie. Ek hanteer Oskar se verhoogbestuur self, moet [tussen hemel en aarde] help intrek en gebeur, en mis natuurlik vir niks Kytie se eerste speelvak nie – hoewel my senuwees op gaan wees, want ek haat dit om in die gehoor te sit – mens is so magteloos, jy kan die akteurs nie help nie, al sien en hoor jy wat verkeerd loop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top