Trimpark

  • 0

Foto: Canva

Trimpark

Ek het die twee nie rêrig geken nie. Ons laerskool was groot, met ses klasse in standerd 5. Die twee meisies wat verdwyn het, was in die Engelse klas. Ons het skaars gemeng. In hul selfgemaakte skooljaarboek op die bladsy gemerk “What will you be when you grow up?” het Faye Mitchell geskryf: “Fashion designer”. Kyra Simms het geantwoord: “Farm veterinarian”. Haar oupa was van Ierland, so daar was altyd ’n moontlikheid dat sy eendag daarnatoe kon terugkeer.

Die dag toe dit gebeur het, was in Februarie 1998, kleuresportdag by die skool. Ek weet die twee se spantema was daai jaar “Tarzan”, met repies vals tiervel aan hul groenspanhemde geheg, want dit was waarvoor ons gesoek het in die Trimpark. 

Faye het aan die bokant van die parkie gebly, saam met haar weduweema. Kyra se meenthuis was daar onder naby die Emmanuel Kerk. Renier Myburgh (hy het dikwels in die groen strook met sy BMX-fiets gery) het die meisies se bruin rugsakke eerste gevind, by die uitlaat van ’n stormwaterpyp. Die bande van Faye se sak is versier in Tipp-Ex, met die lirieke van Third Eye Blind. 

Daai hele buurt dreineer na die Trimpark. Dit is, in ’n sekere sin, ’n ou vallei. Al die reën wat afloop, gaan in die Kuilsrivier, ’n sytak van die Eersterivier, wat dan in die see by Macassar uitspoel. Ek en my pa, Kerneels, was deel van die vrywilligers wat in die aand vir die vermiste Faye en Kyra gesoek het. Ek was ook maar net twaalf jaar oud. Toe die skemer verdwyn, moes ons met flitse voortsoek. Ek was nogals bang. Die donker stormwaterpype, die roep van tarentale wat in die bloekombome wegkruip. ’n Klomp ooms en ’n brigadier van die polisie het om daai ronde, oop drein gestaan en kyk toe Kyra se ouer broer in die pyp opkruip om te soek. Maar hy het niks gevind nie. 

Dit was nou 26 jaar gelede. Ek onthou die kinders by die skool het weke lank gepraat, gewonder. Die grootmense wou nie daaroor praat nie, maar ek kon sien die hele ding het almal in die buurt gepla. Party kinders is maande lank deur hul ouers verbied om in daai deel van die Trimpark te speel. Maar kinders is nuuskierig. Ek het stil gewens ’n storm sou kom wat alles ondergronds sou uitspoel, sodat die ding net kon klaarkom. Maar dit was die verkeerde seisoen. 

Op hoërskool het ’n groep seuns beweer dat hulle Nuwejaarsaand twee Smirnoff Spins in die Trimpark gedrink het, toe hulle die singende stemme van Faye en Kyra hoor. Dit het uit die stormpype weerklink. Ons wou die raaisel oplos, maar kon nie.

Ek moet sê ek het lank nie weer aan die twee meisies gedink nie. Tot eendag in Stellenbosch, in my vierde jaar van siviele ingenieurswese. Die klas het gehandel oor hidrologie. Jy sien, die ontwerpriglyne van die munisipaliteit sê dat wanneer jy ontwikkeling doen, stormwater beheer moet word sodat die water nog steeds die rivier bereik soos voorheen. Vóór die voorstede daar was. Dis baie duur om die landskap te verander. ’n Ontwikkelaar wil ultimately erwe verkoop. En so verdwyn die ou riviere nie rêrig nie. Hulle word verskuil en loop steeds ondergronds. As jy ’n erf plavei, moet die water nog steeds êrens wegsyfer. Ons leef saam met die ingrype van voorstedelike ontwikkelaars. En sedert ek dit studeer het, kyk ek anders na parkies. Dis ’n soort curse, eintlik. Jy kan nie afskakel nie. Sodra jy die naam van iets ken, soos ’n voëltjie, sien jy dit sommer méér raak. Die pypopening waar hulle die meisies se rugsakke gevind het – mens noem dit ’n kasduiker. In Engels is dit ’n portal culvert. 

Ja.

Ek het gister ná werk ’n bietjie met my kind, Sandri, daar in die Trimpark gaan stap, om net te kyk hoe dinge sedertdien verander het. Toe spring daar ’n klomp tarentale oor ’n vibracrete-muur en skarrel na die stormdrein. Ek sê toe vir Sandri: “Weet jy wat noem hulle ’n groep tarentale in Engels? Dis ’n confusion … ’n confusion.”

Sy vra toe: “Waar bly die tarentale, pa?”

“Hulle slaap gewoonlik in die bome,” sê ek. “Maar waar hulle nesmaak, is ek nie seker nie, êrens na aan die grond waar dit veilig is.”

Ons stap langs die oop kanaal. Sy spring so van die een kant na die ander en sing ’n walswysie. “Waarheen gaan die tarentale? Waarheen gaan die tarentale? Waarheen gaan die tarentale?”

Toe ons by die einde van die kanaal kom, waar dit ondergronds gaan, het ons omgedraai en terug kar toe geloop. Maar die tarentale was steeds daar êrens. Ek kon hulle hoor, maar nie sien nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top