
Foto: Canva
Tussen dagbreek en drome
Op ’n vergange Namibsnag
het die wind ’n kronkellyn
tussen die duine deurgesny
en in ’n vae newellaag
agter die horison verdwyn
wat in nuanses van herfsrooi
fabelagtig in die glimlig
van die môreson gegloei het
terwyl ’n nuwe dag hemelmooi
agter die heuwels uitgebroei het –
net toe nog ’n roestraan
van die bloedmaan
in die oseaan versink
daar, waar ons liefde spontaan
tussen droomgolwe rinkink.

