’n Tuin vir Tessa
Helena Hugo
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780624080237
Die boek handel oor die Heyns-familie, Altus en Tessa en hul twee seuns, wat ná ’n plaasaanval die familieplaas verkoop en stad toe trek. Aanvanklik het Altus ’n besigheid wat veevoer en ander boerderybenodigdhede verskaf en begewe hom later ook in in- en uitvoer saam met ’n vennoot, Drikus, wat ook sy beste vriend is.
Die een ramp na die ander tref hom, en sy versekering moet groot bedrae uitbetaal vir skeepsvragte wat óf sink óf besmet is en by doeane afgekeur word. Hy ontdek dan dat Drikus hom besteel. Skuld hoop op nadat hy reeds verbande op sy huis en kleinhoewe geneem het om die besigheid se begroting te laat klop.
Dit gaan só sleg dat die besigheid onder sekwestrasie geplaas word, maar hy skop vas, verkoop sy kleinhoewe en leen nog geld teen hoë rentekoerse.
Tessa is onbewus van die storms om die gesin se koppe. In haar luukse woning met ’n huishoudster en voltydse tuinier leef sy in ’n perfekte borrel. Dis eers nadat sy Altus konfronteer nadat hy haar vra om haar uitgawes effe in te kort dat hy met die hele sak patats vorendag kom: dit gaan sleg. Die fabriek brand af; brandstigting word vermoed. Die versekering wil nie betaal nie en die bank dreig om die huis terug te neem. Nie net sekwestrasie nie, maar ook bankrotskap is sy voorland. Die karre, die huis en die inhoud moet alles opgeveil word om hom uit die tronk te hou.
Die geskinder raak ondraaglik; selfs by die kerk word hulle skeef aangekyk of oordrewe vertroos en Altus se gesondheid gaan vinnig agteruit, weens hartprobleme.
Tessa worstel met haar geloof, sy is kwaad vir Altus, en die kinders is ontevrede omdat hulle alles waaraan hulle gewoond is, gaan verloor.
Toe die gemeente betrokke raak, stroom hulp van alle kant af in en word daar ook vir die gesin gratis huisvesting aangebied, in ’n tuinwoonstel omring deur ’n pragtige tuin. Dit lyk of alles gaan uitwerk.
Helena Hugo is ’n knap en produktiewe woordsmid. Haar radioverhale (drie eerste plekke in die Sanlam/RSG-skryfkompetisie), drama Swane (wat met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon is) en die lang lys boeke op haar kerfstok is getuie hiervan.
Ek het regtig ’n groot aanhanger van Hugo se werk geword, juis omdat sy die vermoë het om mense se innerlike wroegings só goed te verwoord. Haar karakters kry ’n lewe tussen die bladsye en dis soos vriende vir wie jy moet koebaai sê as jy die laaste bladsy klaar gelees het.
Ek het myself ook al betrap dat ek soms in ’n vlietende oomblik wonder wat van ’n betrokke karakter geword het – net om te besef hulle bestaan nie!
Maar in Tuin vir Tessa het ek kleigetrap om simpatie met Tessa óf haar man te hê. Dis soos daardie Amerikaanse films waar die vrou salig onbewus is van haar man se bedrywighede en net die onnatuurlik hoë leefstyl geniet en heeltemal van die werklikheid verwyder word, omdat daar net te veel geld is. Hul “swaarkry” is vir my net nie geloofwaardig nie.
As jy die Heynse se leefstyl bekyk – die strandhuis van etlike miljoene, die huis van R30 miljoen, die plaas, die kinders se perde, die oordadige juwele en besittings en vele meer, vang jy eerder ’n gly in hulle as mense as om simpatie te hê.
En Tessa se wroeging met haar geloof en die gesin se vrees om kerk toe te gaan oor die gemeente se veroordeling, maar op die ou einde kom “red” daardie einste veroordelaars hulle, hou nie vir my steek nie. Mense hou daarvan om ander wat finansieel beter af is te sien faal: dit laat hulle beter oor hulself voel. “Hoogmoed kom voor die val,” lui die ou spreuk, en in die Heynse se geval is dit regtig in die kol. Veroordeel sal jy word. Maar daardie wonderbaarlike ommeswaai van mense is nie vir my oortuigend nie.
Ek wil my verstout om te sê dat mans in 2018 nie meer net hul sakebedrywighede – of waar die gesin se inkomste vandaan kom – van hul vrouens kan weghou om “haar te beskerm” nie. Of is dit werklik so dat vrouens net trofeevrouens word en nie bevraagteken hoe hulle wederhelfte hulle sente verdien nie?
Is daar nooit ’n oomblik as jy daardie tweede viertrekvoertuig koop of jy R70 000 op jou kredietkaart skuld dat jy wonder hoe jou man dit alleen vermag terwyl jy jou hare of naels laat doen of by Bybelstudiegroepies sit en tee drink nie?
As dit net in my klein wêreldjie is waar vroue vrae vra, dinge bevraagteken en vir hulself dink, is ek die eerste wat sal erken dat ek nie weet waarvan ek in die groter konteks praat nie.
En om jou Persiese matte, oorsese skatte, rekenaars en ontwerpersklere by vriende weg te steek omdat die balju jou huis gaan leegdra, is nie waarlik kaalgestroop en oorbegin nie. Of is dit?
Hugo skryf onder haar erkennings dat geldnood, soos ’n siekte, enigiemand kan tref. Daarmee stem ek heelhartig saam. Maar om te skryf dat kerke se gebedslyste baie “lank en droewig” is met mense wat siek is of geliefdes aan die dood afstaan, en mense soos die Heynse dan ook daar in te sluit, is vir my te dik vir ’n daalder.
Hierdie is nie karakters oor wie ek weer in ’n vlietende oomblik gaan wonder nie.