Tuiskoms: Dié liefdesverhale bied iets meer

  • 0

Tuiskoms: Stories oor die liefde
Irma Joubert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624052791
Prys: R160

As ek in my lewe vyf tydskrifverhale van begin tot einde deurgelees het, is dit baie. Weens verveling oorval slaap my meestal. Maar dit was nie die geval met Irma Joubert se Tuiskoms nie.
 
Hoewel Joubert lank reeds – sedert 2004 – tydskrifverhale skryf, is sy meer bekend vir haar historiese romans, waaronder Anderkant Pontenilo en Pérsomi, kind van die brakrant, twee van ’n trilogie. (Die derde een, Kronkelpad, verskyn in Oktober.) Lees mens die voorwoord van Tuiskoms, klink dit of Joubert voortaan meestal op die roman as genre gaan konsentreer. Sy verkies die skryf van “’n lekker vet boek” bo die kortverhaal, wat “’n moeiliker kuns” is, sê sy.
 
Wat ’n jammerte, want met die lees van Tuiskoms is dit duidelik dat Irma Joubert wéét wat sy met die korter genre doen. Dis ’n versameling verhale oor die liefde, stories wat (sedert 2004) in Huisgenoot, rooi rose en Landbouweekblad verskyn het.

Liefdesverhoudinge in verskeie vorme word ondersoek. Tussen (jong) mans en vroue, tussen ouer mense, tussen kind en ouer, tussen broers en susters, en selfs tussen voëls! Van die verhale speel af op Kersfees, Moedersdag en Vadersdag.

Al is die einde van ’n liefdesverhaal vir ’n tydskrif gewoonlik voorspelbaar, is dit die hóé wat belangrik is. Joubert slaag dikwels daarin om die leser te verras met haar kinkels – soos wanneer ’n onverwagte selnommer ’n gelukkige oplossing bring of wanneer haar karakters (Petronel in “Petronel se dilemma” of Juani in “Kersfees op Kleinbaai”) mettertyd tot ander insigte oor hul gevoelens kom. Daar is selfs ’n verhaal soos “Lucy met die mooi stem”wat ’n meer realistiese einde het.

Joubert se hantering van liefde tussen bejaardes is besonder sensitief. In “Bessie se spesiale verjaardag” vergeet haar kinders sy word 80, maar maak ’n wewenaar haar dag. Ook Ampie in “Oom Ampie se dwaling” vind onverwagse liefde by ’n veel jonger vrou, tot sy kinders se groot skok.

Dialooghantering is goed. Ouer mense praat soos hulle moet. Diena in “Grootjie Henna se doodskleed” sê byvoorbeeld “beginne met die maak van haar doodskleed …”.

Hier en daar wil jy kop knik of hardop beaam, want die skrywer vat gevoelens wat jy so goed geken het, of ken, so raak. Soos in “Bel my wanneer jy grootgeword het”: “Daardie naam (Ryno) sal altyd iets in my wakker maak, dink Heloise waar sy met haar rug na die seremoniemeester sit. Iets tussen ekstase en ’n diep seerkry. Nee, nie iets tússen nie: dis ekstase of seerkry, ekstase én seerkry.” In die voorwoord skryf sy ook iets wat só waar is: “Maar die hart laat hom mos hoeka nooit voorsê nie.” En baie lesers sal dié hoop in “Oom Ampie se dwaling”deel: “Jy moet iemand kry wat glo jy is die mooiste vrou in die wêreld, al is jy later grys en gekreukel. Iemand wat dink jy ken elke antwoord, al vergeet jy gedurig waar jou bril is. Iemand wat dink jy is sterk en snaaks en slim, al weet jy self van beter.”

Van die stories laat mens glimlag. Soos wanneer Eusía van der Spek, wat graag haar naam én van sou wou verander, sê: “Maar Oumie het aandete gemaak, met souskluitjies, wat ook nie help om die Van der Spek na Maerskalk te verander nie.”

Joubert slaag daarin om haar karakters geloofwaardig uit te beeld en deur die loop van elke verhaal van net ’n paar bladsye te laat ontwikkel. Hulle klink ook nie almal na dieselfde mens nie.

Om ’n titel te kies – veral van ’n kortverhaal – is nie maklik nie. En tog vang dié skrywer s’n presies die kern van elke verhaal vas. Die titelverhaal dui byvoorbeeld op ’n letterlike tuiskoms, maar ook op ’n liefde waarmee die hoofkarakter (Jeanelize) besonder tuis voel.

Wat wel pla, is die clichés wat mens tog te gereeld raakloop. Hoort hulle in liefdesverhale? Ek weet nie. ’n “Stout” glimlag, ’n gesig wat “plooi”, oë wat “terg”, “smeulende” oë, ongeloof wat oor ’n gesig “spoel”… Dis al soveel, soveel kere gesê. Maar dan is daar ook juweeltjies soos “witwarmwoedend” en “kielielaggie”.

Hier en daar word te veel vertel eerder as uitgebeeld. Soos in “Tuiskoms”: “[H]y vertel haar al die nuus en storietjies uit haar kontrei …” Die Karel-karakter kon eerder letterlik een of twee goed vertel het, die leser sou só meer oor hom te wete gekom het en die verhaal sou selfs boeiender gewees het.

Baie van die verhale val tussen die tipiese tydskrifverhaal en die meer literêre kortverhaal. Dis hoekom dit vir my, ’n absolute (literêre) kortverhaalverslaafde, ’n bundel is wat ek vir die leser van tydskrifverhale met ’n geruste hart kan aanbeveel. Veral as jy daardie ietsie méér soek.

  • Riette Rust is ’n vryskutjoernalis.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top