Tswane was ’n mitiese kaptein

  • 0

Yuri skryf oor sy heimwee en hunkeringe na die Pretoria van sy jeugjare en sluit af paradoksikaal met: “Al verander die naam na Tshwane kan Pretoria nie uit my hart gehaal word nie. Bly dit dieselfde beteken dit dat rassiste hul sin gekry het”.

Nou ek is van mening (en alle aanduidinge is daar dat ek nie verkeerd is nie) dat die oorgrote meerderheid Afrikaners (myself inkluis), ongeag politieke nering, eerder die naam Pretoria behoue graag sou wou hê.

Volgens Yuri se siening en “logika” maak dit nou kwansuis van hulle (en myself) “rassiste”. Inteendeel, die ooglopende “rassiste” vandag is die ANC wat onbillike naamsveranderinge doen suiwer om vir die blanke en veral die Afrikaner te se: “Whe”! Ons kan met julle geskiedenis torring na wense, en daar is fokal wat julle daaromtrent kan doen.” In ‘n vorige brief het Yuri geskryf dat AfriForum arrogant is om naamsverandering teen te staan! Met ander woorde, enige blanke of Afrikaner wat die ANC teestaand is ‘n “rassis”, vermeteld of arrogant! Tsk; Tsk! Is dit hoe logika werk?

Ek kuier tans in Amanzimtoti (Maya, op soek na my boemelaar vriendjie wat ek nog nie weer gekry het nie), en kom gereeld in Durban, die stad van my jeugjare. ‘n Tragiese beeld van ANC se totale uitwissing van die Engelse geskiedenis van die stad. Selfs die Afrikaner in sy “heyday” het hulle geskiedenis respekteer en ongeskonde laat bly. Strate is herbenoem na mense wat nie eers aan die stad in die verlede verbonde was of aan die sogenaamde “struggle” deelgeneem het nie, soos Samora Machel (Mozambique); Che Guavara (Bolivia); Nkruma (Ghana); om net ‘n paar te noem. Edwin Swales VC. Drive is na ‘n obskure persoon herbenoem wat die plaaslike swartes nie eers weet waar hy in die “struggle” gestaan het nie. In teenstelling was Edwin Swales ‘n ge-eerde Suid Afrikaner aan wie die Victoria Cross toegeken was vir sy heldedade gedurende die laaste wereld oorlog. Die gedagte en eer aan hom is suimier uitgewis. Dieselfde geld vir ander plaaslike Engelse helde soos Smith en West waarna die twee hoofstrate van Durban voorheen vernoem was.

Wat wel deur almal aanvaar word, is die benaming van die nuwe lughawe en “water world” na koning Shaka. Dit was nie ‘n vervanging of uitwissing van bestaande name wat vir die plaaslike Engelse emosionele waardes het nie. Daar is ook geen beswaar op die verandering van name van strate wat ‘n neutrale konotasie heet, soos bv. Bereaweg nie. Daar is meer strate in Durban as wat daar “struggle heroes was. Nou sukkel die ANC om genoegsame “struggle heroes” te vind om die oorblywende honderde ongeskonde straatname te herdoop. Miskien begin hulle met nuwe “heroes” soos Malema.

Om terug te kom na Pretoria. Ek glo daar sal nie veel beswaar wees indien strate met neutrale konnotasies herbenaam word nie. Ek persoonlik sou bv. geen beswaar he indien Kerkstraat na Mandela herbenoem word nie, of Soutpansbergstraat herbenoem word nie, maar sal definitief ongelukkig voel indien Krugerstraat, Pretoriusstraat en ander strate na Afrikaner helde vernoem, na “struggle heroes” herbenoem word.

En wie was “Tswane?”. Niemand weet nie. ‘n Mitiese kaptein van ‘n plaaslike stam wat in toeka se tyd om die Apiesrivier sou gewoon het. Hoekom nie eerder “Mzilikazistad” nie na die Matebele opperhoof vernoem wat ‘n ruklank daar vertoef het, voordat hy weer deur koning Shaka na Zimbawe verjaag was, en net voordat die Voortrekkers die lee gebied beset het nie? Die naam “Pretoria” het beslis baie meer ligimititeit as enige ander name.

Jaco Fourie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top