Tuin van die Digters in volle bloei

  • 0

Verlede jaar is die digterstuin by die Breytenbach Sentrum in Wellington geopen – ’n gebeurtenis wat volgens die organiseerder, Theo Kemp, spontaan tot die ontstaan van 'n poësiefees by name die Tuin van die Digters aanleiding gegee het. Vanjaar was die tweede aflewering, en wanneer daar na die opkoms gekyk word, het dié "digtersfees in die kleine" so eksponensieel gegroei dat dit byna uit die nate van die Breytenbach Sentrum gebars het.

Die feit dat Adam Small hier vereer is, en dat ’n voorlesing deur hom uit Klawerjas, waarmee hy sy digterlike swye van langer as ’n dekade beëindig het, deel van die verrigtinge sou wees, asook die verwagte teenwoordigheid van die formidabele Wilma Stockenström, sou beslis as trekpleisters van ’n besonderse aard beskou kon word. Nie om die res van die program en betrokkenes opsy te skuif nie; inteendeel, die samestelling en uitvoering van die Tuin van die Digters-program verdien ’n staande ovasie soortgelyk aan dié wat Adam Small hier in sy grootworddorp ontvang het.

Eerste aan die woord is Hennie Nortjé, wat voorlees uit sy bundel In die skadu van soveel bome (waarmee hy die Eugène Marais-prys gewen het) en die inspirasiebron van hierdie gedigte na aanleiding van skyfies bespreek. Dié man ken duidelik sy bome, en sy bundel dek alles van eike tot die acacia communicata (oftewel die selfoontoringboom). Nortjé se metaforiese gebruik van bome is slim en soms treffend – hy noem dat hy met nabetragting besef dat die bundel meer oor die dood as oor bome handel.


Hennie Nortjé en die bome waaroor hy dit het.

Erns Grundling gesels met Clinton V du Plessis oor laasgenoemde se jongste bundel, Rangeer, en die plaaslike poësielandskap in die breë. Die bundel is opgedra aan Bruce Springsteen en aan Du Plessis se pa. Clinton vertel hoe Bruce Springsteen hom in sy kinderjare met "Hungry Heart" geïnspireer het – hy wat Clinton was, wou ook uit sy omstandighede wegkom en nie terugkyk nie. Die rol van sy pa as inspirasie is eenvoudig te verklaar: deur poësie kan daar verseker word dat die herinnering aan sy pa behoue bly. "For a white man, if something isn't written down, it never happened," las hy skertsend by.

Hy hou nie van "bullshit" nie; volgens hom moet gedigte byna koud en klinies wees. Dit hang wel af van watter doel ’n gedig voor oë het; en met inagname van sý waarskynlike doelstellings maak dié uitspraak tog sin. Hy het ook destyds gedoen wat Nathan Trantraal nou doen, naamlik om uitdagend te wees. So het hy onder andere geweier om in Groot verseboek opgeneem te word en gee hy sy bundels grotendeels eerder self uit.


Clinton V du Plessis en Erns Grundling.

’n Groep dramastudente verbonde aan die Breytenbach Sentrum lewer ’n lekker, vermaaklike opvoering, genaamd Taalportret – Van die Kaap tot die Karoo. Dit sal dié dag nie die laaste keer wees dat die Breytenbach Sentrum sy eie indrukwekkende talent, produkte van sy vele bemagtigende gemeenskapsprojekte, hier ten toon stel nie.


Taalportret – Van die Kaap tot die Karoo.

’n Ander voorbeeld hiervan word in die digters van Leliebloem gevind. Dié produksie is ’n samewerking tussen die Sentrum en die Music Therapy Community Clinic (MTCC), wat musiek en poësie met die oog op terapeutiese uitdrukking by jeugsentrums op die Kaapse Vlakte inspan. Wat hier uitkom, is absoluut rou, eg en roerend. Hier is nie sprake van opgesmukte hoogdrawendheid of oorakademiese interpretasies nie. Hierdie poësie is gesetel in die alledaagse werklikheid wat op ’n praktiese manier toegepas word; dis digkuns as werktuig en nie as versiersel nie.

Adam Small se voorlesing, vir die meeste feesgangers seker die hoogtepunt van die dag, breek aan. Daar is ’n ongelooflike druk van mense. Die Bôrdienghuis Teater kan nie dié magdom mense huisves nie en die tent buite word ook binne oomblikke tot oorlopens gevul. Small word toegejuig wanneer hy die verhoog betree. Die man lyk broos. Nee, eerder net emosioneel. Iets wat met inagname van dié huldeblyk, en die vertraagde amptelike erkenning en waardering oor die algemeen, heel verstaanbaar is. Die feit dat hierdie geleentheid in sy tuisdorp, ’n klipgooi van sy kinderhuis af, plaasvind, maak die hele ervaring waarskynlik besonder persoonlik, plaas die verlede en die pad wat hierdie digter gestap het, van Wellington toe tot Wellington nou, sekerlik vir hom in ’n oorweldigende (en miskien pynlike) perspektief. Alhoewel dit tog ’n viering en ’n blye dag is, voel ek my byna ’n indringer by wat voel soos ’n private, gewyde familiebyeenkoms waar ’n vader terugkyk en bestek opneem van sy lewe, asook dié van bepaalde geliefdes.


Adam en Rosalie Small en Michael le Cordeur.


Adam en Rosalie Small.

Die Tuin van die Digters-program getuig van diversiteit. Die kletsrymer Hemelbesem, ook op sy eie manier ’n geliefde seun van die Boland, is volgende aan die woord, en met sy skerp skertse en vernuftige taaltoertjies kry hy dit reg om die gehoor, van jong aspirantkletsrymers tot jou tipiese feestannie, aan sy lippe te hang. Hy verdien beslis die "edutainer"-bordjie wat hy om sy eie nek hang; dis ’n lekker ou dié, een wat met ’n plan werk. "Alles wat ek doen, is deurdag. As daar stilte is, dan dink mens," lê hy die tatoe op sy voorarm wat "Silence" lees, uit. Hy is baie uitgesproke pro-Afrikaans, ’n taal wat volgens hom oor en verby ras- en kleurgrense strek. "Wat ek probeer oordra, is die sêgoed van ons mense" – en hy bedoel dit nie nét demografies bruin nie.


Hemelbesem in aksie.

Wilma Stockenström se oënskynlike eksterne "tingerigheid" is misleidend; daar is duidelik steeds ’n helse vuur wat in dié vrou brand. Haar voorlesing uit haar jongste bundel, Hierdie mens, is ’n kragtoer. Baie digters is nie goeie voorlesers nie. Stockenström is uiters begaaf in albei hierdie ampte. Die vlaag feesgangers wat na die voorlesing stroom om bundels te koop en te laat teken, dui daarop dat dit nie net ek is wat so dink nie.


Wilma Stockenström lees voor uit Hierdie mens.

Alles in ag genome, kan dié fees nie anders as 'n dawerende sukses beskou word nie. Die program was besonders (en relevant), en die betreklik klein ruimte van die Breytenbach Sentrum is op so 'n manier ingespan dat die groot opkoms poësieliefhebbers op sinvolle wyse geakkommodeer is. Dat dié tuin in volle bloei is, is nie te betwis nie.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top