Trompetters

  • 0

Foto: Canva

Trompetters

elke aand lag ek vir die trompetter
wat oor berge en dale aangesweef kom –
oranje-gepoleerde haat in ’n snyerspak
op ’n podium baie hoër as Rede
of enige idee van medemenslikheid
dalk óók met sy vinger in die lug?

bó die konsep van medeplig verhewe
geen kritiek ontstel ’n klipkop-kapitaal,
is maar hoe dit is, altyd reg
trompop die donkerte in –

wat die blonde Bondi
die kitaar laat slaan
en Hegseth en Kennedy
(een, twee, drie misdadigers in ’n ry)
wat soos Bessent, die ou man, Bernie,
se vrae oor ’n moontlike oligargie aflag
vir eers ontduik

want die heil van die lesers
lê vir nou in muskusgeuriges se goddelik-hand
álmal ruik die lont maar niemand (h)erken die nar

in ’n triompsfeer veel verder as wat die oog kan sien
is die troonrower se slurp
veels te kort, te klein
om die geüsurpeerde trompetter
agter makker-Berg en broeder-Bez
te kan verberg

die twee is een:
die grote Donald Ek
’n nuwe wêreld, gek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top